Dít inspireer my! (Leah)

98

WAT MY GELIEFD LAAT VOEL IS …
is mense se opregte, lang drukkies. Noudat ons almal mekaar nie eintlik meer mag druk nie, sien ek baie uit na die dag om dit weer te kan ervaar.

EK WORD GEÏNSPIREER DEUR …
iemand wat bo hulle omstandighede uitstyg en sukses behaal. Innoverende mense wat die beste van ’n slegte saak maak; wat strewe na beter.

OM MY KREATIWITEIT TE PRIKKEL …
hoef jy net vir my musiek te gee wat my hartsnare roer. Iemand wat op die straat staan en kitaar speel … Enige note is wonderlik. Of wys vir my iets mooi – blomme of ’n mooi uitsig.

EK ONTSPAN DEUR …
vir die see te staar, met my geliefdes rondom my. Dis ook ’n groot bederf om met ’n goeie boek in ’n lekker warm bad te lê.

MY BESTE SELF KOM NA VORE WANNEER …
ek tydens ’n vertoning gemaklik raak op die verhoog. Dit gebeur wanneer ek kan aanvoel die gehoor aanvaar my, en ons kuier lekker saam.

MY IDEE VAN VAKANSIE IS …
om my selfoon te kan afsit. Dit gebeur min (en ek hou dit aangeskakel om foto’s te neem), maar dit moet afgeskakel word sodat my gedagtes kan afskakel.

EK IS OP MY GELUKKIGSTE …
wanneer ek lekker kan eet, goeie rooi wyn kan drink en samesyn kan geniet. Ook ’n vol teater by ’n optrede, en om terug te kan kyk na ’n besige dag en te weet: dit was die moeite werd!

EK BEWONDER MENSE WAT …
ten spyte van min slaap, steeds alles met ekstra energie aanpak. Ek is baie lief vir slaap en sukkel om goed te funksioneer daarsonder.

Vorige artikelHOE OM … jou swakpunte te erken
Volgende artikelZoë Brown: “Leer uit die lewe se draaie”