Vashti Prins: Wat ek geleer het …

46

DIE LEWE IS TE KORT …
om dit te leef deur ander mense gelukkig te probeer maak. Deesdae is ek steeds goed vir mense, maar veral ook vir myself. Die sagtheid en deernis vir hulle, geld ook vir my.

DIE GROOTSTE LEWENSLES …
is om in jou woorde en dade deur liefde gelei te word – nie deur wraak of woede nie. Laasgenoemde maak ’n mens net ongelukkig, en doen bitter min aan die ander persoon.

OM SUKSESVOL TE WEES …
het niks te doen met die dinge in die wêreld daarbuite nie, maar alles met jou binne-wêreld – hoe jy kies om oor jouself te dink en die lewe se uitdagings te hanteer.

HARTSEER EN GEBROKENHEID …
het my geleer dat tyd tog wonde kan gesond maak, dat ego ’n mens seermaak, en om jouself te vergewe die moeilikste is, maar ook die belangrikste.

WANNEER EK ’N SLEGTE DAG BELEEF …
is dit nie die einde van die wêreld nie. Dis normaal en deel van die verloop van die lewe. Hoe ek daarop reageer, is wat saak maak.

WEES ALTYD OOP VIR …
inspirasie, in enige vorm en vanuit enige oord. Enige mens of situasie kan jou leer en inspireer as jy bereid is om jou ego en trots laat staan.

DIE BESTE MANIER OM STRES TE HANTEER …
is in my geval om tyd in die natuur te spandeer. Dis die tye wanneer ek diep asemhaal en bewus raak van wat ek voel en ervaar.

ONS KAN ALMAL ’N VERSKIL MAAK…
deur alle mense met respek en deernis te behandel. Dit frustreer my wanneer iemand dink hulle is beter as ander, en ook so optree. Ek het nie tyd vir sulke mense nie.

Vorige artikelWat die Bybel sê oor … uitdagings
Volgende artikelBestuur jou emosies oor geld