Zoë Brown: Wat ek geleer het …

86

DIE LEWE IS TE KORT …
om wrokke te koester. Vergewe en gaan aan. My hart is al ’n paar keer gebreek. Maar ek sal nie ’n muur om hierdie hart bou nie; eerder duideliker grense stel.

DIT MAAK MY GELUKKIG …
om steeds 100% myself te kan wees. Die grootste kompliment is as mense wat ek van kleintyd af ken, opmerk: “Jy is steeds dieselfde Zoë.”

OM TE VORDER IN DIE LEWE …
vra harde werk en dapperheid. Ek is ’n ekstroverte introvert – trots dat ek uit hierdie dop uit kon klim. Soms moet ’n mens kanse waag, en as dit nie werk nie, waag weer.

SUKSES HET MY GELEER …
dat dit nie saak maak hoe suksesvol jy is nie, moet nooit uit die oog verloor wie jy is, waar jy vandaan kom, of wie jou langs die pad gehelp het nie.

DIS WONDERLIK OM TE ERVAAR …
hoe goed mense vir jou kan wees – al is julle vreemdelinge vir mekaar. Soos die persoon wat jou parkeerkaartjie betaal, omdat die masjien nie jou geld wil vat nie.

ALMAL KAN ’N VERSKIL MAAK …
deur nood raak te sien. Dit breek my hart wanneer kinders by verkeersligte staan en bedel. Ek hou altyd lekkers en maskers byderhand om uit te deel – dis iets kleins, maar bruikbaar.

’N MENS HOEF NIE VAN ALMAL TE HOU NIE …
Dit frustreer my wanneer mense dink hulle is beter as ander, en dan sonder respek optree. Ek het nie tyd vir sulke mense nie.

ELKE DAG IS ’N NUWE KANS …
al moet ek reeds soggens om 03:30 op stel wees, is dit die grootste voorreg om te weet ek het die kans om vandag ’n glimlag op iemand se gesig te sit.

Vorige artikel[PODSENDING] Dis gesond om hardop te lag
Volgende artikel[PODSENDING] Help jou kind om stres te hanteer