“Ek moes leer sê: Ek het depressie …”

86

Op die oog af, is Johan Laten ’n gelukkige man. Vir jare lank het hy geswyg oor die vlae depressie wat hom elke nou en dan van binne af versmoor het. Al dra hy steeds die donkerte in hom, het hy geleer om voluit daarmee saam te leef.

Smile, Johan, smile. Dink aan nog ’n grap. Enige iets. Dalk moet ek net ’n gesig trek. Dit voel asof daar ’n klip tussen my ribbes lê. Boonop wil my kop bars. Die hoofpyn sit al vir dae lank, en niks wil dit beter maak nie.

Gelukkig is toneelspeel tweede natuur. Miskien kan ek eendag nog ’n loopbaan daarvan maak?

’n Mens sal nou nooit weet of dit aangeleer of aangebore is nie, nè? Het die depressie my toneelspel ontwikkel, of het ek bloot geleer om die depressie met my talent toe te smeer?

Wag, daar onthou ek nou net weer ’n lekker grap. As ek net my dooie lyf uit die stoel uit kan oplig om dit te vertel – want dié storie het handgebare en gesigsuitdrukkings nodig.

Dit voel asof die aarde se swaartekrag my insluk. Vassuig.

Ek kan nie … Johan! Johan! Johan! Die see van laggende gesigte voor my raak dof.

Dit klink asof hulle my naam deur ’n pyp roep. Vertel gou weer die storie van die kameelperd. Toe! Toe! Dis nie eintlik die een wat ek wou vertel nie.

My mond is droog. ’n Skaam hitte kruip diep vanuit my lyf teen my nek op. Met die heel laaste bietjie krag wat ek bymekaargeskraap kry, skuif ek vorentoe op my stoel.

Skielik is almal stil. Afwagting hang dik in die lug.

Depressie. Dis toe wat ek op universiteit gekry het. Nie ’n sorgelose studentelewe of ’n graad nie. ’n Siekte.

Vir die eerste keer het hierdie vernietigende gevoel aan my binnekant ’n naam gehad. Dankie tog! Ek het stil-stil ’n kliniese sielkundige gaan sien. En stil-stil daaroor gebly.

Natuurlik hét ek ’n graad gekry, en ook ’n sak vol mooi herinneringe. Maar daar was altyd ’n donker randjie om alles. ’n Mens begin dink dat jy ondankbaar is. Dat daar “fout” is met jou.

Hoe is dit moontlik dat alles soveel moeite is? Ander mense beweeg dan so liggies deur die lewe.

Ek wens dat daardie diagnose die groot omkeer in my lewe was. Ongelukkig nie. Al was die verligting groot, was die siekte nog stil. Taboe.

Daar was meer as een sessie by die sielkundige. My ma was ook op ’n kol saam. Dis egter waar dit gebly het – in die terapiekamer.

Al het ek die diagnose gelate aanvaar, was ek nog nie dapper genoeg om met my siekte strate toe te gaan nie. Dis jammer. Dinge kon soveel jare gelede al beter geraak het.

Waarom het ek dit bly wegsteek? Dalk omdat ek teen daardie tyd al so goed daarmee was!

Dit was tyd vir die army. Die onderwysdepartement het ’n stokkie voor my honneursstudie gesteek, en gesê ek moet eers my verpligte diensplig gaan doen voor enige verdere studie.

“Links, regs, links, regs, links, regs … aandag!” Die son bak genadeloos op ons neer.

Dun, bruingebrande seunskindarms klou aan wapens vas. Sommige arms is rooi verbrand.

Moenie huil nie. Moenie huil nie. Moenie huil nie … Dis een ding om van hitte en uitputting om te kap. Dit gebeur byna daagliks in die weermag.

Dis ’n heel ander ding om totaal en al in duie te stort. Tog dink ek dat dit amper dieselfde voel.

Jy kom op ’n punt waar jy glad nie meer beheer het nie. Jy wil. Jy wil aanhou, uithou, vashou … maar jy val, val en val. En wanneer jy wakker word, is jy op ’n heel ander plek.

