Die woorde “Jy sal dit nie maak nie” het by Armand Aucamp vasgesteek…

991
Armand Aucamp

Tussen akteur–wees, ’n kookboek skryf en ’n nuwe besigheid, het ARMAND AUCAMP balans gevind. Sy vermoë om hard te werk en slim met geld te werk is al van kleins af by hom ingeprent.

“Jy sal dit nooit maak nie.” Dié woorde wat ek die eerste keer op hoërskool gehoor het, eggo steeds in my kop.

Drama is nie by my skool aangebied nie en die enigste opsies was om die saksofoon of die klavier in die laerskool se orkes te speel. Ek het by die saal ingeloer en gesien (en gehoor) hoe ander leerders oefen. ’n Begeerte het in my opgewel om ook te probeer.

Vandag jaag die onderwyser se wegjaagwoorde my.

Woorde soos “jy sal dit nie kan doen nie” of “jy is nie goed genoeg nie” het ’n vuur binne-in my aangesteek. Ek wil graag vir dié persoon wys wat in my steek …

Onvoorspelbaarheid is aan die orde van die dag as jy ’n akteur wil word. Sukses kan seker aan ’n mengelmoes van geluk, talent, netwerke en harde werk toegeskryf word. Selfs as jy mense vir raad vra, is daar nie regtig ’n reguit antwoord nie.

Maar ek glo dis tog belangrik dat jy voel jou werk lewer ’n bydrae. Dis lekker om mense te laat voel dinge is moontlik deur hulle met die make believe-fantasiefaktor te vermaak.

Ek het onlangs my ma se joernaal ontdek. Sy het met elke verjaarsdag notas gemaak. Toe ek ses jaar oud was, wou ek óf Superman wees óf ’n akteur word.

In hierdie stadium het ons in Fort Beaufort in die Oos-Kaap gebly. Die maatjies en selfs kerk was in Engels, maar skool was in Afrikaans.

My pa was ’n professor in dié omgewing. Die flieks en inry was ver weg, Port Elizabeth ver. Hy moes eendag ’n konferensie daar bywoon en het vir ons The Lion King-videokasset saamgebring.

Ons het oor en oor die kasset gespeel. Ek en ouboet, Christoff, het later die klank afgedraai om die stemme na te boots.

Ons het ons fantasieë in die televisiekamer uitgeleef en verskeie aksente geoefen. Dan was ek Pumba en dan weer Nala. Simba of Scar is weer meer dramaties uitgebeeld. Dit was groot pret om toneel in ons eie huis te kon speel.

Ons het heeltemal verlore geraak in hierdie animasierolprent. Daardie ontsnapping na ’n ander wêreld het die saadjies geplant van ’n droom om ’n akteur te word.

Dit is dié soort kleintyd-herinneringe wat jou vir altyd sal bybly.

Nog só ’n herinnering, is ons ouers se besluit om vir ’n jaar sabbatsverlof te neem. Ons het vir drie maande met ’n kampeerwa deur Europa getoer. Ek onthou nog steeds – van die geskiedenis tot die geldeenheid. ’n Liefde vir lande en kulture het ontwaak.

Dit is goed om op ’n jong ouderdom te sien dat die wêreld groot is. Soos ’n mens ouer word, kies jy maklik om in die gemak van jou eie bubble te leef. Ag, en dan raak alles so in die alledaagse vasgevang en klein goedjies ontstel jou baie maklik.

Ek het ná skool die geleentheid aangegryp om meer van die wêreld te sien. “Klein Armand” se besluit om later in Engels skool te gaan, het handig te pas gekom.

Danksy harde werk in Engeland het my toer na Viëtnam gerealiseer. Dis waar Christoff gebly het. Met my aankoms in Kambodja sou ek net elke vierde dag ’n draai by ’n internetkafee maak om ’n e-pos huis toe te stuur.

Ai, en om te dink ons is nou so geheg aan kommunikasie, daar kan nie eens vier uur verloop sonder om nie ’n WhatsApp te ontvang nie. Dis aaklig, selfs al gaan jy landuit.

Daai tyd was ’n backpackers  – so twee of drie dollar per nag – my beste opsie. Die kos, taal en duisende poegies was wildvreemd. Dit was ’n reuse, uitheemse belewenis waar ek baie oor reis geleer het.

