Hanna Grobler: “Ek wil altyd dinge beter maak vir ander”

286

Hanna Grobler is baie meer as net ’n mooi gesiggie op die rooi tapyt. Sy is ’n vrou met vele talente – van tv–werk tot verf tot werk in arm gebiede. Die een ding wat egter soos ’n goue draad deur haar lewe loop, is ’n gelowige hart vol liefde vir haar medemens.

Ek dink ek is ’n baie beter skilder as aktrise. Ek het die talent waarskynlik by my pa, Nic Grobler, geërf. Hy is ’n afgetrede dominee, maar ook ’n ongelooflike beeldhouer.

Jare gelede was hy onder meer die persoonlike beeldhouer van oudpresident Marais Viljoen, maar hy is vandag steeds baie aktief as kunstenaar. Hy maak beelde met ’n geestelike boodskap.

Terwyl hy in die beeldhoukuns spesialiseer, is ek gemakliker met olieverf op doek. My oupa het eintlik destyds al sy potensiaal raakgesien toe my pa en sy boeties klei-ossies gemaak het. My pa se ossies was baie mooier as sy boeties s’n; toe moedig Oupa hom aan om kuns te studeer. Daarna het hy ook teologie gaan studeer. Ek dink die kombinasie van dié twee dinge het ’n groot invloed op my eie lewe gehad.

Dit het beteken dat ek in ’n pastorie grootgeword het met ’n pa as ’n gelowige én as ’n kunstenaar. Dit het my denke vrygemaak, en dis seker ook die rede hoekom ek nooit gerebelleer het nie.

Ek het genoeg vryheid gehad om vrae te vra en my kuns uit te leef en is aangemoedig om dit te doen.

Op laerskool was ek ’n skaam, teruggetrokke meisietjie, maar op hoërskool het ek begin blom. My ouers het my kunsskool toe gestuur. Dit was die beste ding wat hulle kon gedoen het.

Ek glo vas dat daar ’n spesifieke dag en tyd was waarop ek skielik met my kuns geseën is. My ouer sussie, Welmarie, kon baie mooi teken, en ons twee het in haar kamer in die pastorie met papier en ’n klomp koki’s gesit.

Ek onthou nog baie goed hoe sy sekere kleure koki’s met mekaar laat “trou” het. Sy het verduidelik dat pienk en blou, byvoorbeeld, saam hoort.

Ek is oortuig daarvan die Here het daardie dag gedink: Welmarie, wat ’n goeie idee! En toe kry ek ’n kunstalent.

Ek is gelukkig om met meer as een talent geseën te wees. Elke talent kry ’n beurt volgens die verskillende seisoene in my lewe.

Ek skilder vir ’n ruk en doen dan weer teater- of TV-werk. Of iets heeltemal nuuts. Soos die CD’s en DVD’s Buster die Brak, waar ek as “juffrou Hanna” kinders help om hulle geestelike gawes te ontdek.

Ek sê ook altyd my voltydse beroep, my regte werk, is welsyn, want dis waaraan die meeste van my tyd spandeer word.

Hierdie drie dinge – kuns, akteur-wees en welsynswerk – is baie nou met mekaar verweef.

Die een dien as inspirasie vir die ander.

Op skool het ek byvoorbeeld as vrywilliger by ’n sentrum vir bejaardes gaan werk en dis daar dat ek geleer het om te act. Ek het geword wat die oumense wou hê ek moes wees.

“Hoe gaan dit met jou, my kind?” sou die oumatjie vra, asof ek haar kleinkind was.

Dan sou ek antwoord: “Dit gaan goed dankie, en met Ouma?”

Daar was ook die oom wat eenkeer nie so lekker gelyk het nie. Toe vra ek hom wat is fout en bied aan om die dokter van die tiekieboks af te bel. Ek het ’n denkbeeldige nommer geskakel en met ’n denkbeeldige dr. So-en-so gepraat.

“Hy sê Oom moet net ’n bietjie water drink,” het ek die “dokter” se raad aan die oom oorgedra.

Die uitdrukking op sy gesig het ’n diep indruk gemaak. Hy was vreeslik verlig toe hy die glas water kon drink – soos die “dokter” aanbeveel het. Sy hele gesig en lyf het ontspan.

Om te dink dat so ’n klein dingetjie so ’n groot verskil kan maak. Dit was maar een van die waardevolle lesse. Oumense het soms net ’n bietjie aandag en begrip nodig. Iemand wat tyd vir hulle maak. Dis tog nie te veel gevra nie!

Ná skool het ek ’n beurs gekry om in die skone kunste te gaan studeer. Maar die kombinasie van kuns en drama het baie meer aanloklik gelyk – performance art (lewende kuns wat met toneel gekombineer word).

Met my nagraadse dramastudie het ek nogal geskiedenis gemaak. Ek was die eerste student aan die Universiteit Stellenbosch wat die teoriedeel by die kunsdepartement en die prakties by die dramadepartement gedoen het.

Ook hiér het die liefde vir oumense ’n deurslaggewende rol gespeel. Ek het al agtergekom dat die Here soms spesifieke mense in my lewe bring met wie ek ’n pad stap.

As student was dit oom Limpie Basson, wat op sy dag ’n baie suksesvolle akteur was.

