Desiré Gardner: “Oorgee beteken nie om op te gee nie”

153

Sy kom in ’n klein, fyn pakkie, maar moenie geflous wees nie. Elke keer wanneer die lewe se uitdagings haar wil–wil onderkry, besef Desiré Gardner opnuut hoe dapper sy eintlik is. Haar deurbrake gebeur wanneer sy prakties raak: opstaan, aangaan en oorgee.

Dit was ’n groot tranedal. ’n Ongelooflike oomblik in die pad na genesing.

Die dag toe ek die stem oor ’n WhatsApp-stemnota hoor sê: “Hoor hier, Des, ek sien raak wat jy doen. ’n Alleen-ma wat kop bo water hou. ’n Harde werker wat alles insit. Party dae is moeiliker as ander. Maar weet jy wat? Jy gaan oukei wees.”

Om hierdie stem te hoor – my eie stem – wat so mooi en opbouend praat, het vreeslik baie beteken.

Dit was ’n besondere oomblik van diep besef. Van inkeer en terugkeer na myself toe. Van omkeer, opstaan en aangaan. ’n Ligpunt op die reis na heelwording.

Dit was eintlik die lewensafrigter se idee.

Mense het lank bly karring. “Gaan gesels met iemand. Praat jou hart uit.” Nie net oor die egskeiding nie, maar sommer oor al die uitdagings van die lewe.

Toe gaan doen ek dit en tussendeur al die wyse raad, stel sy voor: “Stig ’n WhatsApp-groepie. Haal almal van die groep af behalwe jouself. Stuur nou ’n boodskap aan jouself wat presies sê wat in jou hart en kop aangaan. Wat waargeneem, gevoel en ervaar word.”

Dit was uitstekende advies. Hierdie eenvoudige opdrag word toe ’n baie spesiale gebaar van liefde en koestering teenoor myself.

Want ons almal worstel met uitdagings. Almal het soms ’n sessie van moed inpraat nodig. Iemand wat sê: Ek sien, hoor en weet van jou.

Daar is ’n paar uitdagings waaraan ek voortdurend werk. Soos om nie besluiteloos te wees nie. Om vertroue te hê in besluite wat geneem is, en daarby te hou.

Ook om ma te wees vir James en Robin. Die omsien na ’n hele nuwe mensie se fisieke en emosionele gesondheid is ’n reuse-verantwoordelikheid.

Om daardie fyn lyn te handhaaf van jou kinders veilig hou, maar hulle nie in watte toe te draai nie. Hulle gelukkig te maak, maar nie te bederf nie.

In elke fase word ek van vooraf ’n splinternuwe ma.

Eers van babas van wie ’n mens aanvanklik niks weet nie. Dan kleuters, tieners, jong volwassenes, verliefdes, en uiteindelik die kuns om die ma van ’n ma of pa te wees.

Elke fase is nuut en onbekend, so die uitdaging van ouer-wees hou nooit op nie. Dit bly ’n opwindende proses van ontdek en leer.

Die baby in ons familie. Dis nou ekke, die jongste van vyf uiteenlopende kinders. Tussen ons klompie is daar ’n ingenieur, arbeidsterapeut, sielkundige, prokureur en ek, die borrelende drama-kind.

“Passie” is juis die ander se bynaam vir my.

Om deel van ’n groot gesin te wees het my op ’n besondere manier vir die lewe voorberei. D

it het beteken dat daar al van jongs af by verskillende persoonlikhede en sosiale omstandighede aangepas moes word.

Terwyl die een verlief is, is die ander een ’n moeilike tiener. Een sit voor die boeke en ’n ander is besig om te kuier.

As deel van ’n groot gesin leer ’n mens ook gou om die klein dingetjies te waardeer en die lewe nie te ernstig op te neem nie.

As daar die dag uitgeëet is, was dit ’n groot okkasie. Om vyf mae vol te hou kos geld, en daarom was ’n aandjie uit na ’n restaurant toe, ’n spesiale bederf.