Die Angkor-tempelkompleks in Kambodja is merkwaardig. Dit is ’n moet sien! Dit is die grootste godsdienstige monument in die wêreld.

Die gids daardie dag was plaaslike outjie, sowat 16 jaar oud. Ons het op die poegie gery en gery, want ons wou graag voor sonsopkoms daar aankom …

Ons het ewe skielik oor ’n bult gery en in die oopte, waar die woud weggekap is, het hierdie reuse, antieke gebou gestaan. Afgeëts teen die son het dit my asem weggeslaan en ek kon die hoendervleis op my lyf voel.

Dit was ’n prentjie wat nie in my gedagtewêreld bestaan het nie. Dit was ’n onwerklike oomblik, een wat my perspektief oor die wêreld geskuif het.

Die skeppingsvermoë van die mens is verstommend. Elke detail van daardie monumente is uitgekerf en met die hand geskilder. Dit het daardie mense jare en jare geneem.

Die blote gedagte aan daardie tydsame proses het my vir ’n oomblik tot stilstand geruk. ’n Mens besin dan weer oor al jou ongeduld oor die klein dinge in die lewe. Jy besef wat moontlik is, en jou wêreld vol onmoontlikhede raak kleiner.

Ná die jaar van werk en toer, het ek my na die groot stad begewe en Kaapstad toe verhuis.

Die Kaap was nie vir my heeltemal onbekend nie. Ons het later in my laerskooljare Stellenbosch toe getrek. Die Kaapse middestad is groot. As student het ek met sterre in my oë na alles gekyk. Hoewel dit groter is as Stellenbosch, was dit op ’n manier ook klein. Dit was moeilik om hegte bande met mense te smee. Dit is waar dat daar sekere klieks bestaan, wat die aanvanklike aanpassing nogal moeilik gemaak het.

Die motivering om te presteer en die beste te wees, het in ’n stadium amper tot my eie uitbranding gelei. As student is ’n mens gretig en pak jy alles aan, miskien omdat jy jouself wil bewys. Ek het gewens ek kon myself in stukke opdeel net om oral betrokke te kon wees. “As ek net kan presteer en die beste kan wees.” Daar was geen balans in my lewe nie. My houding was alles of niks. Tipies die denkwyse van ’n oorpresteerder.

Al wat vandag nog verskil is dat ek nou beter kan onderskei tussen wat belangrik in die lewe is en wat nie.

Dit is goed en wel om dinge te bereik, maar jy moet dit ook kan geniet. Jy moet na jou werk kan kyk en weet dat daar waarde was in die manier hoe jy jou tyd bestee het.

As jy so jonk is, is daar geen omdraaikans nie. Ek is nie eens ’n kans gegun om tou op te gooi nie, daar was te veel besige en moeilike tye.

Johannesburg het my gehelp om meer onafhanklik en volwasse te raak. Die dromerige student het vir iemand anders plek gemaak.

Tog is die Kaap my plek. Dit voel amper soos ’n stuk van Europa aan die kus. Seepunt is om die draai van die middestad, nie eens vyf kilometer weg nie. Deesdae verkies ek om so ver moontlik daarvan [die middestad] weg te bly.

Dalk bring die rustigheid van die see vrede in die siel van die plattelandse jong seun.

’n Hernieude liefde vir Afrikaans het eers ná universiteit begin blom. Rolprentmakers het weer begin om stories in Afrikaans te vertel.

Die hele bedryf, die gehoor en die ondersteuning wat hiermee gepaardgaan, is amazing. Engelse ondersteuning in ons land is meestal vir internasionale projekte.

Dit bly vir my uiters spesiaal om in jou eie taal ondersteuning te kry. Ek twyfel of ek suksesvol sal wees as ’n akteur wat in Engels werk.

Met die skryf van my resepteboek, Armand kook kaal, moes ek met tye hard dink. Ek moet bieg, my Afrikaanse woordeskat is nie so groot nie. My drome en denkprosesse is steeds in Engels. Ek het byvoorbeeld geleer “kale” word “krulkool” en ’n “chickpea” is ’n “keker-ertjie” – dis so mooi. Elke resep het ’n storie. Ek het vry gevoel om die stories in Afrikaans te vertel.

