Crystal–Donna Roberts: Wat ek geleer het…

375

AS JY DEUR IETS GROOT MOET WORSTEL …
kom ’n mens gou agter hoeveel krag daar in jou steek. ’n Mens leer doodeenvoudig swem tot jy die oorkant gehaal het.

DIE LEWE IS TE KORT …
om skuldig te voel. Ná die tweede en derde skeppie aartappel-mash, kon ek vir ure, selfs dae lank skuldig voel. Deesdae probeer ek om net die lewe se lekkertes te geniet.

WAT EK NOOIT SAL VERSTAAN NIE …
is mense se onsensitiwiteit. Die negatiewe kommentaar wat rondgeslinger word … selfs al ken hulle jou glad nie. Begrip vir ’n ander se journey is een van die skaarshede van ons tyd.

DIE GROOTSTE LES …
wat in my loopbaan geleer is, is dat ’n mens nooit moet dink jy is onvervangbaar nie. Moenie dink looks of charisma gaan jou altyd deurdra nie. Hou aan werk.

ALMAL IS DEEL VAN ’N GROTER GEHEEL …
wat ek in my hoekie doen, affekteer jou in jou hoekie. My pyn is verbind met joune. Daarom moet my bydrae positief en opbouend wees.

MOENIE IN ’N GAT BLY NIE …
doen wat jy moet doen, maar kom weer daaruit. Ek luister na my lyf. As hy wil skree/ huil/ooreet aan mousse, dan doen ek dit (met matigheid), en gaan weer aan.

HANTEER STRES …
deur dinge te doen wat jou laat ontspan. Ek het onlangs begin brei en is mal daaroor. Om te lees, stap, draf en TV te kyk help ook baie.

GELOOF IS DIE BASIS …
waarop alles gebou word. So het my ouma ons geleer. Om met ’n spirituele bewustheid te leef, gee ’n mens ’n goeie grondslag om op te bou in die lewe.

Vorige artikelCheré King-Marais: “Ek kon my kind nie red van verslawing nie”
Volgende artikelBestuur só jou uitgawes slimmer