Demi Lee Moore: Moeilike tye mag ons nie onderkry nie…

245
Demi-Lee-Moore

Demi Lee Moore ken paaie van voorspoed én teëspoed. Die lewe se uitdagings het haar geleer dat dit juis die moeilike tye is wat ’n mens vorm om sterk, dankbaar en gelukkig te wees.

“Engel … SWEM!” gil ek histeries, maar die oordonderende gedruis van die watermassa verdoof elke benoude klank. En toe tref nóg ’n brander. Meters hoog.

Barthlo, my kêrel, se hemp glip deur my vingers. Koppe en lywe word vir die soveelste keer onderdompel en deurmekaargevleg in die woesteny van skuim en seewater.

Dit was die ergste dag van my lewe … verlede jaar, in die see by Mosambiek.

Dit het so lekker begin. Son, sand en ’n avontuurlik rit op ’n waterponie die deinende blou waters in.

Ons was al diep die see in, toe dinge skielik verander. Groot branders van ’n paar meter hoog … en toe slaan ons om.

Met die opkomslag kon ek vir Barthlo nêrens sien nie. Paniek! ’n Mens skree en spartel, en verdrinking word ’n tasbare werklikheid.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, pop hy skielik op.

“Wat moet ons doen? Wat moet ons maak!” skree-vra ek, maar sy gesiguitdrukking spreek boekdele. Totale skok. Hy staar net. Sê nie ’n woord nie.

Met die gryp van sy hand tref nog ’n brander … so erg dat my bene teen my kop vaskap. Bo word onder, en onder bo. In die malende gekolk word die sin vir ruimte en persepsie heeltemal deurmekaar geskommel.

Met die volgende opkomslag, gryp ek hom aan sy hemp en klou verbete vas.

Die branders hamer voort.

Dis toe dat ek begin bid, en bid. Met die omkykslag is die land skielik sigbaar. Dis ver, maar dis daar. ’n Vae sweempie van hoop.

“Engel, swem!” skree ek bo die gedruis. “Ons kan dit maak. Ons moet net swém!”

Die volgende brander breek my houvas … en met die asemskepslag is Barthlo twintig meter verder. Die gedagtes jaag resies. Moet ek terugswem en hom gaan haal? Of uitswem en hulp kry?

Dis die heel ergste gevoel. Om te sien hoe jou hele lewe besig is om voor jou te verdrink.

En dan, die oomblik van moed skep. Die hoop wat opflikker. Dalk is daar ’n kans … want mense is naby.

Ek begin skree. Hulle hardloop in die rigting van die gillery. Met arms wat wild swaai word daar verduidelik: “Dáár … kyk … help hóm!”

Onder my is daar skielik vaste grond. Ek skuifel-strompel die see uit en begin strandlangs in Bart se rigting hardloop.

Dit voel soos ’n ewigheid … om uiteindelik die figuur in die verte te sien opstaan en loop.

Dit was só ampertjies!

Net daar gee alles in. Ek sak inmekaar en bly net lê. ’n Deurdrenkte, bedremmelde hopie op die sand. Moeg geveg. Verlig. Oneindig dankbaar.

Mense praat van noue ontkomings, maar die angswekkendheid daarvan tref eers as jyself deur so iets worstel.

Ná die amperse verdrinking is daar vir weke aaneen gehuil. Ek kan steeds nie hieroor praat sonder om te huil nie. Ons reddingsbaadjies, en die Here se genade, het ons daardie dag gered.

In die gesprekke ná die tyd het dit duidelik geword dat Bart absoluut niks kan onthou nie. Nie van die hand vasgryp of die hemp vasklou, die gillery, die groot golwe of die geskree dat hy moet swem nie.

Niks. Die ergste van alles was hy het geglo hy gaan verdrink. Die enigste gedagte in sy kop: “Regtig? Ek gaan só doodgaan. Verdrink in Mosambiek. Op 25.”

Ervarings soos hierdie gee ’n mens ’n diep waardering vir wat regtig saak maak.

Dis ’n verskriklike gevoel wanneer jou hartsmense op die randjie van sterfte staan en daar is niks wat jy kan doen nie.

Dit was ongelukkig nie die eerste skouerskuur met die dood nie.

Ma Marlene was baie siek toe ek ’n tiener was, en weer ’n paar jaar later as volwassene. Albei kere het die dokters gesê hulle dink nie sy gaan dit maak nie. Albei kere is my knieë amper nerfaf gebid, en elke keer is sy gespaar.

Ousus Aimee se afgryslike bromponie-ongeluk in Thailand het opnuut die waarde van lewe onderstreep. Sy het só seergekry. Gesig vergruis, skedel gekraak, been en enkel gebreek, haar hak moes afgesit word.

Ek het nog nooit so hard gebid nie; en weer was die uiteinde genade, en nog ’n kans.

En toe Bart …

Dis hoekom ek hierdie mense so liefhet. Elke dag saam is ’n geskenk. Intens kosbaar.