Toe ons mekaar leer ken het, was hy verarm en eensaam. Ons sou ure lank sit en gesels en het mettertyd amper soos pa en dogter geword. Oom Limpie was ’n groot inspirasie vir my kunsprojekte as nagraadse student.

Wat is my roeping? Ek dink die strewe om, volgens elke seisoen, soos die Here dit bepaal, my talente en passies uit te leef. Nie net vir myself nie, maar om regtig ’n verskil in die wêreld te kan maak.

Ek het geleer om nie angstig te raak oor die toekoms nie. Dis iets wat ’n mens in ons bedryf nogal baie sien. Daar is min werk, en akteurs raak benoud oor waar hulle volgende salaristjek vandaan gaan kom.

Ek voel jammer vir hulle en wil so graag vir hulle sê: Wees net rustig en vertrou Hom vir die volgende seisoen.

In my eie lewe begin ’n nuwe seisoen dikwels as ’n gedagte. Iets soos: Dit sal lekker wees om weer te skilder. Of: Ek’s nou lus om ’n bietjie teaterwerk te doen. Of: Ek sal graag ’n welsynsinisiatief in hierdie spesifieke area wil begin.

Dan is dit presies wat Hy volgende op my pad stuur. Die antwoord lê in stil wees en vertrou.

Die ouer mense is ’n generasie by wie ons baie kan leer. Ek dink ek is gebore om vir oumense lief te wees. Dit is ’n gawe.

As ek aan moontlike invloede dink, staan ouma Nelie, my naamgenoot, heel eerste in die ry. Sy was ’n dierbare, diep gelowige vrou wat 93 jaar oud geword het.

Toe ek haar eendag vra hoe sy dit regkry om so oud te word, het sy geantwoord: “Ek het my vader en my moeder geëer.” En ek het besef: Dis mos hoe dit in die Bybel ook staan!

By Oupa het ek geleer dat ’n mens nooit te oud is vir die liefde nie. Hy het sy eerste twee vrouens oorleef, en is op 84 vir die derde keer getroud. Met ’n jonger vrou wat hy “skelm” ge-date het. In sy jong dae, as onderwyser, het hy vir haar skoolgehou. Hulle paaie het jare later weer gekruis.

My pa het die tweetjies getrou en hulle het sommer gekoek-en-tee by die huis. Dit was so spesiaal. Oupa is twee jaar later oorlede, maar hy het twee jaar van liefde en geluk gehad.

Wat so kosbaar van oumense is, is hulle absolute eerlikheid. Ek sien dit gereeld by die ouetehuise waar ons gaan kuier as deel van my welsynsorganisasie, die Hanna Charity and Empowerment Foundation.

Daar is ook groot opregtheid by hulle, soos tannie Nora, wat elke dag met ’n blommekrans op haar kop rondgeloop het. Sy het heeltemal verspot gelyk, maar dit het haar min gepla.

Toe vra ek: “Hoekom ’n blommekrans, Tannie?” En sy gee ’n vredige glimlag en sê dis die simbool van haar verlossing: Jesus se kroon.

Op ’n dag vra ek vir ’n tannie met Alzheimersiekte of sy vir Jesus ken.

“Wie’s dit?” vra sy. Sulke goed maak jou hartseer. God se genade is gelukkig groot en net Hy sal weet of dit te laat was vir haar of nie.

Welsynswerk, veral in armer gemeenskappe, lê my baie na aan die hart. Daar word dikwels gesê: “Charity begins at home.” En dan voeg ek altyd by: “But it doesn’t stop there.”

Ek weet mense wonder wanneer om te gee en wanneer nie. Wanneer gaan die ou die geld uitdrink en wanneer nie?

My siening is dat daar eendag vir ons gevra gaan word: “Het jy gegee?” Nie, “hoekom het jy besluit om nié te gee nie?”

As ons nie ’n persoon ken of self in sy skoene staan nie, hoe kan ons weet wat hy met die geld gaan doen? Hoe kan ons sommer net aannames maak?

Daarom is my raad, gee wanneer jy het om te gee.

As die ander persoon jou goedheid misbruik, sal hy of sy daarvoor verantwoording moet doen. Dis nie vir ons om te oordeel nie.

Ons opdrag is doodeenvoudig om vir God en die mense om ons lief te hê. Vir my is dit tweede natuur om na ander uit te reik.

Die juffrou het al destyds op my kleuterskoolrapport iets geskryf soos, “Hanna gee baie om vir haar maatjies.” Sy het my raak beskryf. Ek wil altyd dinge beter maak vir ander.

So, hoe besluit ’n mens na wie toe om uit te reik?

Vir die vrywilligers by die Hanny Charity sê ek graag, “As iemand sê, ‘Pasop vir daardie mense’, is dít die mense wat ons moet help.”

Ek glo ook dat ons mekaar saggies en met begrip moet hanteer. Oumense het byvoorbeeld ’n groot behoefte daaraan dat jy net geduldig by hulle sal sit en luister.

Die een ding waarin ek onwrikbaar glo, is mense se goeie bedoelings. Mense is inherent goed – dit maak nie saak wat hulle velkleur, kultuurgroep of godsdienstige oortuiging is nie.

Gaan delf na die oorspronklike bedoeling van hulle optrede of besluite en jy sal agterkom dat dit waarskynlik goed was.

Vorige artikel[VIDEO] HOE OM… te sê “vergewe my”
Volgende artikelJy bekommer jou soms oor onnodige dinge