Lindie Strydom: “Moet nie dink my lewe is perfek nie”

152

Sy het ’n gelukkige huwelik, ’n mooi gesin, ’n hart vir stukkende mense. Dit lyk of Lindie Strydom se lewe na aan perfek is, maar daar is altyd plek vir groei – deur teleurstellings, foute en sukses.

Dit was die skool se prysuitdeling. Nina (nou 13), ons tweelingdogter, was in graad 3. Haar beste maatjie het op die verhoog gestaan, arms vol toekennings en sertifikate tot onder die kieliebak.

Toe die kind afstap, fluister Nina opgewonde bo die gedruis van die handeklappery. “Mamma … dis mý maatjie daai! Het mamma gesien hoeveel goed het sy gewen?”

Opreg trots. Nie ’n sweempie van jaloesie of wedywering nie.

Sjoe, het ek verwonderd gedink. Ek was definitief nie só op haar ouderdom nie. Eintlik nog altyd baie kompeterend, heel eerste met myself en om die beste te wees wat ek kan.

Ek het op skool baie hard gewerk en groot drome nagejaag, maar dit was met tye ’n eensame reis, ’n binnetoe dryf en druk en vorentoe beur wat maak dat jy soms vergeet om die mooi langs die pad te vier.

Die mooi van jou eie lewe, maar ook dit wat die mense langs en om jou bereik En hier sien ek in my dogtertjie hoe mooi dit is om sommer net bly te wees oor iemand anders se sukses.

Sy herinner my aan die predikant wat gesê het: “God het ‘verloor’ sodat ons kon ‘wen’.” Nina verstaan “verloor” as iemand anders se beurt om te kan wen en so het sy die vermoë om totaal nie-geïntimideerd deur die lewe te gaan en haar berekeninge te doen van wie sy dink nou ’n beurt moet kry.

Ek klim lankal nie meer die leertjie van aardse sukses en prestasie nie … Het vir my goed op skool uitgewoed. Maar uit Nina se mooi voorbeeld leer ek hoe ’n mens elke gawe en talent ten volle kan gebruik en geniet, terwyl jy vir ander ook ’n plekkie in die son probeer skep.

Die lewe leer ’n mens daagliks nuwe lesse, maar ek sou nooit kon dink hoe baie ons kinders en my man, Johann, my sou vorm en uitdaag nie.

In hulle teenwoordigheid is ’n mens gedurig besig om te groei, anders te dink en met nuwe oë te kyk.

Johann sê juis nou die dag dat hy nog nooit iemand gesien het wat so gemaklik deur die lewe se uitdagings cruise nie. Hy het gepraat van Nina se tweelingboetie, Hugo, wat so ongelooflik gelukkig en tevrede is in homself.

Die frustrasies van die grendeltydperk, byvoorbeeld, het hom glad nie gepla nie. As die lewe nie lekker is nie, maak Hugo dit vir homself lekker, met of sonder ander se hulp.

“Ek gaan sommer ’n bietjie bak vandag,” sou hy aankondig op een van daardie lang dae van vasgekluister wees in die huis. En dan bak hy fudge vir ’n vale.

Ons seun het boonop die wêreld se geduld. Weet jy hoeveel ure dit verg om ’n stop motion-animasiereeks te maak van twee Lego-mannetjies wat loop? Eers die een armpie wat vorentoe gedruk word. Stop. Neem ’n foto. Dan die volgende armpie. En so het hy die hele bewegingsproses afgeneem en op sy selfoon aanmekaargesit. Dis ure se werk!

Sy rustigheid maak my ook rustig.

Wanneer ek partymaal, vanuit my eie energieke besig-wees, so ’n bietjie vuur onder hom wil maak, bedwing ek myself. Want dis eintlik nie nodig nie.

Hy is gelukkig en tevrede nes hy is, en daar is baie om uit sy rustige manier van wees te leer.

Ek sukkel nog daarmee. Selfs op skool was my ontspanning om met buitemuurse aktiwiteite besig te bly. Daar was nooit tyd vir stilsit en rus nie

Dis elke jaar ’n voorneme om rustiger te wees, minder dinge beter te doen. Om nie tydbestuur toe te pas nie, maar energie-bestuur, sodat ’n mens aan die einde van ’n dag nie so doodmoeg en opgebruik voel nie.

Dis deel van my persoonlikheid. Die oomblik as daar ja gesê word vir ’n ding, gaan ek pens en pootjies inspring. Al sê iemand: “Ek vra net dit …”, gaan ek nie net “dit” gee nie. Alles gaan ingesit word om die taak deeglik en afgerond te doen.

Soms hou dit net nie op nie, tot my eie groot frustrasie! Gelukkig raak dit al beter, want Johann leer my die beginsel van “good enough”.

As ek ’n artikel vir die skool se Facebookblad skryf, sal ek puntenerig raak oor elke woord. Dit oorskryf, herskryf, foto’s verander … tot hy naderhand hardop moet sê: “Regtig?! Los dit nou en stuur uit, want dis reg soos dit is.”

So vul ons mekaar aan. Ek is vir seker meer taakgerig en hy fantasties met mense. Hy sal ’n vreemdeling in die Wimpy ontmoet, sy storie hoor, help, by die huis aflaai en die ou se nommer vat.

Johann ken nie net mense se name nie, hy stel intens belang in hulle doen en late. As hy iemand vyf jaar later raakloop, onthou hy nog die kinders se name en vra uit oor hoe dit gaan ná die ma se operasie.

By hom het ek ook geleer hoe om wyer in my verhouding met die Here te dink.

Met ons wittebrood was ons op ’n eilandvakansie. Skaars ses maande saam, het ons nog baie gehad om oor mekaar te leer.

Die eerste oggend besluit ons om Bybelstudie te doen. Ek vat my Bybel, notaboek, highlighter en gaan sit op die stoep. Maar daar gaat Johann af strand toe …

“Waarheen is hy op pad?” wonder ek. