Leandie: ‘Net jý kan jou magic leef’

32

Leandie Du Randt is ’n bondel positiewe energie, iemand wat die goed in elke sleg raaksien. Maar dit verg harde werk,
gereelde introspeksie en eerlike antwoorde op die groot vrae om haar in voeling te hou met wie sy. Dit is ’n spesifi eke ingesteldheid teenoor die lewe wat haar koers bepaal.

Dankie dat jy skoonmaak. En bless jou!” Hierdie eenvoudige woorde het al my mantra in openbare plekke soos winkelsentrums geword.

Die vrou wat die vloere skrop, kyk verbaas op en glimlag van oor tot oor. Asof sy nie kan glo iemand sien haar raak nie.

Dis sulke oomblikke wat my hart warm laat klop.

En wanneer daar gewerk word – en nog ’n nuwe produk neem vorm aan, nog ’n besigheid kry blootstelling, nog ’n stukkie bemarking op sosiale media ontlok goeie reaksie – voel ek opnuut dankbaar en tevrede.

Die pad lyk dalk anders as ’n paar jaar gelede, maar dit bring net soveel vreugde en vervulling. Op 33 lê daar ’n stuk geskiedenis agter my, maar ook ’n opwindende hede en toekoms.

Ek is geskei, maar het weer nuwe liefde gevind. Is steeds passievol oor aktrise-wees, maar kon ook my vlerke in die besigheidswêreld en as entrepreneur sprei.

Covid-19 het vir baie mense die les geleer dat jy ’n plan A, B en C moet hê. Dat ’n mens oop vir verandering moet wees en daarby kan aanpas, maar ook dat verandering nie noodwendig sleg is nie.

Dit maak dikwels nuwe deure oop wat selfs mooier en beter dinge kan inhou, mits jy daarvoor ontvanklik is.

Die koers waarop ek is, maak my gelukkig, en ek is mal daaroor om ouer word. ’n Mens raak rustiger, meer geneig om die dinge te doen waarvan jy hou en by aanklank vind.

My perspektief het ook verander. Die besef dat ’n mens kan kies dat die lewe besig is om vír jou te gebeur, en nie met of teen jou nie.

Omdat ek onder die Here se sambreel van genade leef, glo ek met my hele hart dat alles ten goede sal meewerk. Altyd.

Maar ek moet mý deel bydra – die werk insit en die beste doen met wat gegee is.

In ’n tyd wat akteurswerk skaars is, is ek dankbaar om die aanlyn besigheid te kon uitbrei, as entrepreneur te woeker en ʼn inkomste uit sosiale media te kan verdien.

Dit leer ’n mens om oop en aanpasbaar te wees, maar om ook daarteen te waak om nie jou passie te laat uitbrand nie. Aktrisewees sal altyd my eerste liefde bly.

Dit is nooit lekker nie. Om traumatiese dinge te beleef daag jou menswees, hart en karakter uit.

Dis hartseer en pynlik, en konfronteer ’n mens met baie vrae oor jouself. “Hoekom het dit gebeur? Was dit my skuld? Wat kon ek anders doen?”

As ek terugkyk, voel ek trots om groot goed in die lewe te kon oorkom sonder om suur of bitter te geword het.

Om my ma op ’n jong ouderdom te verloor, om later te skei … dis dinge wat ’n mens tot in jou core ruk. Maar keer op keer wys die lewe dat alles tog met ’n rede gebeur – vír jou. En dat daar altyd goeie lesse is om te leer.

Ek is verskriklik dankbaar vir die ondersteuning van familie en vriende. As dit nie vir hulle was nie, sou ek waarskynlik nie gewees het waar ek vandag is nie. Sterk, positief en opgewonde oor die lewe.

Deur alles het hulle my onvoorwaardelik liefgehad. Nooit geoordeel of vrae gevra nie. Net ondersteun. In moeilike tye kom ’n mens agter wie ware vriende is, en met wie jy jouself wil vereenselwig.