Wanneer dit kom by die verdien van ’n inkomste fokus ek daarop om innoverend te bly. Dit kom lankal nie meer as ’n skok as jy hoor dat akteurs swaarkry nie. Dit is die realiteit.

Dit is vir my baie, baie erg. ’n Mens word omring deur mense in die industrie wat finansieel sukkel. Jy hoor van kollegas met kinders wat nie weet hoe om die maand se huur te betaal nie.

Ek wil myself nooit op daardie plek bevind nie. Werk is skaars en dit het in baie gevalle niks met die persoon te doen nie. Dis belangrik om ’n neseier op te bou. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie.

As 15-jarige tiener het ek in ’n koffiewinkel begin werk. Net ’n maand voor my 16de verjaardag – die wettige ouderdom om te begin werk. My sakgeld was net te min en ’n mens wil mos altyd meer hê. Vandaar die begeerte om iets ekstra te doen.

Dit was bevrydend om op ’n jong ouderdom geld te kan hê. Ek kon goed bekostig wat my nooit beskore sou wees indien ek net met die swembadskoonmaakgeld tevrede was nie. Met my spaargeld kon ek vir my ’n iPod en ’n selfoon koop. Alles in harde kontant.

Selfs tydens my studentejare het ek vir sakgeld gewerk. My ouers het my studies en verblyf betaal. Die res van die uitgawes het ’n geleentheid geskep om ’n inkomste te verdien.

Werk agter die kameras sou sommige maande die pot aan die kook hou.

Een keer moes ek ’n bietjie te lank wag vir die betaling om deur te kom. ’n Mens wag meestal sowat drie maande om die geld te ontvang vir die werk wat jy in die advertensie gedoen het. My begroting was knap en die geld het net nie gematerialiseer nie.

Twee weke het later drie weke geword. Sou die geld ooit kom? Ek het my laaste R350 getrek en moes tot my skaamte die eerste keer in jare my ouers vir geld vra.

Ag, en terwyl ek die “geleende” geld trek, is my betaling gedeponeer. Dit was ’n groot verligting. Ek wil nooit weer daardie angs voel nie. Dit was ’n duur les …

My ouers het later die akademie verlaat en die besigheidswêreld betree. Hulle het vir ons soveel geleer. Soos die spanning wat met so ’n skuif gepaardgaan.

Daarom is die woorde “nee, want dit is ’n moeilike maand,” nie vir my vreemd nie. Hierdie begrip is van kleins af by my ingeprent. Jy moet weet wanneer om die krane toe te draai. Dis nie toevallig dat boekhou en rekeningkunde van my gunstelingvakke was nie. Ek het oorweeg om BCom te studeer, maar ek het gelukkig daar teen besluit.

Die vryskutlewe kan met tye moeilik wees. Daar is besige seisoene, maar daar bestaan beslis droë seisoene.

Ongelukkig is ’n akteur altyd aan iemand anders se “ja” of “nee” uitgelewer. Daaraan is ek nou al vir 13 jaar gewoond.

’n Mens jaag deur die lewe, net om iets te bereik. En sodra jy daardie iets bereik, is jou oog reeds op die volgende geleentheid.

Daarom is dit vir my belangrik om asem te haal, stil te raak en om in elke oomblik teenwoordig te wees.

Ná die skryf van die kookboek, het ander geleenthede ook opgeduik. Geleenthede om op te tree en te vermaak. ’n Vennootskap het ontstaan waar ons ander dinge benewens die boek aangepak het. Dit was iets meer formeel, maar het nog steeds met die koswêreld te doen …

’n Ander projek wat ver verwyderd van die kos- en vermaakbedryf is het ook die lig gesien. Ek het saam met twee ander vennote ’n digitale besigheid begin.

Dit is so lekker om ’n gedeelte van jou loopbaan in jou hande te kan neem. As akteur sal ek die geleenthede aangryp solank as wat hulle opduik.

Dit is bevrydend om ander dinge wat ook stimulerend is, aan te pak. Die avonturier in my sal nooit ophou om nuwe dinge te ontdek nie.