Dít inspireer my! (Rolene Strauss)

33

DIE BESTE MANIER OM MY DAG TE BEGIN …
is om tyd saam met God te spandeer, my eerste prioriteit. Vroegoggend geselstyd met die Here rig my gedagtes, hart en besluite vir die res van die dag.

’N KLEIN GEBAAR WAT DIE GROOTSTE INDRUK MAAK …
is wanneer iemand hulle beloftes nakom. Dis hoe ek weet ek kan ’n persoon vertrou. Dit is ook wat ander mense van my kan verwag – om te doen wat ek sê ek sal.

WAT MY LEWENDIG LAAT VOEL …
is daardie tien minute ná ’n harde oefensessie. Ek doen hoë-intensiteitsoefeninge en behaal ook goeie resultate wanneer ek met gewigte oefen.

MY IDEE VAN AVONTUUR IS …
om eenvoudige dinge saam met D’Niel en ons seuntjies te doen, soos om ’n entjie te gaan ry óf kos te maak terwyl D’Niel saam met die kinders in die kombuis dans.

EEN DING WAARMEE EK REGTIG GOED IS …
is om my drome ʼn realiteit te maak. Daar word nie net gedink en gepraat nie, maar ook dadelik planne beraam oor hoe om dit deur te voer.

EK ONTSPAN DEUR …
my oë toe te maak en diep asem te haal. So twee minute lank: vier tellings in deur die neus; hou dit daar vir vier tellings; en dan vier tellings uit deur die mond. En herhaal.

IETS WAT ALMAL EENKEER MOET PROBEER …
is om geen vooropgestelde idees of planne te hê vir ’n naweek nie. Om vir ’n rukkie net te doen wat vir die gesin lekker is. Om soms net vir die kinders ’n maatjie te wees.

MY GROOTSTE BEDERF IS …
om onverwags drukkies en soentjies van D’Niel af te kry. Dit is hierdie spontane gebaar van liefde wat my hart die warmste laat klop.

Vorige artikelDis hoe … jou ingesteldheid jou kan maak of breek
Volgende artikelElsje Neethling: ‘Maak van jou seer iets mooi’