Ek het vriende verloor, maar daar is ook hegte vriendskapsbande gevorm. Verbintenisse wat klaar sterk was, het nog sterker geword.

Ek bevind myself op ’n interessante nuwe plek, waar die grootste innerlike verandering is om minder van ’n people pleaser te wees.

Dit was ’n groot uitdaging in die verlede. Ek wou almal gelukkig hou en het daarna gestreef om die mens te wees wat ander van my verwag het.

Die egskeiding het my geleer ek gaan mense teleurstel. Baie lede van die publiek was kwaad, het geoordeel. Gesê hoe teleurgesteld hulle is; hoe God my verwerp.

Dit was ’n moeilike pad – om tot die besef te kom dat ek steeds goed genoeg is, nie ’n uitgeworpene is nie. En dat Hy my altyd onvoorwaardelik sal liefhê.

Ek moes leer dat selfwaarde nie afhang van ander se goedkeuring nie. Dit steel net jou joy.

’n Mens mag maar “nee, dankie” sê; en jy hoef nie jou redes te verduidelik nie.

Tog moet ek oppas om nie te kwaai te raak en te vinnig nee te sê nie. ’n Mens wil nie jou gaafheid teenoor mense verloor nie. Dit verg ’n fyn balans.

Dis al lankal ’n lewensmissie – om met bewustheid te leef. Om elke woord en gedagte doelbewus te kies, sodat dit my lewe positief voed.

Ek is ’n groot aanhanger van ’n dankbare leefstyl. Dis al tweede natuur om elke dag tien dinge op te noem of neer te skryf waarvoor ek dankbaar is. Sommer so terwyl ek tande borsel, kar bestuur, of saans in die bed klim.

Sodra ’n mens met hierdie ingesteldheid leef, kom jy gou agter wanneer jy kla – en maak dan die keuse om dit dadelik in ʼn positiewe gedagte om te swaai.

In swaar verkeer op pad na ’n afspraak sal die aanvanklike, “Ag nee, ek gaan laat wees!”, vinnig vervang word met: “Ek gaan op die perfekte tyd opdaag en veilig daar uitkom.”

As ’n plan skeefloop, word die negatiewe reaksie dadelik vervang met iets soos: “Die resultaat gaan presies wees wat dit moet wees, om my te kry waar ek behoort te wees.”

Dit word later deel van jou – om elke gevoel van mislukking, spyt of vrees in hoop, tweede kanse en dankbaarheid te verander.

Natuurlik voel ek soms bang en onseker, maar dit word onmiddellik hanteer met vrae soos: “Hoekom tree ek só op? Wat laat my só voel? Wat kan ek doen om dit te verander?”

’n Gevoel wat in my twintigerjare hoogty gevier het, was jaloesie. ’n Mens besef eers later dis nutteloos om jaloers te wees, want die ander persoon is nie jy nie. Ek kan nie soos iemand anders wees nie, want ek is gemaak om ék te wees.

Niemand kan jou magic uitleef nie.

Die oomblik toe ek dít besef, het dit al die druk afgehaal om mooier, beter of meer suksesvol as ander te probeer wees.

Dit beteken: You will always win at your game. Maar ook: You must show up at your game.

Fokus daarom eerder op wat jy het, en wat vir jou werk.

Ons leef in ’n tyd waarin almal moet probeer bybly; onsself gedurig herskep.

’n Emosie wat deesdae kop uitsteek, is ’n gevoel van onsekerheid. Is ek nog relevant? Suksesvol? Talentvol? Het ek nog ’n toekoms as aktrise?

Wanneer hierdie gevoelens opduik, vra ek dadelik: “Hoekom voel ek só? Wat kan ek doen om minder só te voel? Hoe kan ek meer relevant raak?

Ongeag hoe ’n mens soms die wêreld ervaar, bly dit steeds die grootste voorreg om te kan sê dit voel of ek nog nooit gewerk het nie. Ek doen elke dag waarvoor ek lief is.

