Reynardt Hugo: Wat ek geleer het…

208

DIE LEWE GAAN NIE …
oor my nie. ’n Mens kan nie net doen wat jy wil nie. Elke keuse het ’n gevolg wat ander beïnvloed Dink eers mooi voor jy net doen.

’N LEKKER TYD IS MOONTLIK …
sonder alkohol of ander goed wat jou goeie oordeel aantas. Daar kruip toe al die tyd ’n beter Reynardt hierbinne weg as die mens wat ek was. En hy is nugter!

DIS OUKEI OM …
foute te maak. Die ding is, moenie daardie foute oor en oor herhaal nie. Ek was rof en onbeskof, maar is dit nie meer nie.

GELOOF IS VIR ELKE MENS …
’n persoonlike, unieke reis. My opgewondenheid oor die Here en joune gaan verskil. Dis in die haak om ’n ander aanslag as die ou langs jou te hê.

MENSE DINK HULLE KAN ENIGIETS …
vir of oor jou sê. Party gaan oordeel, ander nie. Ek het dit aanvaar. Ek besef mense sien my as ’n rolmodel en ek moet daardie skoene volstaan.

SPYT KAN NIKS VERANDER NIE …
maar as ek tyd kon terugdraai, sou ek vroeër gehelp wou word, eerlik wou wees met myself en ander, en gouer wou aan beweeg het in die lewe.

AS IETS FOUT IS …
bly soek tot jy die regte hulp kry. Ek is twee keer verkeerdelik met depressie gediagnoseer, en kon eers die derde keer die regte hulp en medikasie vir bipolêre depressie kry.

’N GOEIE NAAM …
beteken baie. Ek wil nie meer bekend staan as “daai ou” wat droogmaak nie. Party mense dink steeds so, maar met respek gesê, ek gee nie meer om wat hulle dink nie.

Vorige artikel[PODSENDING] Verander jou liggaam, siel en gees
Volgende artikelBybelvrou – Miriam en Jogebed [Liesel Krause-Wiid]