Die opwinding was so groot dat ek en my broer gewoonlik vooraf in die tuin touchers gespeel het – net om van die ekstra energie ontslae te raak.

Maar dinge was nie net sorgeloos nie.

Op ’n brose 12 het ek skielik oornag grootgeword. Die beroerte het almal groot laat skrik.

Dit was so onverwags; daar was geen familiegeskiedenis nie. En toe tref dit my, op so ’n jong ouderdom!

Die dokters het ’n breingewas ontdek, en voorspel dat ek gestremd sou wees, indien nog ’n beroerte sou volg.

Ek onthou nog die gevoel: “Oh my goodness! So hierdie is die lewe …” Skielik is ’n mens meer versigtig. Kan nie sommer net sorgeloos kuier en by maats oorslaap nie, want sê nou dit gebeur weer.

Maar dit was ’n reuse-les in geloof. Die dominee het kom bid en toe die dokters weer toetse doen, het die gewas spoorloos verdwyn.

Dit was ’n ervaring wat geleer het dat die lewe onvoorspelbaar is. Dat jy elke dag voluit moet leef.

Maar ook dat ’n mens dapper en vreesloos moet wees, want niks is vir God onmoontlik nie. Meer onlangs het ek weer besef: “Des, jy is steeds dapper.”

Dis daardie kuns om in die daaglikse verloop van die lewe op te staan en aan te gaan, al voel dit onmoontlik.

Elke keer wanneer daar melk en brood gaan koop is, al wou my bene ingee, was ek dapper.

Elke geselsie met iemand in Pick n Pay wanneer ’n mens se hart eintlik wil breek, was ’n bewys dat daar tog ’n ystervrou hierbinne skuil.

Die dae wanneer daar play dates vir die kinders gereël is – wanneer ’n mens pizza maak en roomys inskep terwyl jy eintlik in ’n hoekie wil sit en huil – was ’n vorm van innerlike krag.

Die seer in die lewe het geleer dat ’n mens nie deur jou pyn beheer moet word nie. Staan op, letterlik, kom aan die gang en raak prakties.

Draf het my antidepressant geword. Wanneer die hartseer ondraaglik was, het ek die drafskoene veter vir veter vasgemaak en gevoel “ek-wil-nie-hierdie-doen-nie”.

Maar dan kom jy op die strand, sit die oorfone met musiek in jou ore … en iewers gebeur iets wonderliks.

’n Mens vergeet skoon waar jy is en hardloop jou kop skoon. Draf is steeds my heel beste terapie. Die vrystelling van goedvoelhormone in die proses, verrig beslis hulle taak.

Die regte ingesteldheid is ook belangrik. Deesdae is die fokus op die mooi en goeie in elke dag, en daarom is dit presies wat ek raaksien.

Op pad werk toe is dit nie die spitsverkeer wat my oog vang nie, maar hoe mooi die berg vandag lyk. Dit is die voëls wat verbyvlieg wat my aandag trek.

Die res is steeds daar, maar die ingesteldheid hierbinne bepaal wat ’n mens daarbuite gaan raaksien.

Ek is steeds dieselfde mens. Iemand wat passievol liefhet, al is my hart gebroke. Iemand wat steeds hoop, al stel die lewe soms teleur

Dis nooit lekker as dinge anders uitdraai as wat jy beplan het nie, maar die seer en teleurstellings het een belangrike les geleer: dit wat voel na rejection, is eintlik net ’n redirection.

Dit laat my dink aan die storie van Lot. Die stad agter hom was aan die brand. Daar was niks meer oor nie. Maar as hy sou omkyk, sou hy vir altyd net daar bly.

Hy moes vorentoe kyk. Roetines breek en die onbekende instap.

Ek het geleer om dieselfde te doen. Om vertroue te hê in die Here se groter prentjie.

Dis nie altyd maklik nie. Een van die dinge waaraan daar steeds geskaaf word, is hierdie waansinnige persepsie van beheer. Die idee dat ’n mens beheer het oor die lewe … en soms, soos in my geval, raak ’n mens ’n beheervraat.

In die terapie-sessies was dit ’n groot kopskuif om te besef dat jy eintlik geen beheer het nie. Wanneer ek in ’n kar klim, het ek geen idee wat op die pad gaan gebeur nie.

In die daaglikse omgang met mense, is daar nie regtig beheer oor hulle opinies nie. Ek kan so gaaf, vriendelik en respekvol moontlik wees, maar die opinie wat ander vorm, is steeds buite ’n mens se beheer.

Ek hoor myself hierdie dinge sê en glo dit, maar dit bly ’n uitdaging om hierdie waarheid elke dag te leef.

Dit help darem om te weet dat dit nie ’n kwessie van “beheer verloor” is nie, maar eerder van “beheer oorgee” – en wat ’n bemagtigende gevoel is dit nie!

Dis in sulke tye wat ek diep kan asemhaal en werklik die oomblik inneem en geniet.

Onsekerheid en self-aanvaarding is die ander ding waaraan daar geskaaf word, en goeie vordering is al gemaak.

Die vermoë om in myself gelukkig te kan wees, onafhanklik van ander se goedkeuring.

Deel hiervan is om te besef net ek kan myself gelukkig maak. Dis niemand anders se werk of verantwoordelikheid nie.

Vir lank was dit baie belangrik dat mense van my moes hou.

As ’n kollega die dag nie vriendelik gegroet nie, was die eerste gedagte: “O gaats, wat het ek verkeerd gedoen?” Ek wou met alle mag uitvind en dit regmaak.

Mettertyd leer ’n mens om wyer te kyk, minder self-gesentreerd te wees. “O, sy groet nie, want sy worstel op die oomblik deur ’n krisis. Hoe kan ek help?”

In die proses van beheer oorgee, het ek geleer om baie meer op die Here se leiding staat te maak. Om vrede en aanvaarding in Hom te vind.

Dis die proses ná egskeiding wat verandering bring.

Wanneer die besluit geneem word en ’n huwelik tot ’n einde kom, is daar steeds dinge wat ’n mens mis.

Die gevoel van getroud-wees, die idee om ’n huis te deel … dis die dinge wat ’n leemte laat. Dis vir die meeste mense lekker om huis toe te gaan en te weet daar is iemand wat vir jou wag. Die samesyn en gesels is ook ’n gemis. Om saam ’n lekker bord kos te eet.

Tog was dit nie die egskeiding wat my verander het nie, maar eerder die proses daarna.

Die stappe wat gedoen is om aan te beweeg het groot insig gebring.

My beste raad aan mense in dieselfde situasie is die advies wat ek self gekry en uiteindelik gevolg het.

Gaan praat met iemand. Met ’n professionele persoon as dit moontlik is, of andersins met ’n vriendin of vertroueling wat objektief kan luister en nie noodwendig altyd jou kant kies nie.

Die proses van praat, verstaan en leer het ’n sleutelrol op die pad na genesing gespeel. Ook om oop te wees vir ander insigte en dit nie as kritiek op my menswees te sien nie, maar as ’n geleentheid om te groei en te genees.

Hierdie terapiesessies is steeds goud werd. Dit het my geleer om dinge vanuit ’n heel ander hoek te bekyk. Om van goed in myself bewus te raak wat werk nodig het.

Dit bring ’n mens in voeling met jou emosies en met hoe situasies ervaar word.

Deesdae is ek nie meer so hard op myself nie, en ook baie meer daarop ingestel om ander mense te seën op die unieke plek in hulle reis.

Ons almal is in verskillende stadiums van die lewenspad en nie een kan ’n ander oordeel nie.

Niemand verstaan werklik hoe dit in jou skoene voel, of wat jou in daardie skoene gesit het nie.

Wat my reis betref: Ek is sterk op pad na ’n plek waar die autopilot konstante geluk en tevredenheid is.

Waar gevoelens van hartseer, angs en onsekerheid uitstaan, omdat dit so anders as die daaglikse norm is.

