Dít inspireer my! (Lindie Strydom)

142

WAT MY GELIEFD LAAT VOEL IS …
my kinders se woorde van waardering. Die briefie op die rekenaar as ek vroegoggend kom werk, die drukkie voor slaaptyd of die vinnige “lief vir mamma” voor ’n atletiekoefening. Dis woorde wat my dag maak.

EK WORD GEÏNSPIREER DEUR …
God se werk in mense se lewens. Met my werk in die gemeenskap, is dit ’n voorreg om mooi mense se mooi stories te vertel. Mense wat ten spyte van, en te midde van soveel uitdagings, dankbaar, hoopvol en positief leef.

OM KREATIWITEIT TE PRIKKEL …
sal ek gaan draf of met ’n wit bladsy gaan sit om te dinkskrum saam met die Here. Ek het in die afgelope twee jaar geleer hoe die beweeg van my bene werklik die beweeg van gedagtes en kreatiwiteit losmaak.

EK ONTSPAN DEUR …
te gaan draf, musiek te luister of ’n Netflix-reeks saam met my man te kyk. Noudat ek naby aan die see woon, is dit ’n vermoë om elke dag af te gaan strand toe. Ek wil hierdie voorreg nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.

MY BESTE SELF IS WANNEER …
ek elke dag tyd saam met die Here spandeer, of ’n stukkie kan skryf oor wat ek leer, sien en beleef wanneer ek draf. Die konstantheid van hierdie dinge is vir my belangriker as hoe lank ek dit doen. Eerder elke dag ’n bietjie.

MY IDEE VAN VAKANSIE IS …
die breek van die einste roetine wat ’n mens se lewe so mooi op koers hou! Ek hou van ’n bekende ritme, maar dit moet ’n mens nie doodsmoor nie. Daarom geniet ek ook variasie en verandering.

DIT MAAK MY GELUKKIG …
om met dankbaarheid te leef. Met ’n dankie in jou hart is dit ook makliker om sagmoedig te wees (wat niks met swakheid te doen het nie!). Die eintlike betekenis is strength under control – en dis ’n kragtige reaksie.

DIE GROOTSTE BEDERF IS …
tyd saam as ’n gesin. Of dit koffiedrink by die mall is, ’n staproete teen ’n berg uit, of ons al vyf iewers op toer. Daardie saamgiggel oor die oats en blikkies tuna wat saamgevlieg word om geld te spaar.

Vorige artikelVerstaan jou kinders beter!
Volgende artikelWat die bybel sê oor … mislukking