Leah: “Dis lekker om net myself te wees”

110

Dis moeilik om te glo, maar Leah was nie altyd gemaklik in haar vel nie. Die pragtige, bruisende blondekop het gesukkel met ’n swak selfbeeld. Gelukkig kan sy vandag met oorgawe sê: “dis lekker om net myself te wees!”

Pa-ppaaaa!” word daar in ’n uitgerekte neulstemmetjie gekerm.

“Dis nou mý beurt. Neem my ook af!”

Pa Deon is al agter my tweelingboeties aan met die nuwe videokamera, en hierdie sussie kan dit glad nie verdra nie.

“Wat van my? Ek wil ook afgeneem word!”

Opperste vermaaklikheidsterretjie. Drama queen. Van kleins af al. Die een wat al die aandag wou hê. Wat op die koffietafel in die sitkamer klim om te sing en te dans. Wat heeldag konsertjies hou.

’n Uitspattige, energieke dogtertjie wat niks wil mis nie.

Min dinge het verander.

Daar is destyds al daarvan gedroom om op die verhoog te wees. Baie ure is spandeer aan aktiwiteite om hierdie ideaal te verwesenlik. Sanglesse, dansklasse, hordes kompetisies.

“Ek wil eendag ’n Grammy wen,” was toe al een van my grootste wense. (Vandag is daar darem al ’n Ghoema, Tempo en ’n paar ander toekennings op my kerfstok. Nie sleg nie.)

Musiek was nog altyd in ons familie se bloed. Dit klink dalk snaaks vir party mense, maar ek onthou die prentjie van Pa wat met sy kitaar in die badkamer sit en vir sy dogtertjie sing terwyl sy bad. Heeltemal onskuldig. Net ’n liefde vir musiek wat al van jongs af gekweek is.

Hierbinne is ek nog presies dieselfde mens, maar dit het tyd geneem om ten volle vrede te maak met die somtotaal van wie Leah is. Om waarlik gemaklik in my vel te voel.

Soms is dit ander mense wat dit moeiliker maak om jouself te aanvaar.

Dit het so einde laerskool, begin hoërskool kop uitgesteek. Die gedagte dat ek nie heeltemal goed genoeg is nie.

So iets gaan lê iewers en broei in jou kop, en dan word dit ’n seerplek. ’n Stukkie onsekerheid in jou siel waaraan daar hard gewerk moet word om te oorkom.

’n Paar vriendinne het gevra of ek anoreksie het.

Wat ’n vreemde opmerking.

Natuurlik nie! Ek het die vorige aand twee pizzas op my eie verorber. Was en is nog altyd baie lief vir lekker kos.

Maar dit het nooit saakgemaak hoeveel daar geëet is nie. Die dun armpies en beentjies van hierdie nerdy tiener met haar kort hare, het net so dun gebly.

Dit het nie juis gepla nie … totdat daardie vraag gevra is.

Dit het my nogal geknou. Skielik was ek meer bewus van my skraalheid en het begin wonder of dit normaal was. Hoekom lyk ek dan so anders as baie van die ander meisies?

Die aanmerkings het ongelukkig nie daar opgehou nie.

Op ’n dag vra die juffrou wie wil aan watter sportsoorte by die skool deelneem. Ek steek my hand op toe dit by hokkie kom, en iemand haak af: “Hoe wil jy hokkie speel as jou bene so maer is soos tandestokkies? Dit gaan breek!”

Dan lag ’n mens maar (ongemaklik) saam met res van die kinders, maar hierbinne krimp jy ineen.

Ek het in elk geval gaan hokkie speel … en atletiek gedoen en baie ander buitemuurse aktiwiteite ook … Maar die woorde en die spot het vasgesteek, en bietjie-vir-bietjie aan my selfbeeld geknaag.

Elke keer wanneer ek en ma Christa winkels toe gegaan het, is daar so in die verbyloop na die refleksie in die venster of spieël geloer, en met afkeur gedink: “Kyk net hoe maer is jy …”

Ma het altyd dinge in perspektief probeer stel. “Daar is niks fout nie! Jy is pragtig. Net besig om nog in jou lyf in te groei.” Dankie, Ma.