Waar is ek? My oë is toe en swaar. Waar? My kop is dik en deurmekaar. As my ooglede net wil oplig. Oopmaak.

Hoe lank is ek al hier? Twee weke? Dalk drie. Die dae loop in mekaar in, en oor en weer.

Al dra ek nie meer die stewels en geweer nie, is ek besig met my eie stryd …

Die weermag het my medies ongeskik verklaar om die offisierskursus te volg. Dit is hoe ek in 2 Militêre Hospitaal beland het.

Vir twee lang maande se terapie. Alles is oopgekrap en opgediep.

Die probleem met depressie is dat wanneer jy die oorsaak daarvan ontdek, dit maar net die begin van die siekte is. Nie die einde nie.

Die oorsaak van depressie is nie soos ’n gebreekte arm wat jy kan spalk nie. Of mangels wat jy kan verwyder nie.

Jy moet om dit, oor dit, deur dit, verby dit, onder dit en saam met dit werk. Met medikasie of terapie, of albei.

Dis nie dat my grootwordjare ongelooflike tragies was nie. Daar is baie mooi herinneringe ook.

My skooldae was vol allerhande buitemuurse bedrywighede, en tuis het ek en my suster die liefde by my ma gekry wat kinders nodig het.

Tog het ’n paar traumatiese gebeure moontlik die sluimerende chemiese wanbalans in my brein geaktiveer.

My pa was ’n alkoholis. Dit voel of ek sommige dinge glashelder onthou, en ander is weer vaag.

My pa is dood toe ek tien jaar oud was. ’n Mens se herinneringe is maar altyd onbetroubaar …

Wat ek wel baie duidelik onthou, was my gedurige vrees vir “wat sal die mense sê”.

Wat sal die mense sê as hulle weet van my pa? As hulle weet my ma kry swaar. Ons kry swaar. As hulle weet dat ek sommer vir enige ding huil.

Daarom het ek ’n front voorgehou. Dit gaan goed. Altyd. Ek het so bekwaam daarmee geraak, dat ek ook myself kon bluf.

Hoekom voel ek dan so sleg as alles so goed gaan? Slaap is ’n stryd, ook om ordentlik te eet … Dis baie vreemd vir ’n gelukkige mens!

Jy sou dink dat die intense terapie in die hospitaal my keerpunt was. Ook nie. Selfs daarna, kon ek nog steeds nie oor my siekte praat nie.

Aan die een kant was ek baie bewus van die stigma, aan die ander kant wou ek nie mense daarmee belas nie. Nie my vrou nie, nie my kinders nie, nie my kollegas nie.

Voordat ek uiteindelik besef het dat ’n mens regtig ’n vol lewe ondanks depressie kan lei, het ek my bes probeer om dit te ignoreer.

Om te keer dat my gedagtes in depressie se rigting dwaal, ploeg ek alles in my loopbaan as onderwyser in.

My dae het bestaan uit werk, werk en werk. Wanneer dit begin voel het of dinge weer gaan ontspoor soos destyds in die weermag, het ek my vir terapie aangemeld. En later ook medikasie begin gebruik.

’n Bekommernis oor wat die mense sou sê as hulle moes weet, was steeds daar. As dit nie vir my vrou was nie, het ek dalk vandag nog bly swyg.

“Vertel my daarvan,” het Annette gesê. En ek het. Eers vinnig en kort. Later langer en intens.

In die veilige omgewing van ons verhouding, het sy my geleer om daaroor te praat. Stelselmatig, het alles vir my makliker geword.

Hoe meer ek met Annette oor my geveg met depressie kon praat, hoe makliker het dit geraak. Die praat, en die depressie.

Om stil te bly, was die grootste fout wat ek gemaak het.

Die mense om jou kan sien daar is fout, maar as jy niks sê nie, kan niemand jou help nie.

Ek het gedink dis dapper om stil te bly en dit weg te steek, maar eintlik verg dit baie meer durf om te praat en te vra: Help my.

Depressie is regtig net ’n siekte, soos enige ander een. En dit kan behandel word.