Humor was nog altyd ’n sterk punt en ’n manier om die lewe se goed en sleg te hanteer.

Ek het hierdie keer ook my lag redelik vinnig teruggekry, al is daar aanvanklik ’n klompie goed misgekyk.

Daar was ’n tyd toe alles moeilik en swaar was; toe daar gekies is om niemand te sien nie. Dit was nodig.

Maar dan gaan die ergste verby, jou oë gaan weer oop en ’n mens kies om ’n nuwe keuse te begin maak.

Soos om wakker te word in die oggend en iets te soek om oor te glimlag.

“Vandag wil ek die blomme in God se natuur raaksien …” en dan word dit oral sigbaar.

Die blommetjie wat op die vensterruit val. Die wolkformasie in die vorm van ’n blom. ’n Blom-emoji langs die selfoonboodskap van ’n vriendin af.

Die teenoorgestelde is ook waar. Wanneer ’n mens kies om ontsteld te wees, gaan jy gou iets kry wat jou ontstel.

Die blom val steeds op jou ruit, die wolke vorm steeds ’n blom, maar dit gaan alles in ’n waas verby, want jy soek nie daarna nie.

Om my lag terug te kry was ook ’n fisieke aksie. Party dae het ek my mond in ’n glimlag getrek, al het hierdie hart nie so gevoel nie.

’n Ander belangrike kopskuif was om weer bewus te raak van die mense wat my so getrou bystaan en liefhet.

Hulle was nog altyd daar, maar in die harwar van die lewe word dit later misgekyk.

Ook om jouself te omring met mense wat my laat lag. Soos die kinders. Hulle is ongelooflike lag-opwekkers.

Ons het baie lekker tye saam, al raak dit ’n uitdaging om myself in twee te deel.

Ek en James skop ’n sokkerbal op die strand, en kort voor lank roep Robin: “Ma-maaaa!” Dan is dit weer terug sandkasteel toe om verder aan die kasteel se torings te bou.

Gelukkig verstaan hulle die situasie al goed. Hulle besef daar moet beurte gemaak word, en dat Ma ook rus-tyd nodig het.

Selfliefde is ook ’n noodsaaklikheid om dapper en sterk te bly. Daarom sal ek myself nou en dan op ’n koffie-date vat.

Tyd maak om in te check en te vra: “Hoe gaan dit met my? Wat maak my gelukkig? Kan ek nog onthou wat my gunstelingkleur is?”

Natuurlik beleef ’n mens steeds af-dae. Tye wat moeilik is, wanneer ek eerder net op die bed wil gaan lê en huil.

My redding is dat ek nie eintlik ’n ander keuse het as om deur te druk nie. Daar is sperdatums wat die werk betref, die kinders het aandag nodig, ek moet woorde leer.

Die verantwoordelikheidsbesef om by al hierdie dinge uit te kom, hou ’n mens aan die gang.

Maar soms, wanneer daar iewers ’n halfuur oop is, gebruik ek tog die tyd om so ’n bietjie te huil. Net vir ’n rukkie.

Daarna staan ’n mens weer op, droog die trane af en voel sommer beter.

Ander kere word die besluit gemaak om nie nou emosioneel te raak nie. Dan word die tyd gebruik om al die positiewe dinge op te noem: alles waarmee ek geseën is, ’n wonderlike ondersteuningstelsel, ’n gesonde liggaam.

Deel van dapper wees, is om in voeling te bly met wie jy is en wat jy voel en om praktiese maniere te vind om die lewe se op en af te hanteer.

Wat my opgewonde maak oor die toekoms is die moontlikhede wat voorlê. Die verrassings wat die lewe nog inhou – vir myself en die kinders.

As ’n mens net eers by die punt kan kom waar jy oop is vir groei en verandering … Wanneer dit nie net woorde is nie, maar dade word. Dis dán wanneer wonderwerke begin gebeur.

Vorige artikelHou op teen verandering baklei!
Volgende artikelJa, jy kan … jou ideale só bereik