Dít inspireer my! (Marciel Hopkins)

61

DIE BESTE MANIER OM MY DAG TE BEGIN …
is met ’n lekker koppie koffie in die hand, en Krummels my kat wat langs my in die sonnetjie opgekrul lê. ’n Vredevolle oomblik.

’N KLEIN GEBAAR WAT ’N GROOT IMPAK MAAK …
is wanneer mense die goeie maniere het om dankie te sê. Die moeite doen om jou pogings, jou gevoelens, of sommer net jou selfoonboodskap te erken.

EK VOEL LEWENDIG …
in daardie laaste paar sekondes voor hulle “aksie” op stel sê. Die adrenalien stroom deur ’n mens se lyf wanneer alles skielik stil raak en jy weet: “Nóú moet ek my beste gee.”

MY IDEE VAN ONTSPAN IS …
om, sonder enige verpligtinge oor ’n naweek, saam met my verloofde, Handré, op die sitkamerbank te sit en flieks en TV-reekse te kyk. Ek is mal oor hierdie rustige saamwees-tye.

IETS WAT ALMAL EENKEER MOET DOEN …
is om alleen te gaan reis. Dit hoef nie net oorsee te wees. Plaaslik het ons net sulke wonderlike plekke. Alleen-reis strek jou innerlike en uiterlike horisonne.

EEN DING WAARMEE EK REGTIG GOED IS …
is om langtermynverhoudings te bou. Vir my lê die geheim in intensionele kommunikasie. Die moeite doen om – selfs oor lang afstande – gereeld in kontak te bly.

MY GROOTSTE BEDERF …
is regte-egte fine dining – sulke sewegangmaaltye wat voel soos kosteater. Kos, wyn, goeie geselskap dis letterlik ’n fees vir al jou sintuie.

EK IS IN MY ELEMENT WANNEER …
mense in my teenwoordigheid ervaar dat hulle nou in ’n rustige, veilige omgewing is om hulle harte te ontbloot. Ek is ’n goeie luisteraar, maar ook iemand wat hou van raad gee.

Vorige artikelLeer om meer soos jesus te wees
Volgende artikelKry jou kind aan die beweeg!