Ilne Benadie: ‘Wen of verloor, vat die kans!’

50

Haar pa was reg. Ilne Benadie is net so bruisend soos sjampanje–borrels. Altyd entoesiasties en passievol oor die lewe. Maar sy ken ook teleurstelling en mislukking, hoe om kanse te waag en danksy uitdagings te groei.

Die foon het gelui. Mamma het geantwoord. ’n Paar minute later was kleinsus Katinka in ekstase.

En ek, verpletter deur jaloesie.

Dit was die mense van M-Net se destydse K-T.V.-kinderkanaal op die lyn. Hulle het oudisies by laerskole gedoen om na jong, talentvolle aanbieders te soek.

Ongelukkig was ek reeds op hoërskool – al lankal lief vir die kollig, goed met kunswedstryde, ’n uitblinker in redenaars – maar nou ja …

Ek en Katinka het gereeld aanbieder-aanbieder gespeel.

Ousus skryf die teks, kleinsus dra dit op Pappa se videokamera voor.

Maar nooit, ooit was ek voorbereid op die dag wat sy toe wraggies die werk kry nie!

Dit was enige tiener se droom – veral myne. En nou kry sy die kans om die droom uit te leef, en ek kry niks!

“Dis so onregverdig. Wie het haar in elk geval afgerig? Wie moet eintlik die aanbieder wees?” is daar met wrewel geredeneer.

Dit het lánk gevat om oor die jaloesie te kom; om hierdie groot voorreg vir my sussie te kon gun.

Eers nou, as grootmens – en as iemand wat die op en af van die bedryf ken – weet ek dat dit nie net maanskyn en rosegeur was nie.

Katinka moes gereeld skoolwerk inhaal, het nooit gewone vakansietye gehad nie, moes dikwels rondreis en op ’n jong ouderdom gewoond raak aan die druk van mense wat haar herken.

Sy moes maer bly sodat die regte klere kon pas. Geen puisies hê nie, sodat die grimering mooi kon lyk … al daardie negatiewe dinge wat so saam met die glamour kom.

Katinka het nooit weer in TV-werk belanggestel nie. As geoktrooieerde rekenmeester werk sy deesdae as senior lektor by Tukkies.

Dit was een van die groot lesse in die lewe. Om te leer hoe om vir iemand anders iets te gun wat jy eintlik self so graag wou hê. Om regtig bly te wees oor ’n ander persoon se sukses.

Vandag voel dit simpel dat ek so jaloers was. ’n Mens wens die horlosie kan terugdraai word om meer ondersteunend te wees.

So het elke ding sy tyd en plek. Die kans om self op TV te wees sou eers ’n paar jaar later, op 19 aanklop, toe ek ’n rol in Egoli kry. Van toe af was die sepiewêreld ’n tweede tuiste. My soort plek en mense.

Pappa het my altyd sy “sjampanje-borrels” genoem. Altyd bruisend en borrelend oor die lewe.

Ek onthou ongelooflike gelukkige kinderjare – ure se popspeel, baie maats, lekker kinderpartytjies met tuisgebakte koek, en speletjies soos vroteier speel. Atletiek, hoogspring en netbal op laerskool. Swemgalas en kultuur …

Paasvakansies het ons gesin koers gekies Bosveld toe, en Desembervakansies is daar gewoonlik by ouma op Wildernis gekuier.

Dit maak nie saak wat ons gedoen het of waar ons was nie, die refrein was min of meer dieselfde: “Oe, hierdie is die heel lekkerste dag (of plek of vakansie of ervaring) van my lewe!”

Blykbaar was omtrent alles, altyd, vrek lekker.

Behalwe hoërskool … en ek is nie eens skaam om dit te sê nie.

Dit was ’n groot uitdaging.

Dis vandag ’n spogprivaatskool in Johannesburg, maar destyds was dit heeltemal anders. ’n Piepklein skooltjie – ons was skaars 40 matrieks – met min om na uit te sien.

Die onderwysers het geen indruk gemaak nie, en die vakke was gewoon en oninteressant (ek wou drama vat, maar dit is nie aangebied nie).

Boonop was die groepie kinders ook te klein om ware sielsgenote te vind. ’n Mens moes maar oor die weg kom met wie daar was – die goths aan die een kant van die spektrum, en die bleeksiele aan die anderkant.