Ek het nogtans probeer om meer te eet; drie hot dogs in plaas van een, maar niks wou werk nie.

Ag wat, later aanvaar ’n mens maar dat al hierdie pogings tog nie help nie, en dan maak jy die wilsbesluit: “Solank ek gesond is, is die oukei om te lyk soos ek lyk.”

Mense dink altyd dis net aanmerkings oor oorgewig-wees wat seermaak, maar om te hoor jy is te maer – jy lyk anders as die norm – het presies dieselfde effek. Die seer is dieselfde seer.

Noudat ek ouer is, tel ’n vinnige metabolisme in my guns. Die meeste vroue wil mos maerder wees, maar dit het jare gevat om oor daardie ding te kom.

Om uiteindelik te besef: Ek is mooi genoeg, goed genoeg en normaal genoeg – net soos ek is.

Dit was nogal ’n skok. Later jare op teaterskool. Wie sou kon raai dat om vriendelik te wees mense kan ontstel!

’n Medestudent het gesê sy hou nie van my nie, want ek is te vriendelik.

Kyk, as so iets jou afsit, moet jy maar verbyhou, want vriendelikheid is inherent deel van my persoonlikheid.

Daar is altyd iets om oor te glimlag en bly te wees. En as ek ander mense kan aansteek om ook só te voel, is ek behoorlik in my element.

In ’n selfbeskrywing is daar gewoonlik twee woorde wat opkom: vriendelik en positief. Dis wie ek is. Wanneer dinge moeilik raak, kom die borrelende optimis sterk na vore.

Meer onlangs, met die Covid-19-pandemie wat kunstenaars regoor die land hard getref het, het ek iewers hierdie waar woorde gelees: “Die enigste ding wat jy kan verander, is jou houding.”

Presies ja!

Dis moeilik om te verstaan hoekom mense so gretig is om negatiewe goed oor iemand te sê wat hulle glad nie ken nie. Soos die meisie wat na ’n optrede gekyk het, en toe besluit het dis ’n goeie idee om haar kwetsende opinie met my te deel:

“’n Mens kan sien jy dink baie van jouself.”

Eina! Sulke woorde maak seer.

Dis jammer as iemand ’n mens so verkeerd opsom. Maar ek besef ook dis omdat hulle my nie ken nie, Nie weet wat in my hart aangaan nie. Nie die innerlike onsekerhede en struikelblokke verstaan waarteen ek tot hiertoe moes stry nie.

Dis sleg as dit vir mense lyk of ek dalk te veel selfvertroue het, want dis glad nie die geval nie. Dis net lekker en bevrydend om uiteindelik gemaklik in my vel te voel.

Daar was al soveel tyd en energie gemors om te wonder: “Is ek goed genoeg? Talentvol genoeg? Hou mense van my?”

Om nou op ’n plek te wees waar ’n mens uiteindelik jou Godgegewe talente kan uitleef en oukei voel met wie jy is, wil ek vir niks verruil nie.

Eintlik is dit moeilik om te verstaan hoe enigiemand kan dink ek is grootkop. My ma het dit lank terug al mooitjies vasgevat toe dit nodig was.

Laerskool. ’n Sangkompetisie. Trots deurgedring na die finale ronde. Nogal ’n grand gedoente doer ver by The Carousel.

Sy het mooi gespaar sodat ons al twee van die Kaap af kon vlieg. Selfs ’n pragtige, blou fluweel-rokkie gestik vir die deftige geleentheid.

Ek was heeltemal oorweldig. Die meisie wat voor my opgetree het, het boonop verskriklik goed gesing. En toe is dit my beurt.

Die verblindende ligte, almal in die gehoor, mense van regoor die land … Ek het vreeslik geïntimideerd gevoel.

Maar ek doen toe my ding – met ’n oordrewe stemmetjie, vertrekte gesig en ’n paar ekstra handbewegings.

