LEAH: ‘Meet jy jouself aan ander se opinies?’

51

Die pragtige, bruisende, blonde sangeres LEAH was nie altyd vol selfvertroue en gemaklik in haar vel nie. Gelukkig kan sy vandag met oorgawe sê: “Dis lekker om net myself te wees!”

Dit het tyd geneem om ten volle vrede te maak met die somtotaal van wie Leah is. Om waarlik gemaklik in my vel te voel.

Soms is dit ander mense wat dit moeiliker maak om jouself te aanvaar.

Dit het so einde laerskool, begin hoërskool kop uitgesteek.

Die gedagte dat ek nie heeltemal goed genoeg is nie.

So iets gaan lê iewers en broei in jou kop, en dan word dit ʼn seerplek. ’n Stukkie onsekerheid in jou siel waaraan daar hard gewerk moet word om dit te oorkom.

SOLANK EK GESOND IS, IS DIT OUKEI OM TE LYK SOOS EK LYK …

Mense dink altyd dis net aanmerkings oor oorgewig-wees wat seermaak, maar om te hoor jy is te maer – jy lyk anders as die norm – het presies dieselfde effek. Die seer is dieselfde seer.

Noudat ek ouer is, tel ʼn vinnige metabolisme in my guns. Die meeste vroue wil mos maerder wees, maar dit het jare gevat om oor daardie ding te kom.

Om uiteindelik te besef: Ek is mooi genoeg, goed genoeg en normaal genoeg – net soos ek is.

Toe nog ’n skok. Wie sou kon raai dat om vriendelik te wees mense kan ontstel!

’n Medestudent op teaterskool het gesê sy hou nie van my nie, want ek is te vriendelik.

Kyk, as so iets jou afsit, moet jy maar verbyhou, want vriendelikheid is inherent deel van my persoonlikheid.

DAAR IS ALTYD IETS OM OOR TE GLIMLAG EN BLY TE WEES …

Én as ek ander mense kan aansteek om ook só te voel, is ek behoorlik in my element.

In ’n selfbeskrywing is daar gewoonlik twee woorde wat opkom: vriendelik en positief. Dis wie ek is.

Wanneer dinge moeilik raak, kom die borrelende optimis sterk na vore.

Dis moeilik om te verstaan hoekom mense so gretig is om negatiewe goed oor iemand te sê wat hulle glad nie ken nie.

Soos die meisie wat na ’n optrede gekyk het, en toe besluit het dis ’n goeie idee om haar kwetsende opinie met my te deel: “’n Mens kan sien jy dink baie van jouself.”

Eina! Sulke woorde maak seer.

DIS JAMMER AS IEMAND ’N MENS VERKEERD OPSOM …

Máár ek besef ook dis omdat hulle my nie ken nie. Nie weet wat in my hart aangaan nie. Nie die innerlike onsekerhede en struikelblokke verstaan waarteen ek tot hiertoe moes stry nie.

Dis sleg as dit vir mense lyk of ek dalk te veel selfvertroue het, want dis glad nie die geval nie. Dis net lekker en bevrydend om uiteindelik gemaklik in my vel te voel.

Daar was al soveel tyd en energie gemors om te wonder: “Is ek goed genoeg? Talentvol genoeg? Hou mense van my?”

Om nou op ’n plek te wees waar ’n mens uiteindelik jou Godgegewe talente kan uitleef en oukei voel met wie jy is, wil ek vir niks verruil nie.

Vorige artikelSTEPHAN JOUBERT: “Moenie die dinge doen wat maklik is nie, doen wat reg is …”
Volgende artikel[VIDEO] Wees versigtig met vreesaanjaende woorde