‘Ek het my doel in die lewe gevind’

319

“Wat wil U van my hê?” spook ek dag en nag met die Here.

“Wat beteken dit om ’n ‘ware kind’ van U te wees? Help my tog!” Moet ek regtig ophou rook? Wat wil God van my hê?

Die antwoorde kom nie oornag nie, maar nuwe vriende kom op my pad om saam met my aan my nuwe toekoms te bou. Een so ’n vriendskap is die leeuman van Namibië. Drie maande later bring hy my na hulle plaas toe.

Ek het al heelwat van die Harnas-wildstigting, ’n wildrehabilitasieplaas, gehoor, maar was nog altyd ’n bietjie lugtig vir diere en die natuur. Ek sou nooit kon droom om uit my eie hierheen te kom nie.

Nou is dit anders. Ek is vreeslik verlief en sal enigiets doen om sy wêreld beter te leer ken. My gemaksone word heeltemal omvergewerp. Om die een of ander rede is daar egter ’n wonderlike rustigheid in my. Miskien is dit bestem dat ek hier moet wees.

Later word dit verder bevestig deur klein Nanna Paulus, ’n San-seuntjie van die area wat diep in my hart ingekruip het. Hy het my oë oopgemaak vir die werklike lewensomstandighede van die Sand.

Hulle sukkel om by die moderne lewe aan te pas. Kinders wie se drome elke dag vertrap word. Kinders wat niks weet van moderne sosiale gewoontes en Westerse idees van higiëne en dissipline nie. Hulle druip skool omdat dit vir hulle ’n vreemde instelling is.

Dis tóé dat die idee van die Cheeky Cheetah Club ontstaan het – ’n sentrum waar plaaslike kinders gehelp word met die oorbrugging vanaf die veld na die skoolbanke.

Ek het altyd skaam gekry vir my verlede. Gewens ek kon dit net uitvee. So betekenisloos, maar God het my gehelp om sin daaruit te maak. Ek het duur lewenslesse geleer en kan dit vandag met ander deel.

God was my genadig en Hy weet waarheen my reis is. En al het ek dit via ’n paar afdraaipaadjies gedoen, het Hy my nog altyd gelei.

Ek maak nog baie foute. Ek het nog baie verhoudings wat ek moet herstel; vergifnis wat ek moet soek en gee. So baie keer wat ek nog die knie sal moet buig. Maar solank die son oor Harnas opkom en sak, word ek gevul met vrede.

Dis ware geluk wat deur my spoel. Sonder genade kon ek nie vir Jesus en my familie liefhê en die kennis hê nie. Daar is dinge waaroor ek spyt is en waarvan ek liefs wil vergeet. Ek besef egter dis wat my nederig en geanker hou. Dit laat my onthou hoe feilbaar ek is.

Maar ten spyte van my swakste oomblikke, was ek altyd toegevou in onvoorwaardelike liefde.

– JO VAN DER MERWE

Vorige artikelWat die Bybel oor jou geldsake sê
Volgende artikelIRENE FISCHER: ‘’n Woord druk my nie in ’n boksie nie’