Quanita Adams: Wat ek geleer het …

83

BALANS BETEKEN OM MEER …
“nee” te kan sê. Ek sukkel nog daarmee. Elke projek klink opwindend, so vir alles is dit “ja”, en kort voor lank voel ’n mens oorwerk en uitgebrand.

MOENIE SO BAIE …
van jouself en ander verwag nie. ’n Mens kan nie 100% van die tyd, 100% gee nie, en dis oukei.

DIE BESTE MANIER OM VREES TE OORWIN …
is om dit uit te daag. Hoogtes maak my angsbevange. Selfs om op ’n stoel te staan is vreesaanjaend. Maar ek is met die kabelkar tot bo-op Tafelberg – ’n groot oorwinning!

PA SE DOOD HET MY HARD GETREF …
Dit het alles in die lewe ’n na-smaak van verlange gegee. Maar dit het ook geleer dat ons mekaar nóú moet vashou en liefhê. Daar is geen waarborge nie.

LUISTER NA DAARDIE BINNE–STEMMETJIE …
As ’n verhouding of situasie jou laat voel dis tyd om weg te stap, doen dit. Moenie wag tot dinge erger raak nie.

AS JY NIE NA JOUSELF KYK NIE …
sal jou liggaam ’n manier vind om jou tot stilstand te dwing. Ek wil altyd nóg doen en meer doen, maar eintlik moet ’n mens weet wanneer genoeg genoeg is.

OM RESPEK TE HÊ VIR IEMAND ANDERS SE TYD …
is baie belangrik. Mense wat ander se tyd mors kom sommer gou in my slegte boekie.

DIE BESTE MANIER OM DIE LEWE AAN TE PAK …
is met vreugde en humor. Dit bring lewe en lig in mense se lewe. Ek koester die lewensblyheid waarmee ek kies om te leef.

Vorige artikelWat jy kán doen ná ’n krisis
Volgende artikelBenut jou bates vir groter finansiële voordeel