‘Die vroue van die plantasies inspireer my’

48

HENRIETTE MARX – eienaar van Coffee Excellence en aanbieder van kykNET se program oor koffie – is opnuut nederig ná haar besoek aan Colombia. Sy maak haar hart oop oor hoe die vroue daar haar inspireer het.

My liefde vir koffie is in ’n kliphuisie voor ’n koolstoof gebore. My oupa het vyf uur in die oggend die koolstoof warm gemaak en die ketel gekook.

Hy het ’n plek van gemoedsrus en troos geskep. ’n Plek waar ek as klein meisietjie kaalvoet deur vrugteboorde kon hardloop en met vrymoedigheid perskes kon pluk.

Daar het ek met pikswart moerbeivoetjies rondgehardloop en saam met Oupa granate oopgebreek dat die sap oor my ken spat … Daar het ek lief geraak vir Oupa se boeretroos.

’n Koppie koffie maak emosies in mense los. Met oë wat wonder, staar die vroue wat in die plantasie werk na my horlosie en oorbelle.

Dis asof hulle oë duidelik sê dat hulle nog nooit sulke mooi juwele gesien het nie.

Hierdie vroue se gesigte is sonbevlek, hulle lywe is moeg en hulle oë sonder drome.

Ewe skielik dink ek aan my duur gesigprodukte en elektriese tandeborsel. Hierdie vroue het nie eens geld vir gesigroom nie. My hart was seer, maar dit het my opnuut nederig gemaak.

’n Toegewydheid wat ’n mens inspireer om meer te wees. Die meeste vroue moet deesdae hard werk, maar om van drie uur die oggend tot laatmiddag ’n mandjie bessies wat 12 kilogram weeg met ’n nylontou om jou heupe te bind, heuwel op en heuwel af te loop om die rooiste bessies versigtig te pluk, is ’n ander soort toewyding.

Nadat die mandjies geweeg is, kry elke vrou ’n loonkaartjie. Ek het eindeloos baie respek vir hierdie vroue.

Vroue met ’n vasberadenheid om te sorg en te oorleef. Dis koud, nat en donker. Die horing het geblaas en dis tyd om op te staan. Dis meestal toegetrek – daar is geen maanlig of sterre wat die plantasie kan verlig nie.

Ná ’n voedsame ontbyt word hulle kinders óf saam gevat óf in ’n dagmoeder se sorg geplaas.

Of hulle nou siek is, koud kry of moeg is, werk wil hulle werk. Hulle moet pluk, want dis die enigste manier om te oorleef.

Nie net koffie nie, maar koffie met hart en siel. Wanneer ek my koppie koffie vashou dink ek aan die vroue wat hierdie bessies gepluk het – aan elkeen se seer, se denkwyse en se emosionele vrae.

Ek dink aan hulle stories. Die een se kind is dood, die een is ’n ouma, baie van hierdie vroue is haweloos. Party het uit die kloue van prostitusie ontsnap – elkeen dra swaar aan haar eie emosionele bagasie.

Die reuk van ’n magdom vroue se emosies prikkel my hart terwyl ek koffie drink.

My hart sal altyd vir die stories in my koffie klop. Die program, Net Koffie met Henriëtte Marx, is nie net nog ’n program nie. Dis ’n storie wat vertel word – ’n storie van vroue wat hard werk en sorg.

Dis ’n verhaal van plaasboere wat na hulle gemeenskap omsien.

My hart klop vir die koffieblommetjie, die bessie, die boer, die plantasie, vir boere van integriteit en veral vir elke vrou wat douvoordag opstaan om te gaan pluk, swaar te dra en te sorg.

Vorige artikel[PODSENDING] Lyding skei ons nie van God nie
Volgende artikel‘Selfvertroue en dissipline is gelyk aan sukses’