Dit het my so ’n bietjie momentum en passie laat verloor.

Tog was dit juis hierdie ervaring wat my later aangespoor het om na meer diverse ruimtes met ’n groter verskeidenheid mense en dinge te gaan soek.

Mense by wie ek kon aanklank vind; wat opgewonde geraak het oor die dinge waaroor ek entoesiasties was.

Hierdie plek is in die TV-wêreld ontdek. ’n Mengelmoes van mense, kulture, denkrigtings en gewoontes.

Tog is dit jammer dat ek nooit iets anders as net drama gedoen het nie.

Op so ’n jong ouderdom op die stel van ’n sepie, my eerste werk, was daar nooit kans om die dramagraad te voltooi nie.

Terugskouend sou dit lekker gewees het om iets soos skakelwese te kon studeer, of grafiese ontwerp. Vaardighede wat ek vandag broodnodig het, en nou van nuuts af moet leer.

Werksgewys was my passie nog altyd net akteur-wees, maar ek is vinnig besig om te ontdek dat daar tog meer in hierdie girl steek.

Lewensdoel, roeping? Op skool en as jongmens was dit vreemde woorde … tot ek die dag ma geword het.

My hele hart en wêreld het skielik in plek geval. Die besef was klokhelder: Ek is gemaak om ’n ma vir my kinders te wees – om hulle groot te maak om gelukkige, gebalanseerde grootmense te word. Dis die groot droom.

Die loopbaan as akteur, die jare van toneelspeel, die bekendwees … alles het skielik vervaag en onbelangrik geword. My identiteit het nie meer in daardie dinge gelê nie.

’n Mens raak totaal onselfsugtig. Niks gaan net meer oor jou nie.

Alles van ma-wees is lekker. Die baie lag, die Disney-flieks kyk, die popspeel saam met my dogtertjie Mila (5) en Avengers saam met my seuntjie Hugo (8). Die saam laf raak as gesin.

Ons is mal oor musiek en sal sommer spontaan begin saamdans. Elke oomblik aangryp om die lewe te vier.

Selfs die kleintjies se vloermoere is nie te sleg nie.

By die kinders het ek geleer om in die oomblik te leef. Om die hier en nou te geniet en nie te wag vir môre, die volgende vakansie of “eendag” nie.

Vir hulle wil ek leer dat jy altyd goed genoeg is – en as iemand nie só dink nie, hoef hulle nie in jou lewe te wees nie.

Eers nou, as volwassene, besef ek die voorreg om in ’n huis groot te kon word met ouers wat onvoorwaardelik lief was vir ons.

’n Mens is nooit afgekraak nie. Ek is nooit vergelyk met my broers of suster nie (en hulle is albei baie slim).

Dit was lekker om toegelaat te word om my lawwe self te wees, die enetjie wat in haar eie verbeeldingswêreld leef. Nie iemand wat baie prakties of realisties is nie.

As jy vandag nog enigiets vir my gee wat soos ’n woordsom klink, slaan ek bot toe!

Om ma te wees is die grootste lewensvreugde, maar dit beteken nie hierdie rol is foutloos nie.

Ek moes vrede daarmee maak dat ek waarskynlik altyd die “swartskaap” van mammas sal wees.

Nie jou tipiese ma wat kan klere maak, some instik, koeke bak, ’n lekker bord kos kook, of wie se kinders broccoli eet nie.

Glo my, daar is hard probeer … maar dis nie die soort mens wat ek is nie.

Gelukkig is my kinders mal oor hierdie ma. Ons eet eerder take aways en lekkergoed. ’n Mens aanvaar dit naderhand as jy nie kan kos maak nie. En daar is mos winkels om by klere te gaan koop.

Om nie die tipiese ma te wees nie, maak my beslis nie ’n slegte ma nie.

Toe my oudste ’n paar maande oud was, het ek gereken dis tyd om iets nuuts te probeer.

Los ’n bietjie die TV en kies koers na die korporatiewe wêreld toe.

Dit kan mos net lekker wees! Dink net – gewone werksure, verlof, om af te wees op publieke vakansiedae … Al daardie voordele wat mense met gewone beroepe as vanselfsprekend aanvaar.

En toe, sowaar, met my min ervaring en al, kry ek die werk as skakelbeampte.