Of dit nou toneelspeel is, as aanbieder werk, as besigheidsvrou woeker, of my rol as beïnvloeder, alles val onder dieselfde vaandel.

Die vuur hierbinne is al lankal aangesteek – die besef dat dit my roeping is om vreugde te bring waar ek ook al gaan. ’n Begeerte om mense te bemagtig om die beste weergawe van hulleself te wees.

Daar is elke dag die kans om dit te doen, dit maak nie saak in watter medium daar gewerk word nie. En die vuur word aan die brand gehou deurdat ek gedurig aan nuwe maniere dink om hierdie roeping nog groter en beter uit te leef.

Dit is hoe ek gemaak is, wie ek wil wees en hoe ek die lewe wil aanpak – voluit en sonder voorbehoud.

As ander mense daardeur geïnspireer kan word om ook só te leef, is my doel bereik.

Dit vang my elke keer onkant. Iemand wat jou voorkeer en ʼn geselsie wil aanknoop of opgewonde ’n foto wil neem.

Veral noudat ’n mens minder in die kollig is, is dit iets om van vooraf aan gewoond te raak. Om weer te onthou: “O ja, mense herken my. Ek was al op TV, op tydskrifvoorblaaie …”

Dit bly maar ’n vreemde gedagte: hoe mense oor sogenaamde celebrities tekere gaan.

Ek wil vra: “Hoekom?” Want ek is nes jy. Ek gaan ook werk toe, kom moeg huis toe, en ja, gaan selfs badkamer toe.

Daar is die persepsie dat bekendes nooit hartseer of omgekrap raak nie. Dat ons altyd werk het, nooit ’n slegte dag beleef nie, en
altyd positief en gelukkig voel.

Dis nie waar nie. Ons gaan ook deur die motions. Inteendeel, ek dink as emosionele kunstenaarsiele voel ons baie dinge meer intens, juis omdat ons lewens so ongewoon, onbepland en dikwels onder die vergrootglas is.

Wat ook al jy voel, maal dit met ’n duisend. Dis ons lewe.

Ek is gelukkig om met vriende omring te wees wat my geken het lank voor die roem daar was. Hulle hanteer my soos die doodgewone, oninspirerende Leandie wat ek soms is.

Mense moet weet hulle is nie “laer” as bekendes nie. Jou werk is net so belangrik soos myne.

Sien jouself as die celebrity in jou eie lewe.

Toe ek klein was, was dit ’n lekker verbeeldingsvlug om te dink daar is ’n kamera wat my oral volg.

As prokureur, kelner, sekretaresse … Begin ’n bietjie om jou lewe ook só te sien; dat wie jy is en wat jy doen, van groot belang is.

Ons elkeen se lewe het soveel impak soos wat ons self besluit dit moet hê.

En ja, jy is net so pragtig, fantasties of invloedryk soos wat jy dalk dink ek is.

Ons is almal die hoofrolspeler in ons eie lewens.

Dit maak ons elkeen spesiaal en onvervangbaar.

Dis ’n voorreg om geseënd te wees met ’n gesonde liggaam en goeie gene; om fisiek gemaklik in my lyf en met myself te voel.

Maar daar word hard hieraan gewerk – van binne en buite.

Ek is ’n groot voorstander van balans en glo aan die 80/20-reël– 80% van die tyd word daar gesond geëet en geleef; terwyl 20% ruimte verskaf om toe te gee aan dinge wat lekker (en gewoonlik ongesond) is.

Dis dan wanneer ek aan daardie pizza smul, een ekstra glas wyn drink en sommer net die lewe vier.

Mense vra dikwels of daar ooit tyd vir rus is, want my lewe lyk dan so besig.

Deel van hierdie “besig-wees” is juis die gereelde tye wat afgeknyp word om te ontspan. Daar is gereelde uiteetsessies (amper elke aand – want ek hou nie van kosmaak nie), naweekwegbreke en kuiers saam met familie en vriende.

