Tracey Lange: Wat ek geleer het…

840
Tracey Lange

DIE BESTE MANIER OM MY DAG TE BEGIN …
is deur heel eerste te mediteer. Dit maak ’n mens rustig en gefokus, en gee ook ’n beter idee oor dit waarvoor en waaroor ek moet bid vir die dag.

JOU PASSIE HOEF NIE ALTYD …
die rekeninge te betaal nie. Die realiteit is dat nie almal hulle passie as werk kan uitleef nie, maar jy kan dit steeds ná ure of oor naweke doen. Hou dit lewendig.

’N MENS SE WERK IS ’N VOORREG …
en ’n groot verantwoordelikheid. Gebruik dit ten goede vir jouself en om jou lewe te verbeter, maar ook om ander daardeur te seën.

TOE EK VASGEVANG GEVOEL HET …
nie seker of ek op die regte plek is of die regte ding doen nie, het ’n lewensafrigter gehelp om rigting te gee. Ek kan dit aanbeveel.

DANKBAARHEID IS SOOS ’N SLEUTEL …
dit sluit die deur oop na ’n leefwyse waar ’n mens in elke situasie – goed en sleg – dinge sal raaksien om voor dankie te sê.

IN MY BOEK IS OPREGTE VRIENDSKAP …
mense wat daar is vir jou wanneer jy hulle die nodigste het. Mense wat moeite doen. Ek is gelukkig om sulke mense in my lewe te hê.

VIR MY BETEKEN “SUKSES” …
om onafhanklik te wees en na myself te kan kyk. Om die rekeninge te betaal, kos op die tafel te hê en om na my ma te kan kyk. My pa is ’n ruk terug oorlede.

BEHOU ALTYD JOU KINDERLIKE VERWONDERING …
oor die lewe. Pa het die kinders gereeld bymekaargeroep om ’n gogga, skadelose slang of iets wonderliks uit die natuur te wys. En meisies of seuns, hy het ons almal dieselfde hanteer.