Annél Strydom: “Ons tweede baba het ’n doodsvonnis gekry”

249
hoopstories

WAT VERTEL VAN GOD SE OMGEE … Daar op jou siekbed, langs ’n oop graf, wanneer jy jou werk verloor of wanneer mense jou in die steek laat … Moenie moed opgee nie, jy sál anderkant uitkom want Hy dra jou, getuig gewone, onbekende mense én bekendes!

“Ons tweede baba het ’n doodsvonnis gekry”

Enkele oomblikke tevore was Esti se ogies nog helder wakker. Ek het haar gevoed, gebad, haar fluweelsagte asempie teen my wang gevoel. Sy was perfek, behalwe vir haar hartjie.

Die verwagting wat ons van ons tweede meisiekind gehad het, was onbeskryflik groot. Toe ek twintig weke swanger was, het die dokter opgemerk dat Esti ’n baie ernstige graad van hipoplastiese linkerhartsindroom (HLHS) het. Hy het aanbeveel dat ons die swangerskap beëindig.

Hoe kon ons? ’n Paar maande tevore is ons eerste dogtertjie, Anika, met spina bifida gebore.

“Haar rugmurg steek deur haar werwels en dit het haar senuwees beskadig,” verduidelik die dokter. “Sy sal nie kan rol, sit, kruip, staan of loop nie. En sy gaan intellektueel agter wees.”

Hoe kan dit wees? Toegedraai in haar pienk kombersie lyk sy so perfek – die engeltjie vir wie ons so lank gewag het. Ek wou haar toevou. Haar wegsteek vir die pyn van die lewe.

Ek wou ’n normale lewe vir haar hê – een waarin sy kan hardloop, speel en dogtertjie wees. Maar haar eerste nege maande was gevul met pyn en operasies – tien keer in die operasieteater, om presies te wees.

Deur die harwar van hospitale en diagnoses en met gebedsverhoring was daar tog eendag goeie nuus – ons was weer swanger!

Maar ons tweede baba het ’n doodsvonnis gekry. Haar hartjie was so swak dat sy net ’n paar uur na geboorte sou leef.

Ek wou dit nie glo nie. Hoekom sal die Here dit doen?

Ons het nie besef dat Esti se stamselle die belofte van selvernuwing inhou nie. Daar is talle gevalle waar spina bifida-kindertjies se lewenskwaliteit aansienlik verbeter het na stamselbehandeling. En daar, in die donker hartseer, was daar weer hoop.

Ek wou die oggend van Esti se geboorte uitstel.

“Mamma en Pappa is oneindig lief vir jou, Esti,” het ek oor en oor gefluister terwyl haar handjie om my vinger gekrul het.

Maar toe begin sy ly. Sy het moeiliker begin asemhaal en blou geword. “Here, vat haar, asseblief.” My gebed het my geskok, maar dit was so eg. Dit het uit die seerste hartkamer gekom, daar waar ons liefde vir haar so sterk was dat ons haar nie so kon sien ly nie.

Esti het ’n lewende geskenk vir Anika agtergelaat – hoop. En al het hulle mekaar net vir ’n oomblik ontmoet, sal Anika vir ewig aan haar sussie verbind wees.

Ons mis Esti elke dag. Ons wonder hoe sy nou sou gelyk het en hoe anders ons lewens kon gewees het. Maar ons het besluit om God se hand raak te sien.

– ANNÉL STRYDOM Blogger by The Unconventional Family

Vorige artikelMoet Christene dan altyd gelukkig wees?
Volgende artikel[PODSENDING] Verander jou liggaam, siel en gees