Toe ek van die verhoog afstap en langs Ma gaan sit, kyk sy my aan en sê: “Die kind wat nou net op die verhoog was, is nie jy nie.

“Ek weet dis net ’n kompetisie,” sê sy met moederlike eerlikheid, “maar jy moet jý wees”.

Kortom, die optrede het vir haar ’n snaakse houding gewys, en sy het nie daarvan gehou nie.

Haar waarneming daardie dag het my altyd bygebly.

Ma het bygevoeg dat as hierdie singery my enigsins gaan verander of hoogmoedig maak, gaan sy by wyse van spreuke die “water en ligte” afsit. Dan mag ek nie meer aan kompetisies deelneem nie.

Ek het mooi geluister en van toe af hard probeer om net my ware self te wees. Geen aansittery nie. Albei voete plat op die aarde.

Niemand is perfek nie.

Ek is gewoonlik te haastig, altyd aan die jaag. Te ongeduldig, en iemand wat gou gefrustreerd raak as dinge nie klaarkom nie. Dit veroorsaak baie stres. Om alles so gou moontlik afgehandel te kry.

Dis net dat ek nie my tyd, of enigiemand anders se tyd wil mors nie.

Dis maar net ’n paar van die karaktereienskappe waaraan daar hard gewerk moet word.

As ekstrovert is dit ook ’n uitdaging om nie heeltyd so baie te praat en out there te wees nie. Dit kan erg raak en dit sal nie skade doen om soms so ’n bietjie terug te klim in my dop nie. Ek werk daaraan!

Om stiptelik en voorbereid te wees is nog eienskappe wat my definieer. Op teaterskool is dit in ons ingedril. “Wees gereed. Moenie laat wees nie. Weet wat aangaan … want as jy dit nie doen nie, gaan jy jou werk verloor.”

Hierdie lesse is in my wese vasgemessel. Ons bedryf is klaar so moeilik en ’n mens kry nie sommer ’n tweede kans nie. Daarom is ek baie gesteld daarop om op hoogte van dinge te bly.

Dit is ook makliker om na ander se probleme te luister en raad te gee as om my eie hartseer te deel.

Dalk is dit omdat ’n mens voel die wêreld is klaar so vol negatiwiteit. Jy wil nie nog verder daartoe bydra nie – en dis tog baie lekkerder om te lag as om te huil.

Maar daar lê wel hartseer en swaar tye in die verlede. Dinge waarmee ek vrede moes maak.

As ek terugdink aan Pa wat skielik oorlede is toe ek nog baie jonk was … As hy maar net vandag hier kon wees en in al die vreugdes en sukses kon deel; my man, Hennie, kon leer ken.

In die terugdink onthou ek hoe hy elke middag ná werk tyd gemaak het om met ons te speel. Hoe ons gejaag en rondgeswaai tot ons gil van lekkerte. Pa is net te vroeg weg …

Dit was die begin van swaar tye. My ma het ingespring en moes skielik werk. Sy het alles in haar vermoë gedoen om vir ons te sorg, maar sente is omgedraai en daar is spaarsamig gewerk. Sy is vandag nog ’n professionele kleremaakster en dis wonderlik om te sien hoe sy haar talente kreatief uitleef.

Ma is steeds een van my grootste rolmodelle. Net so mal soos ek. Ons baklei lekker en maak albei dieselfde simpel foute, maar by haar is daar soveel waardevolle lesse geleer.

Soos om dankbaar te wees vir wat ’n mens het, en dat die lewe nie net oor wen gaan nie.

Vir my, wat maar van altyd af baie ambisieus is, was dit belangrike riglyne. Daar is destyds aan al wat sangkompetisie is, deelgeneem.

By plekke soos winkelsentrums waar ’n mens tot in die middernagtelik ure boude moet deursit en geduldig jou beurt afwag.

Ma het elke liewe keer saam gesit en wag.

Een spesifieke keer staan nog helder uit.

