Dít inspireer ons! (Hykie en Gerridene Berg)

175
Hykie en Gerridene Berg

DIT MAAK MY HART BLY …
wanneer ek kan sien Gerridene sit net ’n bietjie terug en ontspan. Haar werk is ongelooflik stresvol. Ek bewonder haar dat sy deur alles altyd so positief is. – Hykie

ONS DROOM SAAM DAAROOR …
om binnekort met ’n gesin te begin. Maar ek sien ook hoe ons eendag gaan lig reis deur die lewe. Ons doen dit reeds, maar soos wat ek in die ou dae kokaïen gesmokkel het, wil ek graag Bybels Libië toe smokkel. – Hykie

DIE LEKKERSTE SAAMWEESTYE IS …
ons middagslapies, of om sushi te eet, met die honde te stap of ’n fliek te kyk. In ’n besige skedule is ons weeklikse hoogtepunt om net alleen by die huis te kuier. Ons oefen ook lekker saam. – Gerridene

WAT MY GELIEFD LAAT VOEL …
is as ons moeite doen om mekaar se liefdestaal te praat. Myne is opbouende woorde. Sy skryf graag briefies en sit dit in my kosblik. Hare is kwaliteittyd. – Hykie

EK IS OP MY GELUKKIGSTE …
as ek dinge kan doen wat vir hom meer beskikbare tyd gee om sy groot hartsbegeerte uit te leef: om by mense uit te kom en in die koninkryk te saai. – Gerridene

ONS HANTEER STRES …
deur eerste met die Here oor ’n uitdaging te praat, en dan met die mentors in ons lewens. Ek glo ook daarin om ’n student van die lewe te bly. Jy kan net leer as jy ’n leerbare gees het. – Hykie

EK IS IN MY ELEMENT WANNEER …
ek mooi disse vir Hykie aanmekaar kan slaan. Ek hou daarvan om mense te onthaal, en in dié stadium onthaal ek my man en geniet elke oomblik! – Gerridene

DIE LEKKERSTE BEDERF …
is die kos wat sy vir my maak. Dis smaakliker as enige restaurant waar jy nog geëet het. Dis amazing om ’n vrou te hê wat lekker kan kook. – Hykie