Dít inspireer my! (Minki van der Westhuizen)

644
Minki van der Westhuizen

EK IS OP MY GELUKKIGSTE …
wanneer almal om my gelukkig is. Wanneer daar in ander se behoeftes voldoen word. Wanneer hulle gelukkig en tevrede voel, voel ek ook so.

OM TE ONTSPAN …
lê ek graag in die bed en TV kyk. Ek is vreeslik lief daarvoor. Veral periodedramas soos The Crown. Ek is ook mal oor liefdesverhale, enigiets romanties.

WAT EK WAARDEER …
van myself is die vermoë om empatie met ander mense te hê. ’n Sagte hart en begrip. Daar sal soveel minder konflik en oordeel wees as mense die vermoë kweek om hulleself in iemand anders se skoene te kan plaas.

MY GROOTSTE BEDERF …
is om ’n mooi blomme te kry. Dis nie iets wat ek vir myself sal koop nie, maar ek is tog mal daaroor. Enige blomme. ’n Bos of een mooi blom op sy eie. Dit maak my gelukkig om daarna te kyk.

EK LAG HARDOP …
vir Mr Bean en vir my kinders. Vir hulle oulike sêgoed. Ek leer nou die dag vir die een ’n groot woord – opbouend – en vra later dat sy dit terugherhaal. “Ingebou,” sê sy, heel ingenome met haarself.

VIR MY BETEKEN VAKANSIE …
om niemand vroegoggend by die skool hoef af te laai nie. Die lekkerte om laat te slaap en sommer heeldag in ons pajamas te bly. Die kinders voel ook so.

WAARSONDER EK NIE KAN LEEF NIE …
my gesin en familie. Dis ’n voorreg om die lewe te kan deel met mense wat my ken, liefhet en aanvaar net soos ek is – foute, goeie punte en al.

EK VOEL GELIEFD WANNEER …
Iemand vir my ’n gunsie doen, veral as dit iets is wat ek nie self graag wil doen nie. As iemand my baba se doek byvoorbeeld wil omruil, voel ek baie geliefd!