Jo Black: Wat ek geleer het…

111

AS EK KON TERUGGAAN IN TYD …
sou ek vir klein Jo die ware lesse van die lewe wou leer. Wat ek gedink het belangrik is, was toe nie. God se tyd en manier van doen lyk anders as jou eie.

WAT MY FRUSTREER IS …
onregverdigheid. Toe ek nog in konstruksie was, het dit erg gepla. Ek sê vir mense ek bou huise, en tog het ek nog nooit een baksteen neergelê nie. Maar wie verdien die meeste geld, ek of die werkers?

HARDE WERK MAAK JOU NIE …
suksesvol nie, want dan sou die straatveër lankal ’n miljoenêr gewees het. Dis guns en genade wat die deur na sukses oopmaak.

DIE MOTIVERINGSPRAATJIES BY SKOLE …
het my geleer ons almal soek dieselfde ding. Almal wil weet hulle is oukei. Gee komplimente. Ondersteun mekaar. Ons almal het dit nodig.

VIR MY BETEKEN VRIENDSKAP …
lojaliteit. Ek het net ’n handjievol vriende, en as jy my vriend is, gaan jy my op my beste en slegste sien. Hierdie is ouens wat my nederig hou, wat reguit sê as ek droogmaak.

EK MOET STEEDS WERK …
aan geduld. Ek is gejaag in alles wat ek doen, en moes leer alles het ’n tyd en plek. Raak rustig, Jo, en geniet net die lewe!

AS SANGER WORD ALLES …
naderhand ’n show. Ek moes teruggaan na wat eg en eerlik is. As ek nie vandag lekker voel nie, voel ek nie lekker nie. As ek in die bed wil bly, doen ek dit. My geluk beïnvloed ook ander se geluk.

NALATENSKAP BETEKEN …
die eerste ding wat by jou mond uitkom as ek die dag nie meer daar is nie. As mense dink ek was ’n goeie ou, dan moet my vrou en kinders ook daarmee kan saamstem.