Andriëtte Norman: “Ek het geleer dis oukei om nie perfek te wees nie” [DEEL 1]

229

Sy het die stem, die man, die kinders, die loopbaan … vir baie mense lyk ANDRIËTTE NORMAN se lewe baie na aan perfek, maar dis die uitdagings wat sy die meeste waardeer.

Dit was een oggend in ’n winkelsentrum. Platsak, met skaars ’n sent in die bank. Ek het my verkyk aan alles wat mooi is, en toe besef: “In hierdie stadium kan ek niks hiervan bekostig nie.”

’n Vrou in een van die klerewinkels het so terloops ’n onskuldige opmerking gemaak: “Jy kan mos eintlik ’n hele winkel soos hierdie koop …” Bedoelende dat ’n mens outomaties baie geld maak as jy in die openbare oog is.

Dit het my amper hardop laat lag. As sy maar net geweet het.

Dis interessant hoe groot mense se wanpersepsies kan wees. Dit was kort ná my stembandoperasie, wat beteken het daar was geen optredes en dus geen inkomste nie.

Net omdat alles perfek lyk op ’n afstand, sien hulle ’n ideale prentjie van ’n sprokieslewe sonder enige moeilikheid of uitdagings. Mense dink dit gaan net goed, maar dis nie waar nie.

My lewe ís in vele opsigte wonderlik, maar dis ver van perfek af. Daar is talle krisisse waardeur ek al moes worstel. Tye wat ek hartseer, bang en onseker gevoel het. Oomblikke van huil en bekommerd wees.

Nes enige ander vrou en ma.

Die ding is, ek kom nogal hard voor. Kalm en sterk, asof die lewe uitgepluis is, maar eintlik is ek sag en sensitief. Iemand wat diep dink en diep voel.

Die afgelope twee jaar was ’n besondere groot uitdaging, maar ook ’n goeie leerskool wat my sterker en wyser gemaak het.

’n Herstel-periode wat slegs ’n paar weke moes duur, het veel langer gevat. ’n Tyd waarin daar geleer is hoe om teleurstelling te hanteer, terugslae te oorkom, geduld te kweek en te ontdek wat dit beteken om deur te druk; al voel opgee na die enigste uitweg.

Dit het ’n paar keer gebeur. My stem was ná die operasie net nie meer dieselfde nie. Die moeilike note het nie meer so maklik gekom nie. Party was selfs vals, daar op die verhoog voor ’n skare mense. Eers die angs – “gaan dit vanaand weer gebeur?” En dan die skaamte en vernedering wanneer dit wél gebeur.

Ek het telkens gewens die verhoog kon my op die plek insluk. Of om net te kon afstap en uitstap, sonder om enigiemand in die oë te kyk. Dit verg soveel voorbereiding, ’n mens gee jou alles … maar dan kom daar ’n vals noot uit, en van daar af gaan dit net afdraande.

Ná ’n paar sulke probeerslae was dit veiliger om eerder alle optredes te staak.

Dit was ’n baie hartseer, traumatiese tyd. ’n Mens dink jy gaan nooit weer kan sing nie. ’n Groot liefde en passie, vir altyd verlore.

Maar dan verras die lewe jou en gebeur die deurbraak op ’n onverwagse manier.

Vir my het dit met ’n keuse begin. ’n Wilsbesluit om nie te gaan lê nie, maak nie saak hoe moeilik of wanhopig die situasie voel nie. Net soos wat atlete hulle talent moet oefen om te verbeter, was my talent nie net ’n gegewe nie; dit het ekstra aandag nodig gehad.

Sangopleiding het gevolg, en ure en ure se oefen. Baie lag en baie trane. Hoop en ontnugtering. Tye wat daar ’n opflikkering was van dit wat ek voorheen met my stem kon regkry, gevolg deur teleurstelling wanneer dit my weer ontglip.

Uiteindelik, ná maande se geswoeg, het ek besluit om net ’n bietjie terug te staan en oor die situasie te ontspan. As dinge nooit weer soos voorheen gaan wees nie, is dit ook reg. Ek sal steeds die beste doen met wat ek (oor) het.

So gaan ek en my man, Glynn, toe vir ’n paar dae om te gaan rus, en daar – in die saamwees – het dit net spontaan gebeur. So tussendeur die takies in die huis het ek oudergewoonte gesing, sommer vir die lekker. En in daardie lekker, gebeur dit toe. Die note wat so moeilik geword het om te sing, was skielik weer binne my bereik!

