Hoe kan ek my emosies beheer?

1093

Die meeste van ons bestee baie tyd en energie daaraan om ons emosies te ontken, te onderdruk of op die verkeerde manier uiting daaraan te gee. Moenie toelaat dat jou emosies jou beheer nie, maar beheer jy jou emosies!

Lesersvraag…

“My emosies ry geweldig wipplank, dit voel vir my of ek gaan mal word. Dis asof ek net nie my gevoelens kan reguleer nie. Ek voel in die oggend redelik oukei – selfs goed – en dan skielik kry ek ’n uitbarsting in ’n situasie of ek is op die rand van trane en niks gaan ooit beter wees nie.”

SESSIE 1

Moenie dat jou emosies jou  bestuur nie

Baie mense is emosioneel op ’n afdraande pad. Dit kom na vore in dinge soos woedeuitbarstings, angsaanvalle, spanningshoofpyne, verslawing en ’n swak selfbeeld.

Dalk is jou mense bang vir jou, want een skewe woord en jy ontplof.

Jy ken die woede in jou hart, maar ook die vrees. Die skuldgevoelens wat aan jou knaag. Die moedeloosheid. Die negatiewe gedagtes wat jou snags ry as jy moet slaap.

Dalk het jou pyn jou anker geword. En jy klou verbete vas, want jy weet nie meer wat dit is om gelukkig te wees nie.

Baie mense laat toe dat hulle emosies hulle lewe heeltemal oorneem. As dít gebeur, sal jy jou visie vir die toekoms en jou drome uit die oog verloor.

Wie en wat jy vandag is, is die gevolg van besluite wat jy geneem het toe jy deur emosies beïnvloed is. Waar jy oor ’n maand of ’n jaar van nou af gaan wees, sal ook gedryf wees deur die emosionele keuses wat jy nou gaan maak.

SESSIE 2

Ongesonde  emosies steel  jou krag

Wanneer jou emosies beheer oor jou neem, verloor jy die beheer oor jou lewe. Die gif wat daaruit syfer, gaan nie net jou eie lewe nie, maar almal rondom jou s’n verpes.

Jou emosies gaan op hol om ’n verskeidenheid redes, soos dat jou man jou verlaat het of jou vrou jou verkul het. Omdat jy fisies, verbaal, seksueel of emosioneel geboelie en misbruik is.

Jy het dalk ’n finansiële verlies gely of jy is onregverdig behandel of vals beskuldig. Jy is dalk onbillik ontslaan. Mense vertel miskien vir jou leuens of versprei onwaarhede oor jou.

Negatiewe emosies soos haat, bitterheid, jaloesie, wrokkigheid en nydigheid is jou vyande omdat dit jou hele lewe kan vernietig. Dit het die mag om jou aan jou bitterheid en wrokke vas te boei.

Emosionele pyn is ’n dodelike toestand. Dit is ’n wapen wat die duiwel graag gebruik om jou te verlam en te vernietig en as hy kan, jou dood te veroorsaak.

Jy moet vandag ’n lewensreddende besluit neem om hierdie dinge te laat gaan. “Just let it go!” Die heel beste wat jy met hierdie pyn kan doen, is om dit in God se hande oor te gee.

SESSIE 3

Jy moet besef  waar jou emosies  vandaan kom

Dis belangrik om te verstaan hoekom ons so sukkel om ons emosies te beheer en hoekom ons soms ekstra hulp nodig het om ons gebroke emosies te herstel.

Die menslike brein is ongelooflik kompleks. Dit bestaan basies uit drie dele: die agterbrein, die middelbrein en die voorbrein.

Die agterbrein beheer jou asemhaling, hartklop, slaap en ander primitiewe reaksies.

Die voorbrein bestaan grotendeels uit die serebrale korteks. Hierdie gedeelte is gemoeid met die verwerking van inligting, leer en om dinge te beoordeel.

Die gedeelte wat die middelbrein genoem word, beheer jou emosies. Die frontale lob in die voorbrein gee wel vir ons die vermoë om rasioneel te dink en te kies hoe ons gaan optree. Dit verhoed egter nie dat die primitiewe deel van die brein nog steeds baie kragtig is nie.

Dit móét so wees, want dit is nodig vir oorlewing. Jou brein sal dus vir jou vertel daar is gevaar en jou liggaam sal dan daarop reageer. Hierdie bedreiging aktiveer die agterbrein of primitiewe brein.

Emosies soos woede en vrees, wat op bedreiging gebaseer is, is ontwerp om vinnig opgewek te word en om selfs ander, positiewe emosies te onderdruk.

SESSIE 4

Jy kan iets  aan jou negatiewe  emosies doen

As jy eers verstaan hoe jou emosies werk, sal jy iets daaraan kan begin doen. En dan kan jy tot tien tel en eers dink voor jy doen.

Jou gedagtes is ongelooflik belangrik, want jou gevoelens word grotendeels beïnvloed deur hoe jy dink.

As jy bang en kwaad is, sal jy mos bang en kwaai gedagtes dink. Hierdie negatiewe gevoelens kweek nog negatiewe gedagtes en ’n bose kringloop ontstaan.

So, wanneer jy die emosie voel, moenie daaraan toegee nie. Jy hoef nie lam in die bene te word nie en jy hoef nie te begin sweet by die gedagte aan wat voorlê nie.

Hoe doen ’n mens dit? Die oplossing lê nie in die afwesigheid van die gevoel nie, maar in die beheer van die gevoel.

Onthou, vrees is slegs ’n gedagte. Jy kan ’n meer positiewe gedagte bo hierdie negatiewe een kies.

Jy kán negatiewe en destruktiewe gedagtes vermy en kies wat jy wil dink. Jy moet elke dag doelbewus kies (en selfs met jouself raas!) om die effek en houvas van negatiewe gedagtes te oorwin.

SESSIE 5

Word genees  van ongesonde  emosies

Genesing van ongesonde emosies is nie noodwendig ’n punt wat jy bereik nie. Jy word nie op ’n dag wakker en voel asof jy nou oor alles gekom het nie.

Genesing vind stap vir stap plaas deur elke klein doelbewuste besluit wat ons elke dag moet neem.

Ek het eendag gehoor van ’n seuntjie wat sy knie geskraap het. Sy mamma het ’n verband om die knie gebind. Elke keer as daar gaste gekom het, het hy natuurlik geblom onder al die aandag wanneer hy die verband kon afhaal en sy wond kon wys.

Die probleem is egter dat hy die genesingsproses vertraag het deur die seerplek elke keer weer oop te maak.

Net so sal jy nie gesond word as jy onophoudelik met woede, hartseer of selfbejammering die hele situasie herleef nie. Jy sal nooit gesond word as jy elke dag die “rofie” aftrek nie.

Neem beheer oor jou gedagtes en dwing jouself om positiewe gedagtes te dink sodat die ander geneutraliseer kan word.

Liefde en geloof is al wat jou hierdie stryd gaan laat wen.

Skool van die lewe, deur verhoudingskenner Lynette Beer

Volg ook Lynette Beer se #3MinuteSelfhelp-REEKS, kliek hier.