Ek voel ook ’n mens kan so hard soos wat jy wil werk aan die buitekant, maar as jou hart en uitkyk negatief is, gaan dit in jou liggaam manifesteer. Daar is soveel siektes wat spruit uit bitterheid, onvergewensgesindheid, spanning, ens.

Dis hoekom ’n visiebord so belangrik is. Foto’s, uitknipsels en aanhalings op my foonskerm of teen ’n muur by die huis, wat my doelwitte en drome uitbeeld. Dit is die dinge wat my op koers hou met wie en waar ek wil wees, en hoe om daar uit te kom.

Hier diep binne – dis waar werklike verandering begin. By jou gedagtes, gevoelens en verhouding met die Here.

En kyk na die drome op my visiebord, bid daaroor, sê dankie daarvoor asof dit reeds gebeur het, en visualiseer dan in my geestesoog hoe dit verwesenlik word.

My geloofsverhouding het revolusionêr verander die dag toe ek besef het ek wil ’n vreugdevolle lewe saam met die Here lei – in en deur alle omstandighede.

Hy is nie kwaadwillig nie. Doen niks met die bedoeling om ons seer te maak nie.

Hy wil ’n mens seën – en Hy kan – en dan gaan alles positief uitwerk.

As ons dit maar net wil glo. Ek glo dit!

Die grootste fout is waarskynlik om nie dít wat God oor sy kinders sê, te leef nie. Soos dat dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, ook binne-in ons is.

Dis jammer dat soveel Christene dit geringskat en nie verantwoordelikheid vat vir hulle besluite en optrede nie.

Dink daaraan: Dis nie die Here se skuld dat jy oorgewig is, jou huwelik verbrokkel, jou kind onmoontlik is, of dat jy ’n werk doen wat jy haat nie.

Hy kan nie namens jou die ekstra sny koek neersit, mooier met jou man wees, beter met jou kind praat, of na nuwe werksgeleenthede soek nie. Maar Hy kan jou pogings om dit te doen – die lewe wat jy oor jou situasie en mense uitspreek – seën.

Een van my goeie nuwe gewoontes is om in die oggende my hand op my kêrel, Stephan, se hart te sit en vir hom te bid om hom te seën. Dis nie iets wat ek ooit voorheen gedoen het nie, maar ek besef die waarde daarvan.

Ná ’n egskeiding voel ’n mens ’n bietjie bitter, maar die Here het my hart kom sagmaak.

Almal is vergewe wat vergewe moes word; elke persoon wat ʼn mens uitgeskel en geoordeel het.

Die grootste vergifnis was egter teenoor myself, vir die feit dat my huwelik misluk het.

Ek moes ook my eksman vergewe, want hy het my eintlik ʼn guns gedoen. Daarvoor is ek dankbaar.

As iemand nie by jou kan wees en daardeur hulle beste self kan uitleef nie, dan hoort julle nie saam nie. Hy was dapper genoeg om daardie gesprek te begin. Dit sê baie van sy karakter.

Ek het vrede oor die verlede en sien vreeslik uit na die toekoms – na ’n lewe vol liefde en koestering saam met my hartsmense, en ’n toekoms waardeur ander gehelp en geïnspireer kan word om nader aan die mens te beweeg wat hulle geskep is om te wees.

Dit is reeds besig om te gebeur.

Soms loop dinge skeef. ’n Mens kry seer, maak foute, struikel – want ons is deel van ’n gebroke wêreld.

Maar juis daarom gee dit my ongelooflike gemoedsrus om te weet dat dit nie saak maak wat gebeur nie, alles sal in my guns uitwerk.

Ek kyk in die spieël en weet: Ek is mal oor hierdie lewe en oor wie ek is. Ek is nie bang vir môre nie, want God is aan my kant.

He’s got my back.

Vorige artikelOntwikkel jou kinders se sin vir humor
Volgende artikelCaroline–Grace Brüssow: ‘Ek het ’n sagte kant van die Here ontdek’