Maar ek ken ook die verlies wat die dood meebring. En die dankbaarheid wat daaruit groei.

Op 31 kom dit al hoe nader … die ouderdom wat my pa Herman was toe ons hom verloor het.

Om in jou dertigs te moet koebaai sê vir die lewe, enkele weke ná ’n verdoemende maagkanker-diagnose, is darem bitter jonk. En so onbegryplik. Veral as daar twee klein dogtertjies is om te groet en te weet niks kan dit keer nie.

Ná al die jare bly dit moeilik om te verstaan. Hoekom hy moes gaan.

“As Pa maar net nog hier was, hoe anders sou dinge gewees het …” Vir jare lank is daar elke dag hieraan gedink.

Veral op skool en aan die begin van my loopbaan. Dit was ’n daaglikse wens: dat my pa die man kon ontmoet met wie ek eendag gaan trou. Dat hy my kon hoor sing.

Op sewe is ’n mens nog te klein om te verstaan wat aangaan. Pappa voel nie lekker nie. Hy word siek. En dan, skielik oornag, net weg.

Natuurlik wens ’n mens steeds dat hy hier was, dat hy kon sien wat ek bereik het. Pa wat self so lief vir country-musiek was en altyd wou gehad het ons moes sing.

Hy sou vir seker heel voor by elke optrede gewees het. En waarskynlik elke nuwe album in die winkels gaan opkoop het.

Maar uit die verlies het daar ook wysheid gekom. Sulke hartseer maak jou oë oop vir die wonder van die lewe. Die besef dat elke dag jou beste dag moet wees.

Dat ’n mens geluk en dankbaarheid kíés.

Vir my is geluk opgesluit in die daaglikse, eenvoudige seëninge. ’n Dak oor jou kop, kos op die tafel, ’n warm bed, ’n warm bad, ’n knetterende kaggelvuur.

Die lysie kan vir ewig aangaan … Ek voel oneindig geseënd en is elke dag dankbaar vir al hierdie dinge, want ek weet hoe dit voel om dit nie te hê nie.

Daar was ’n tyd toe die lewe baie moeilik was. Ma, as die enigste broodwinner, het vir lank drie werke gehad, net om die huis te kon behou.

Sy het ons deur alles gedra deur nooit op te gee nie.

Geluk beteken ook die voorreg om die lewe te deel met mense wat omgee en regtig jou siel verstaan. Iemand wat soms deur dieselfde emosies van verlies en verlange stoei, omdat hulle dit ook ken.

Bart se ma is ’n paar jaar gelede oorlede, en hierdie verlies verbind ons op ’n baie diep vlak.

Dit gee ’n waardering vir mekaar wat moeilik is om in woorde te beskryf.

Ek voel amper te lief vir Bart, maar hy maak my definitief sielsgelukkig. By hom het ek geleer wat die waarde van geduld is. Hy het jare se geduld, en dit gee ’n spesiale dimensie aan ons verhouding.

Ons praat geduldig met mekaar, raak nie kwaad nie.

Dis ook lekker om ten volle myself by hom te kan wees, en hy by my. Ons was albei voorheen in slegte verhoudings. Wat ’n voorreg om by iemand te kan wees wat jou toelaat om te skitter.

Ek voel altyd die naam wat in die kollig moet wees, is nie “Demi Lee Moore” nie, maar “Demi en Barthlo”.

Geluk, liefde en sukses is sinoniem met alles wat vrede bring. En om mense se hart met musiek te kan aanraak en ’n boodskap van hoop oor te dra, dis waarvoor ek lewe.

Daar is ’n video wat elke keer die trane laat loop. My hart kan dit nie hou nie.

Dis oor ’n klein meisietjie. Sy het in haar melkies verstik, breinskade opgedoen en daarna nooit weer enige emosie getoon nie. Nie gelag of geglimlag nie.

Toe speel haar mamma vir haar die liedjie “Mis, eet, slaap … herhaal”, en daar begin sy vir die eerste keer weer lag!

Dit was so ongelooflik om die video te sien.

Ek huil elke keer!

Ter wille van my loopbaan bly ek nou in Pretoria, maar om weg van familie en beste vriendinne te wees is soms baie erg.

Gelukkig maak Bart en die publiek op daarvoor. Veral tydens die grendeltydperk het ek besef watter groot geskenk hierdie ondersteuning is.

Dis een van die wonderlikste aspekte van my werk – die mense.

Daar is nie ’n beter gevoel as ’n skare wat saam lag, huil en sing nie – alles binne die bestek van ’n uur. En om dan ná die tyd te kan gesels en te hoor hoe die musiek iemand deur diep, donker tye gehelp het.

Dis die een persoonlikheidsaspek waarin ek die meeste gegroei het die afgelope ruk. Die kuns om werklik te luister.

So baie mense het net nodig om gehoor te word. Daarom sal ek altyd luister as iemand ná ’n vertoning wil gesels. Al is daar honderde in die ry, is die gevoel: “As jy met my wil praat … ek is hier en wíl jou hoor.”