Dit het net ’n jaar gehou.

Die maatskappy sal dit nooit erken nie, maar ek is uiteindelik maar gevra om te loop. Want ek het almal uit die werk gehou!

Wou heeltyd nog ’n teetjie drink, nog ’n geselsie aanknoop. Dis mos baie lekkerder om sosiaal te verkeer as om by ’n lessenaar te sit en jou werk te doen.

Ha-ha. Nou weet ek … Soms moet ’n mens maar hou by wat jy ken en waarmee jy goed is.

My leuse in die lewe is: Vat ’n kans, wen ’n prys. As ’n mens nie waag en probeer nie, sal jy nooit weet nie.

Dit was nogal vir lank ’n innerlike blokkasie. Omdat ek net TV- werk geken het, het ek lank gesukkel om in myself te glo.

Om so vroeg al te begin werk het, het dit my nooit die kans gegee om my identiteit te ontdek nie. Nuwe goed te probeer nie.

Gelukkig word ’n mens ouer en kom agter daar is wel dinge, buiten toneelspel, waarmee jy goed is.

Ma-wees is een daarvan, maar meer onlangs ook die besef dat hier dalk ’n verskuilde talent is om kreatief te skryf.

Een groot deurbraak was toe ek ’n kontrak met Purple Chair Publishers geteken het om ’n kinderboek, Korrels se Avonture, uit te gee. Alles self geskryf en geïllustreer.

En wat ’n ontdekking! Wat ’n wonderlike reis. Ek sou nooit gedink het dis moontlik om só iets te doen nie.

Dit het aanleiding gegee tot die besluit om Binnelanders te verlaat – sodat daar meer tyd vir my man, Marcus, kinders en stokperdjies soos skryf kan wees.

Die lewe bestaan uit seisoene, verskillende fases.

Party mense bly deel daarvan vir ’n leeftyd. Ander is net vir ʼn rukkie daar, en dan is dit tyd om te laat gaan.

’n Mens kan elkeen onthou en waardeer vir wat hulle in daardie fase beteken het.

Dit was ’n kosbare dag. Ek en my vriendin van kleuterskooldae, Karla Mellet, het by ons kindertjies se kleuterpartytjie soos twee tannies gesit en onsself in daardie oomblik raakgesien.

Teruggedink aan ’n vriendskap wat op dieselfde ouderdom begin het, en dekades later steeds sterk staan. Dit het skielik soos ’n vol sirkel gevoel.

Ander mense, weer, kom en gaan soos wat die seisoene verander.

My tweede huwelik het gewys daar is nie net een deksel vir elke pot nie. Die regte pasmaat word bepaal deur waar jou pot besig is om te prut.

Dit klink corny, maar die dag toe ek vir Marcus ontmoet het, het ek dadelik besef: hierdie is my deksel. Gelukkig het hy dieselfde gevoel.

By elke mens op jou pad is daar iets anders om oor die lewe te leer.

Die een ding waarvoor ek gereeld vir Marcus dankie sê, is die les dat geloof nie ’n stel reëls en regulasies is om na te kom nie.

Dit gaan nie oor godsdienstigheid nie, maar oor verhouding.

’n Mens hoef amper nie eens te sê jy is ’n Christen nie. Ander moet dit kan sien. Dis dan wanneer die Here die praatwerk doen, en jy net die instrument is.

Mense maak dikwels die opmerking: “Ilne, daar is ’n lig binne-in jou.”

Dis die grootste kompliment, en presies wie en wat ek wil wees. Nie perfek of hoogheilig nie, maar iemand wat mense goed laat voel. Met wie hulle kan identifiseer. By wie hulle weerloos en gemaklik kan wees. Ons het almal sulke mense nodig.

Pappa het altyd geleer: laat jou liggie skyn, want dan bring jy Lig in iemand anders se donker.

Mamma het weer die bewustheid geskep om niemand te oordeel nie – “want jy ken nie ’n ander mens se pad nie, stap nie in hulle skoene nie”.

Liefde en aanvaarding. Empatie en begrip. Dis hoe ek graag wil hê mense my moet ervaar en onthou.

Vorige artikelHoe om … verskille te hanteer
Volgende artikel[VIDEO] Lyding skei ons nie van God nie