Hulle het die drie wenners aangekondig. Nommer 3 … nommer 2 …

My naam was nog nie gelees nie …

Asem ophou. ’n Hartjie wat vinniger klop.

Die afwagting. Die opwinding!

En toe hulle die wenner aankondig, is dit: “Leee-aaaa…”

Dit klink soos ekke!

“… miiii!” bulder die stem oor die mikrofoon dit uit. Leami. Ag, nee.

Klaar te laat. Ek is al halfpad besig om op staan, reg om die eerste prys te ontvang.

Verleë word daar teruggesak in die stoel. Koponderstebo onder Ma se vlerk ingekruip. Die trane wat vuur agter my ooglede brand.

Sjoe, ek was hartseer.

Van daardie dag af het Ma my herinner: “Onthou, ’n mens kan nie altyd wen nie. Daar gaan altyd iemand mooier en beter wees.”

Dis hoe daar geleer is om elke keer net my beste te gee – ongeag die uitslag.

Eintlik het ek amper nooit iets gewen nie. Dalk so twee keer uit ’n magdom probeerslae, maar dit het die waarde geleer van nederig bly en vasbyt.

Selfs as volwassene. Ek het aan vyf Idols-kompetisies deelgeneem en nie eenkeer ver gekom nie.

Maar nou ja. Alles goeie ervaring wat selfvertroue gebou en dissipline gekweek het.

Dis eintlik ongelooflik om te dink dat ek nou vir ’n lewe sing.

My man is ook een van my grootste helde. Selfs op universiteit (ek was ’n regstudent), was Hennie die een wat bly aanpor en moed inpraat het. “Wees gefokus. Moenie opgee nie. Jaag jou drome na.” Hy sê hierdie dinge vandag nog.

As gevolg van my ambisie het ek nooit gedink ek sal trou nie. Maar Hennie is die perfekte pasmaat.

Kyk, ek kan hom soms vermoor! Maar wat ons verhouding so goed laat werk, is dat ons albei ambisieuse vasbyters is.

Ons albei wil dit so graag maak in die lewe. Ons is mekaar se getrouste ondersteuners en gun mekaar vervullende loopbane.

Ek is ’n vreeslike lojale mens, besorg oor ander se welstand en wil niemand afgeskeep laat voel nie. My familie en vriende moet altyd weet ek is daar vir hulle.

Vir Hennie word daar gedurig gevra: “Is dit reg met jou? Gee jy nie om as ek so baie van die huis af weg is nie?”

Sy woorde is altyd: “Gaaaaaan! Gaan leef jouself uit. Ek gun dit vir jou.”

Hennie is ’n harde werker, gelukkig en suksesvol in wat hy doen. En dít inspireer my. Hy is ook prakties en logies. By hom leer ek om soms ’n tree terug te staan. Eers te dink voordat ek net praat of doen.

En om nie in myself te twyfel nie.

Ons maak ’n goeie span. Saam deur swaar tye en trauma, dood in die familie. Albei ken die seer van ’n ouer verloor.

Maar ons deel ook ’n paar passies. Soos die samesyn van lekker eet. ’n Gunstelingtydverdryf is om in ’n restaurant te gaan sit en kou-kou die wêreld se probleme op te los. Of om te reis.

Ons het lank en hard gespaar en uiteindelik ’n paar wonderlik plekke gaan sien. Bali is beslis bo-aan die lys van beste bestemmings.

As ek terugkyk oor my lewe, voel ek dankbaar en tevrede met waar ek nou is – veral teenoor die Here. Saam met Hom het ek tot hier gekom, en sonder Hom is ek niks.

Ek is ook dankbaar dat ek uiteindelik hou van die mens wat ek is. En dis hoe ek graag sal wil hê ander my moet sien.

What you see is what you get – selfs al is ek soms te uitbundig, te positief of selfs te vriendelik. Want ek weet … my hart is op die regte plek.

Vorige artikelDis gesond om hardop te lag
Volgende artikelMaak jou doelwit ’n strewe na uitmuntendheid