‘Berus jou in God se plan vir jou lewe’

163

“Letsels is ’n bewys van Sy wonderwerke”

“Ek’s jammer, Laurika, daar was ’n ongeluk! Dis Berdine …” Vrees verlam my. Dan sien ek haar. “Ek is oukei, Ma,” sê sy. “Moenie worry nie.”

Maar later in die hospitaal verval my kind in ’n koma! Die dokter sê haar gesig is vergruis, “dis ’n pappery”. Ek is dadelik woedend. Dít wil ek nie hoor nie. Daar moet hoop wees.

’n Scan word gedoen. Ons hoor die piep-piep van die monitors. En toe, skielik, ’n doodse stilte. My kind het ophou asemhaal!

Buite die deur, sak ek op my knieë neer. “Here, spaar asseblief my kind,” smeek ek. Die radiografis kniel langs my en saam bid ons. Só stuur die Here vir my die regte persoon, op die regte oomblik, om my te ondersteun.

Vrede vou oor my. Ek wéét my kind gaan leef. Sy sal hier uitstap en huis toe gaan.

Nog wonderwerke volg. Berdine het ’n neuroloog nodig. Tot etlike maande gelede was daar nie een in Klerksdorp nie. Gelukkig het dokter Sarel, ’n neuroloog, onlangs ’n praktyk hier begin. Net betyds om my kind by te staan.

Die operasie om haar gesig van binne af op te bou duur 11 nimmereindigende uur. Die drukking op haar brein word verlig. Dis ure met my gedagtes in ’n warboel: Sal sy letsels oorhou? Gaan daar breinbeserings wees? Wat lê daar vir my kind voor?

Uiteindelik word Berdine uitgestoot, steeds in ’n koma, maar hierdie keer is dit ’n beheerde koma. “Haar beserings is van so ’n aard dat haar oë nie vanself kan toemaak nie,” verduidelik die dokter, “daarom moet ons haar oë toehou sodat hulle nie uitdroog nie”.

Baie later ontvou die hele verhaal. Ek hoor dat my pragtige dogter se gesig aanvanklik heeltemal ingeduik was. Teen die tyd dat ek by die ongelukstoneel opgedaag het, het haar gesig begin opswel.

Die Here het my oë toegemaak sodat ek nie die volle omvang van haar beserings kon besef het nie. As ek dit enigsins die aand van die ongeluk vermoed het, sou ek haar nie wou vervoer nie. Ek sou op die ambulans gewag het. En dan, dit weet ek nou, sou dit te laat gewees het …

My kind het nie ongeskonde daarvan afgekom nie. Sy het die sig in haar regteroog verloor en sy kan nie meer ruik nie. Daar is ook ’n letsel van die operasie, maar haar blonde hare bedek dit. En op haar voorkop, wanneer sy haar kop op ’n sekere manier draai, sien jy ’n skroefie onder die vel.

Maar vandag is dit alles net blote herinneringe aan wat was, en hoe erg dit kon gewees het. En dit alles laat ons diep dankbaar: My kind leef en sy is pragtig.

– LAURIKA BEKKER

Vorige artikel[VIDEO] Speelareas waar jou kind kan ontwikkel
Volgende artikelMoenie spyt wees deur te vinnig te praat nie