Skok, verligting, blydskap, dankbaarheid … daar het soveel emosies oor my gespoel. Dit wat verlore was, is weer gevind.

Ook die besef dat ek myself vir baie lank onderskat het. Nooit gedink het ek is so sterk nie. Dit was nog altyd makliker om op te gee as om deur te druk. Maar hierdie keer was dit aanhou en volhou, end-uit. Dit was elke traan werd.

My selfvertroue het ook stelselmatig herstel. Deesdae is dit ’n voorreg om te weet ek kan op ’n verhoog staan en alles gee, sonder die angs dat my stem my in die steek gaan laat.

Die lewe is eintlik so ongelooflik. Hoe meer ’n mens insit, hoe meer kry jy uit. Hoe groter die uitdagings, hoe meer bevredigend die oorwinnings. Dis wanneer jy terughou, wat die lewe ’n las raak.

Selfs met die Covid-19-inperking het dit duidelik geword. Ek en Glynn werk albei vir onsself; dus, as daar nie gewerk word nie, kom daar nie geld in nie. Dit was ’n nuwe uitdaging wat my aangespoor om in te spring en bemagtig te word. Om nuwe vaardighede aan te leer sodat ek steeds kon werk, al is dit op ’n nuwe platform.

Dit was ’n trotse oomblik om self die beligting en klank vir my eerste aanlyn vertoning te kon behartig. Selfs Glynn was beïndruk.

Ek dink dis iets wat ek by my pa geërf het; hierdie praktiese benadering tot die lewe. Om iets van alles te kan doen, of ten minste te probeer.

By die huis sal ek nie skroom om ’n boor te vat en ’n rakkie teen die muur te installeer nie. Ook nie om ’n hamer en spykers te gaan haal en ’n paar foto’s op te hang nie. Sulke praktiese goed intimideer my glad nie.

Aan die ander kant is my innerlike menswees van nature broos, maar ek het geleer dat dit nie iets is wat weggesteek of beskerm moet word nie. Ek moet dit net anders hanteer. Juis die innerlike uitdagings tromp-op loop, want dit maak van jou ’n beter en sterker mens.

Daar is ’n klomp dinge in die lewe wat my uitdaag om te groei.

Soos die huwelik. Eers moes ek aangeleer het hoe om kompromieë aan te gaan. Ná jare se alleen bly, raak ’n mens baie selfstandig – met al jou eie dingetjies en maniertjies van doen. Dan is dit ’n groot aanpassing om skielik jou persoonlike ruimte met iemand anders te deel.

Stil wees en alleentyd was voorheen baie belangrik; die luukse om sommer net vir ’n uur of wat alleen op ’n bank te kan sit en te dink. Maar nou is daar skielik nog ’n mens om in ag te neem.

Ek en Glynn moes ook leer hoe om doeltreffend te kommunikeer; om tyd vir praat én luister te maak.

Om die dingetjies wat pla nie net opsy te skuif of te ignoreer, en dan te hoop dit kom vanself reg nie. Daar is ook soms ’n wedersydse hardkoppigheid. Sukkel ons nie maar almal daarmee nie? Dis moeilik om te erken as ’n mens verkeerd is, maar ek het agtergekom dis nie regtig so erg om jammer te sê nie!

Dis eintlik bevrydend om net oor ’n ding te kom, verskoning te vra en aan te gaan. Wie wil nou heeltyd in ’n suur gesig vaskyk? ’n Huwelik is harde werk, en met tyd kom ’n mens oor jouself en dan raak alles makliker en beter.

Met ma-wees was daar ook gou die besef dat daar geen plek vir selfsug is nie. Dit gaan nie meer oor wat ék wil hê nie, maar oor wat vir ons kinders en die gesin die beste gaan wees.

Ek is mal oor my rol as ma, en het gelukkig ’n fantastiese voorbeeld om na op te sien. My ma het ons met liefde versmoor. As ek en my broer wakker geword het, was sy reeds daar, besig om ons te soen en te druk.

Ek doen dieselfde met my kindertjies – heeldag besig om hulle op te “vry”, want liefde is eintlik die antwoord op alles.

Die oorskakel van ma na vrouwees gebeur soms ’n bietjie moeiliker, veral as daar heeltyd ’n kleintjie op my skoot kom sit. Dit vat ’n goeie halfuur om uit my ma-boksie te klim en al my aandag aan my man te gee, maar dis ook iets wat beter raak.