Hoekom voel ek nooit goed genoeg nie?

434
goed genoeg

Dit voel asof alles wat jy doen, onder ’n mikroskoop geplaas word, dat jy altyd dopgehou word, gedurig gekritiseer word. Jy gee en gee, maar selfs jou beste voel nie goed genoeg nie. Hoe stel jy ander ooit tevrede?

Lesersvraag…
“Dit voel vir my asof ek nie goed genoeg is vir my man en kinders nie. Ek probeer elke dag my bes doen en elke aand voel ek asof ek hulle in die steek gelaat het. Ek blaai deur Facebook en vergelyk myself, hoe ek lyk, met ander mense en dan voel dit vir my of so baie dinge kortkom. Ek sukkel regtig om vertroue te hê in wie ek is.”

SESSIE 1

Weet jy wie JY is?

Ons definieer onsself te maklik volgens beroep, verhoudingstatus of waar ons bly. Tog is dit alles goed wat in ’n oogwink van ons af weggeneem kan word.

Wie sê jy is jy? Sonder dat jou beroep, lewensmaat, kinders of selfs jou kerk definieer wie jy is.

Onthou, jy is ’n individu met ’n temperament, karakter en persoonlikheid. Jy leef nie toevallig vandag in hierdie land nie. Jy is ook nie ’n fout, ’n glips of ’n probleem nie.

Jy het ’n doel op aarde, maar om dit te kan verwesenlik, moet jy eers jouself leer ken, vertrou en liefhê.

Raak ontslae van die maskers in jou lewe. Streef jou eie drome na en hou op om jouself met ander te vergelyk.

Kyk elke dag in die spieël en sê: “Ek is oukei. Ja, ek het foute, ja, ek werk daaraan, maar ek wil, ek sal en ek gaan myself ontdek vir wie EK is en nooit moed opgee nie.”

SESSIE 2

Los al die emosionele bagasie

Om werklik gelukkig te wees en om jou volle potensiaal te kan bereik, kan jy nie onnodige bagasie saamsleep nie.

Nou dat jy weet wie jy is, is dit tyd om te kyk wat jy met jou saamdra op hierdie reis. Dis nou daardie tasse vol van gister se pyn, lyding en opgekropte emosies.

Wat verby is, is verby. Jy sal dit moet los. Die beste ding wat jy vir jouself kan doen, is om daardie tasse oop te maak, die emosies daarin te bekyk en dan tot aksie oor te gaan.

Is jy steeds kwaad vir ’n laerskoolonderwyseres wat gesê het jy is dom? Wat van die verskriklike seer wat jy in jou ronddra omdat jou man jou verkul het?

Dis tyd om te vergewe. Vergifnis maak gesond. Kwaad wees, gebelgd voel en heeltyd aan seerkry dink, belemmer net een persoon – jouself!

Maar wat as jou swaarste tas ’n klomp skuldgevoelens bevat? God is groter as jou verlede en teleurstellings. Vul jou hart met hoop en fokus op nuwe geleenthede!

Hou wel in gedagte dat dit ’n proses is – moenie oornag wonderwerke verwag nie. Maar moet ook nooit net opgee nie.

SESSIE 3

Sê nou ek is nie goed genoeg nie

Dis nie verkeerd om soms bang te wees nie, maar jy hoef nie toe te gee aan die verlammende effek wat dit tot gevolg het nie.

Onthou jy toe jy nog op skool was en dit was eksamentyd. Jy het gestudeer tot dit gevoel het asof jy alles in jou slaap kon opsê. Dan stap jy by die eksamenlokaal in en skielik dink jy paniekbevange: “Ek kan niks onthou nie!”

Hoe het jy dit oorbrug? Wel, jy het maar ingegaan, diep asemgehaal en die eksamen aangevat. Dis presies wat jy ook nou moet doen terwyl jy besig is om jou lewe vlerke te gee.

Almal weet verandering is deel van die lewe, tog sukkel baie van ons om daarby aan te pas. Wat as ek nie goed genoeg is nie? Wat as ek my woorde vergeet? As ek nie die projek kan voltooi nie?

Dis dan dat die gesegde “fake it till you make it” inskop. Doen wat jy moet doen! Onthou wie jy is. Weet waartoe jy in staat is.

SESSIE 4

Foute en mislukkings op jou pad

Almal maak foute. Om die waarheid te sê, mislukking en sukses is twee kante van dieselfde muntstuk. Geen mens kan sonder mislukkings sukses behaal nie.

Foute en mislukkings is mos nou nie iets waaroor ons graag praat nie, tog is dit ook nie iets wat jy kan ontduik nie.

Verkeerde besluite word geneem en soms werk dinge nie uit soos dit moet nie. Dit gebeur. Dis die lewe.

Wat belangrik is, is hoe jy daarop reageer. Gaan jy in jou hoekie sit en huil en nooit weer wil probeer nie, of gaan jy daaruit leer, jou fout erken, opstaan en aangaan?

Moenie soos ’n strandbal wees wat lig en vrolik deur die lewe bons, maar met die geringste doring of klip stukkend gesteek word en dan leweloos bly lê nie. Wees soos ’n muurbalballetjie: dit maak nie saak hoe hard jy dit teen die muur moker nie, dit hop altyd weer met groter spoed terug.

Gebruik jou terugslae tot jou voordeel. Leer daaruit en gaan aan. Jy weet mos wie jy is!

SESSIE 5

Verander jou denke, verander jou lewe

Wat is een van die belangrikste eienskappe wat jy moet hê om jou volle potensiaal te leef? Jy moet die krag ontdek wat daar in jou gedagtes en woorde is.

Jou lewe sal altyd die produk van jou gedagtes wees. Jou gedagtes is soos ’n magneet. Ons trek die dinge aan waaraan ons die meeste dink. Indien jy positiewe, gelukkige gedagtes dink, sal jy ander positiewe en gelukkige mense na jou toe aantrek.

Jy kan kies wat jy dink en hoe jy dink. Dalk het jy in die gewoonte verval om negatiewe goed te dink en negatief met jouself te praat. Die goeie nuus is, jy kan dit verander!

Een van die grootste geheime tot positiewe gedagtes is dankbaarheid. Ons moet harte hê wat oorloop van dankbaarheid, want dan sal ons minder dink wat alles verkeerd is.

Jy moet doelbewus kies om positief te dink en met ’n dankbare hart die lewe aan te pak. Probeer dit en kyk hoe verander jou uitkyk op die lewe.

Positiewe gedagtes kos niks, maar kan lewensverrykende gevolge hê!

Skool van die lewe, deur verhoudingskenner Lynette Beer

Volg ook Lynette Beer se #3MinuteSelfhelp-REEKS, kliek hier.