As armoede by die deur instap…

“As armoede by die deur instap, vlieg liefde by die venster uit” is ‘n gesegde wat gereeld in ligte luim gebruik word.

Die harde werklikheid is egter dat geld intense spanning in baie verhoudings veroorsaak. Selfs gedurende die maand van die liefde, kan liefde nie altyd die druk wat deur geld veroorsaak word oorbrug nie. Geld het ‘n direkte impak op verhoudings. Wat kan jy doen om die druk wat finansies in jou verhouding veroorsaak te verminder?

Vir diegene wat nie getroud is nie, dis belangrik om ag te slaan op die huweliksvoorwaardes waarmee jy in die huwelik tree. Tydens die ‘verlief en verlore’ stadium glo almal hulle huwelik gaan vir altyd hou, maar die hoë egskeidingsyfer bewys die teendeel. Jy wil nie jare later met ‘n gebroke hart en boonop ‘n swaar skuldlas sit omdat jy die verkeerde voor-huwelikse besluite rakende finansies geneem het nie.

Praat openlik oor finansies en maak seker dat jy weet wat in mekaar se geldsake aangaan. Die dood is ‘n aaklige ervaring wat niemand graag in die gesig wil staar nie, maar dis ongelukkig ‘n harde realiteit. Dit gebeur dikwels dat die oorlewende eggenoot in chaos of groot geldnood gedompel word wanneer die ander eggenoot iets oorkom. Niemand wil nog met die las van finansiële druk of onkundigheid oor die ander se geldsake gekonfronteer word tydens ‘n tydperk van verlies en rou nie. Daarom is dit noodsaaklik dat julle wel apparte bankrekeninge ook het. Dis algemene gebruik dat die oorledene se bankrekening gevries word na afterwe en baie families sit in die knyp as hulle nie toegang tot fondse het nie.

Kom ook ooreen dat julle, julle kinders positiewe beginsels oor geld sal leer. Goeie finansiële kennis en dissipline is die beste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee. Stel finansiële doelwitte gesamentlik op as ‘n familie. As almal weet waarheen julle oppad is en deel is van die reis, gaan min dinge in julle pad staan om julle finansiële doelwitte te bereik. Mag jy liefde in oorvloed uitdeel en ontvang tydens die maand van die liefde. Mag jy ook enige struikelblokke wat deur geld veroorsaak word te bowe kom deur openlik met jou geliefde te gesels daaroor.

Vorige artikel‘n Slaappil en baie liefde
Volgende artikelLiefde in aksie 24/7/365!
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.