Baie gelowiges sukkel veral daarmee om te erken dat hulle met depressie sukkel. Dit het egter niks met geloof te make nie.

Dit voel dalk soms asof die Here jou verlaat het, maar dit is beslis nie die geval nie.

Uit my eie ondervinding, weet ek dat Hy elke keer net op die regte tyd iemand gestuur het om my te help.

Hy los my nie om die siekte op my eie te probeer beveg nie.

Sedert ek oopgemaak het oor my stryd met depressie, het ek net ondersteuning en begrip gekry.

Wanneer ander mense jou gedrag verstaan, oordeel hulle nie sommer nie.

Behalwe om verantwoordelikheid vir my siekte te neem, moet ek ook sorg dat die mense om my weet hoe om my by te staan.

Meestal het ek net ’n geduldige oor nodig, nie ’n antwoord of aksieplan nie.

Dis so maklik om jouself te bejammer. Of om depressie as ’n verskoning te gebruik om nie voluit te lewe nie.

Net soos wat mense in rolstoele tennis speel en fietsry, kan jy jou depressie vat en léwe. Lag. Gelukkig wees.

In plaas daarvan om dit weg te steek, het ek sedertdien vir my ’n baie meer doeltreffende selfhelpgereedskapkis bymekaargesit om teen depressie te veg.

Die eerste ding is mense. Iemand met wie jy kan gesels. Sommer maar net praat. Nie noodwendig ’n terapeut nie.

Beweeg en voeding is ook van onskatbare waarde. Jy hoef nie “lus” te wees vir oefening om te werk nie – dit help in elk geval.

Boonop is daardie goedvoelhormone wat deur jou lyf spoel nadat jy ’n ligte lagie sweet ontwikkel het, verniet! Gesonde kos doen ook wondere.

Probeer om besig te bly met ander aktiwiteite waarvan jy hou. Handewerk is kos vir die siel. Maak iets. Plak, knip, skaaf, of grawe in die tuin.

Mooi musiek help my om beter te voel, en ’n goeie komedie op televisie ook.

Daar is tye wanneer depressie in “remissie” gaan, en jy sommer baie beter voel. Dit is juis daardie tye wat jy moet volhou met jou goeie gewoontes.

Só bou jy ’n buffer op vir die volgende keer wanneer depressie kop uitsteek.

Dit is doodstil, donker en koud. My asemhaling is hard en vlak. Dit voel asof almal dit kan hoor.

My handpalms is klam, en my mond droog. Verhoogvrees. My geliefde vriend!

Dis altyd net genoeg om die vertoning aan die gang te kry. Nooit te veel om die vertoning te verwoes nie, en nooit te min om die gehoor te verveel nie.

Die musiek begin speel. Drie, twee, een. Ligte. Die kollig is so skerp dat ek vir eers niks om my kan sien nie. Dit voel onmiddellik warm.

Die koue, donkerte is weg. My asemhaling is reëlmatig en diep. Hierdie keer wonder ek nie wat om te sê nie. Ek weet presies.

Gemaklik en energiek staan ek op vir die openingstoneel van my eenmanvertoning #puppet.

“Goeiemôre, goeiemôre, graad 11’s. Hoe gaan dit vandag? Petronella, wat sit jy so met jou … a-a, nie in die skool nie, nè?”

Dis altyd lekker om die gehoor se aanvanklike verwarring te beleef.

Niemand het gedink hulle kom woon vandag ’n Geskiedenisklas by nie. Maar waar is daar nou ’n beter plek om mense van depressie te leer as in ’n klaskamer!

My wildste drome is oortref toe ek met #puppet op die verhoog ’n verskil in depressievegters se lewens kon begin maak.

As deel van my Depressie 101-program tree ek by skole, kerke en organisasies op. Die kersie op die koek was ook my boek: Práát oor Depressie.

Die plan was nooit om ’n influencer te word nie. ’n Paar jaar gelede het ek nie eens geweet wat die woord beteken nie. Vandag, kan ek aan geen beter roeping dink nie.

Vorige artikelWys jou natuurlike skoonheid
Volgende artikelVergelyk jy jouself met die vroue om jou?