Crystal–Donna Roberts: “Om sterk te wees is in my gene” [Deel 1]

26

­­­Aktrise en aanbieder CRYSTAL– DONNA ROBERTS is ’n klein pakkie met groot trefkrag. Sensitief, maar sterk. Stil, maar nie op haar mond geval nie. Soms bang, maar nooit oorweldig deur vrees nie.

As grootoog krullebol sit sy op die bank. Klein Crystaltjie, vasgenael voor die tee-vee in haar ouma se huis in Kaapstad.

Dis (alweer) Arnold Schwarzenegger op die skerm, wat met sy blink gebeitelde lyf die kroeg binnestap. Oordeelsdag.

“I need your clothes, your boots and your motorcycle,” sê die spiertier in sy swaar, monotoon Duitse aksent.

My tone het omgekrul van lekkerte. Terminator 2. My heel eerste obsessie. Dis oor en oor gekyk, totdat die dialoog sommer vanself oor my lippe kon rol.

Die beste oomblikke in die fliek was elke keer wanneer die heldin, Sarah Connor, op die toneel verskyn. Pragtig, maar ook sterk – van binne en buite – met sulke breë skouers en gespierde arms. So mooi.

Vrou of te not, Sarah was ’n bol krag, energie en onverskrokkenheid. Nie ’n bang haar op haar kop nie.

“Ook nie op mýne nie,” is toe al besluit.

Ek was skaam en teruggetrokke as kind, maar ook baie nuuskierig. ’n Dromer in haar eie wêreld, maar ook ’n waarnemer wat alles en almal fyn dopgehou het.

Dis dalk hoekom die invloed uit hierdie vormingsjare so ’n blywende impak gehad het.

Al die ure se fliek-kyk het ’n liefde vir toneelspel en stories gekweek. Ná The Terminator was Ariel van The Little Mermaid en Belle van Beauty and the Beast my heldinne. Free Willy het weer sirkels in my verbeelding geswem.

“Ag, Ouma, kan ek nie asseblief my eie walvis kry nie. Ons kan die bad vol water tap en dan kan hy daar bly …. asseblief?”

Elke fliek is obsessief weer en weer gekyk, totdat dit deel van my leefwêreld geword het.

Die indruk is ook vasgelê dat níks ’n vrou kan onderkry nie.

Wanneer ’n mens omring word deur sulke rolmodelle – op die TV-skerm en in die regte lewe – is dit moeilik om anders daaroor te dink.

Ouma, Ma, tannies … daar is net sterk vroue in die familie. Nie een is broos of pieperig nie. Elkeen het ’n tawwe streep en skroom nie om dit te wys nie.

Dis hoe ek van kleins af geleer is om oor myself te dink.

Wanneer party van die seuns later op skool gespot het, “jy is lelik!”, het dit nie veel gepla nie. Hiérdie meisie lyk dalk anders, maar moenie met haar mors nie.

Die seuns se simpelheid is so in die stilligheid mooi in perspektief gesien, en dít het troos gebring.

“Lelik? Dis dalk jou opinie … maar as dit by intellek kom, is ek jou myle vooruit.”

Dis ’n gedagte wat my laat glimlag het.

Daar is wyd gesels en diep gedink in ons huis. Om van kleins af daaraan blootgestel te wees, was ’n voorreg wat help bou het aan innerlike krag.

Verskillende ervarings en uiteenlopende persoonlikhede in ons familiekring het ook ’n ryk belangstellingsveld gekweek.

Ek en Ma deel nog al die jare ’n liefde vir die kunste. As jong ballerinatjie was die lekkerste uitstappies na plekke soos die teater, waar ons na ’n balletopvoering gaan kyk het. Daarna was ek in my verbeelding die prima ballerina in elke balletklas.

By Ma se sussie het ek weer geleer dat kosmaak oor baie meer as kos gaan. Dit gaan oor omgee en koestering. Die kuns om te onthaal en ’n hele belewenis te skep wat mense geliefd en versorg laat voel. Elke maaltyd is met soveel trots voorberei, in eg Maleise styl.

Vandag nog is ek op my gelukkigste in die kombuis. Selfs ’n gewone kaas-en-tamatiebroodjie is nooit nét dit nie … Elke maaltyd kry ’n interessante kinkel by om dit ekstra spesiaal te maak, nes dié tannie my geleer het.

Sy het ook elke oggend douvoordag opgestaan, vir almal pap gemaak … “A virtuous woman gets up early,” was haar redenasie.

Dit was so ’n mooi, groot woord en gedagte, wat my toe al laat besluit het ek wil óók eendag so wees. ’n Deugsame vrou wat vroeg opstaan en elke dag aangryp.

Om laat te slaap laat my skoon gril, maar ek besef dis in die haak as party mense dit so verkies. Dit werk net nie vir my nie.

Oupa was weer die fliekfundi in die familie. Ons twee kon ure lank op die sitkamerbank sit en saam kyk, die een fliek ná die ander, en daarna gesels oor die karakters en storielyn.

By hom het ek geleer brood knie, en hy het ons soms strand toe gevat om seeslakke te gaan optel. Sand, son, see en waatlemoene eet op die strand, is nou nog van my gelukkigste kinderherinneringe.

Ouma was die inspirasie om hard te werk. “Geen droom gaan waar word sonder aksie nie,” was haar lewensmotto. “As jy iets in die lewe wil hê, my kind, moet jy die werk insit. En as dit met die regte ingesteldheid gedoen word, sal alles in plek val.”

Ouma het my geleer dat God dié help wat hulleself help.

Leef met respek teenoor jouself en ander mense en probeer altyd om die regte ding te doen.

Dit was goeie raad.

Ouma het ook gesê dat niks sonder ’n rede gebeur nie. Alles op ons lewenspad het ’n spesifieke doel. Dit gaan nie soseer oor wat met jou gebeur nie, maar hoe dit jou karakter laat groei.

Party krisisse voel sinneloos en onnodig. Lesse wat ’n mens liefs op ’n ander manier sou wou leer … maar dan word dit tog ’n motivering om harder te druk.

Om jouself verder te strek, en om agter te kom hoe sterk jy eintlik is.

My onlangse pad met borskanker is ’n goeie voorbeeld. Hoekom het dit gebeur? Watter lesse moes daaruit geleer word?

Dis steeds ’n raaisel, maar dit het my perspektief op die lewe verander en verdiep.