Dis nie net van foto’s neem, smile en koebaai nie.

Tog is die moeilikste aspek dat mense jou partymaal soos ’n besitting behandel.

Hulle dink hulle kan enigiets doen en sê.

Daar was al soveel kere waar mans (en soms ook vroue) heeltemal onvanpas aan my gevat het. Dit gebeur by amper elke vertoning.

Tussendeur die foto’s en handtekeninge drom almal saam – en dan gebeur dit so vinnig.

Dit het my soveel begrip gegee vir vroue en kinders wat slagoffers is van seksuele teistering.

’n Mens se eerste reaksie is dat jy nie ’n scene wil maak nie, of erger: “Ek wil hom nie verneder voor sy vrou nie.” Of: “Hier is honderde mense wat wag in die ry, ek wil niemand ontstel en soos ’n swaap lyk nie.”

Dis so ongelooflik moeilik … en dis hoekom ek later kwaad was vir myself.

So ’n ou se vingers moet gebreek word, voor sy vrou en kinders, want wie weet wat doen hy aan iemand anders wat dit nie kan hanteer nie?

As hy dit so maklik met ’n volwasse vrou kon regkry, hoe maklik gaan dit nie wees met ’n klein kindjie nie?

Een aand het ’n vrou heeltyd haar hande onder my top ingedruk, soveel so dat ek later reg teenaan die muur moes staan sodat sy nie haar hande kon inkry nie.

Wat besiel mense om só op te tree? Hoekom sal jy jou oor iemand se boude vryf wat jy glad nie ken nie? Onder hulle klere vat.

Dit maak ’n mens siek.

Gelukkig is die goeie tye baie meer as die slegtes. En dit bly ’n ongelooflike voorreg.

Dis altyd ’n geskertsery van die verhoog af (want ek praat baie), maar voeg dan by: “Ek vertel nou al my stories. Kom vertel nou-nou julle s’n, want só leer ons mekaar beter ken.”

’n Paar jaar gelede was daar dalk een of twee mense wat sou agterbly om ’n CD te koop. Vandag is dit elke keer ’n verrassing om te ervaar dat mense mý wil ontmoet, die musiek waardeer, en hulle storie wil deel.

Dit was ’n lang, moeilike pad tot hier, maar nou kyk ’n mens terug en voel dankbaar dat sukses nie oornag gebeur het nie.

As iets so lank vat, kan dit nie kop toe gaan nie.

Dis die een ding wat ek verpes: hoogmoed. Daar is nie tyd vir mense wat dink hulle is beter as ander nie. En hoekom wil mense uit hulle pad gaan om iemand seer te maak? Om hulle niks goed te gun nie?

Ongelukkig het ek al baie sulke lelikheid beleef. Mense wat dink alles het netjies oornag in my skoot geval.

Hulle vergeet dat dit ’n dekade se bitter harde werk geverg het. Op 19, eers die demo laat maak en oral rondgestuur. Dieselfde jaar, by die KKNK, het ek aangebied om gratis op een van die oop verhoë te sing.

Dit het later agt jaar se gratis optredes geword, maar ek kon doen waarvoor ek lief is.

Oor naweke is daar by wynplase en hotelle gesing, waar niemand regtig luister nie. Maar ook daarin was die gevoel: “Ek het niks om te verloor nie.”

En elke jaar het dit beter gegaan, is daar meer geleer.

Nou is elke uitdaging en elke opoffering soos diep uitgetrapte spore wat my stewig geanker hou. Dit leer ’n mens om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie.

En om altyd positief te bly. Daardie besef dat as iets nie uitwerk nie, is opgee nie die antwoord nie. Eerder: dit werk nie uit nie, omdat daar iets beter wag.

Wat ek oor myself geleer het, is dat ek ’n stem het, met mense kan praat en ’n verskil kan maak.

Dis ’n voorreg en ’n groot verantwoordelikheid om hierdie platform reg te gebruik.

Mense wat my ken sal weet dat “famous” nooit deel van my woordeskat was nie. Dit het nooit daaroor gegaan nie. Om die waarheid te sê, die een ding wat my die trotsste maak, is dat die Demi van vandag nog presies dieselfde, normale mens is as voor die bekendheid. Gerus in die wete dat my hart op die regte plek is. Elke medekunstenaar word sukses gegun, want dit vat niks van my af weg nie.

Tussendeur die uitdagings het alles waarvan ek nog gedroom het, en méér, gebeur.

Ek hoop en bid dit kan vir altyd aanhou.

My grootste doelwit is om gelukkig te wees en daardeur ook ander mense gelukkig te maak.

Die Here het my ’n mikrofoon gegee, ek gaan dit reg gebruik.

Vorige artikelMarissa Kleynhans: “My hart moes oopgebreek word”
Volgende artikelMoenie jou aan ongevraagde opinies steur nie