Jo Black: “Soms moet mens die ergste beleef” [DEEL 1]

218

Die man met die kitaar en tatoes het gegaan van zero na hero. Vandag is hy steeds tokkelend op die kruin, maar in die reis na roem het sanger JO BLACK geleer om nuut oor sukses te dink.

Dit was optrede nommer 598. Elke vertoning het tot in daardie stadium soos soetkoek (uit)verkoop. ’n Groot eer vir enige sanger, want dit beteken mense hou van jou. En ek het geweet: “Om in hierdie beroep suksesvol te wees, moet almal van my hou.”

Hierdie keer het ons groot gegaan. ’n Teater met 700 sitplekke is bespreek, want om dit te vul (weet ons mos), is nie ’n probleem nie.

Ligte, musiek, aksie … Ek stap uit op die verhoog … en net 50 mense het opgedaag.

O, vrek.

Die eerste indrukke: “Wat het verkeerd gegaan? Hoekom hou mense nie van my nie?” In daardie oomblikke onthou jy weer hoe onsekerheid voel. Die vrees vir verwerping kom lê hol op jou maag.

Eers later die ontdekking: Die datums is verkeerd bemark. Die probleem was toe nie ék nie.

Daai ding het nogtans iets hierbinne wakker gemaak. My hele opinie van ’n suksesvolle loopbaan op sy kop gekeer.

As sukses aan die publiek se reaksie gemeet word, wat gaan gebeur as die tyd aanbreek vir die roem om te verdwyn?

Die laaste paar jaar het my op ’n plek gebring waar ek vrede daarmee gemaak het: Dit kom! En dis oukei, want Jo Black op die verhoog is presies dieselfde ou as Jo Engelbrecht by die huis. Man, pa en iemand wat ’n verskil wil maak.

Al wat deesdae kortkom, is die eenvoud van ’n tyd toe daar nie so baie druk was nie. Die gemis om gou kaalvoet winkel toe te gaan. Nou moet ek elke dag mooi lyk. Elke haartjie op sy plek. Want mense wil foto’s neem.

Geld en roem verander jou nie. Dit beklemtoon net die mens wat jy nog altyd was.

In my geval: kansvatter, go-getter, maar met ’n goeie hart.

Ek was ’n skarminkel op skool. Vir die eerste keer op 13 dronk op straat gearresteer. Moeilikheidmaker, stoutgat. As jy sê ek mag nie, het ek vir jou gewys ek kán.

Op ’n manier is dit nou nog so. Hulle sê moenie jou baard afskeer nie, want dit maak Jo Black wie hy is. Dis hoekom ek dit gedoen het, net om die teendeel te bewys.

My grootwordjare was dalk rof volgens ander mense se standaarde, maar dit was great. As kind, ’n oop, vry lewe, waarvoor ek vandag baie dankbaar is, want dit het my vinnig selfstandig gemaak.

In my kop het ek oral ’n plek gehad om te slaap. Vanaand by die huis, môre by Oupa, oormôre by ’n pêl en die naweek by my pa in ’n ander dorp.

Ek het gedoen net wat ek wou en was bevoorreg om ’n ma te hê wat nie te streng was nie, want ek sukkel maar met reëls.

My swakte eienskap is steeds impulsiwiteit.

Die beste eienskap: barmhartigheid en ’n liefde vir enigeen wat my pad kruis. Ek sou dít nie gehad het as dit nie vir my grootwordjare was nie; om ander se swaarkry te sien, vat aan jou.

Ek is my lewe lank al op mense ingestel. ’n Karaktereienskap wat waarskynlik by Ma Dorothy geërf is. Daar is altyd in die huis gespot dat ons nooit sal ryk word nie, want ons gee alles weg. Dis nou nog so.

Sy bedryf deesdae ’n blommewinkel. Jy vra vir ’n ruiker van R100, maar sy voel jy verdien eintlik een wat drie keer die prys werd is. En weet maar, sy gaan iewers deur die gesprek sê dat hierdie “Jo Black se winkel is” (dit is nie, ek het net die voorreg gehad om dit vir haar te koop). Dan vertel sy hoe stout ek op skool was, ensovoorts. Baiemaal weet mense nie eens wie hierdie Jo-kêrel is nie.

Ma is min gepla. Sy vertel, wys foto’s en gee CD’s weg vir ’n vale. Ek is “gestraf” met haar gee-hart.

’n Ander groot invloed was my oupa. ’n Man van sukses en aansien. Sy gunsteling-sê-ding was: “Walk with kings, but never lose your common touch.”

Ek het een middag van die skool afgekom, toe sit Oupa buite onder die boom en drink saam met ’n klomp boemelaars wyn. Sy redenasie: Partymaal het jy nie net gebed nodig nie, jy het ook ’n stywe dop en ’n goeie oor nodig. Die ouens het daar gesit en hulle harte teenoor hom uitgepraat, opgestaan en beter gevoel.

Pa Willie is seker my grootste ondersteuner. As iets in die media verskyn, sal hy dadelik bel en sê: “Het jy gesien? Jy is in dié of daai tydskrif.”

My liefde vir musiek kom van hom af. Hy het hope plate gehad en musiek in die huis gespeel. Ek ken nie ’n groter Elvis-fan nie.

Pa is ’n statige man. Streng, maar regverdig. Fisiek groot, met ’n stem twee oktawe dieper as myne. Armdrukker, bokser, stoeier. Maar op 70 is dit asof sy fokus verander het …

“The joy of life is in the giving,” het hy altyd gesê, maar met ’n onlangse kuier is dié woorde so ’n bietjie aangepas: “Jo, die vreugde van die lewe is eintlik opgesluit in die loving.”

Hierdie groot man wat nou die dag blomme in Namakwaland gaan kyk het. Die streng tradisionalis wat deesdae vir die kleinkinders voor ete malvalekkers onder die tafel voer.

Ek het geleer om ’n sagte hart te hê, gaan oor prioriteite. ’n Mens se geliefdes gun jou sukses, maar ten koste waarvan?

Ons moes almal iets prysgee. Ma wat om die draai bly, maar ons sien mekaar soveel minder. My vrou, Debbie, en die kinders wat oornag gewoond moes raak aan ’n tuisbly-man en pa wat skielik net drie keer per week by die huis is.

Ek het eendag trots vir Debbie vertel dat ons meer as 300 vertonings in tien maande gedoen het. “Great,” sê sy toe, en noem dat daar ook presies net soveel dae in tien maande is.

Dit beteken ek was elke liewe dag weg van die huis af. Duik in die bed vir ’n paar uur, en die volgende oggend weer op en uit voor die kinders wakker word. Wanneer ek wel by die huis was, was ek moeg en getap, en dan kry hulle net die bietjie wat oor is om te gee.

Ek moes opnuut balans vind. My fokus en ingesteldheid verander, sodat die mense in my eie huis eerste gelukkig kan wees, en daarna die publiek.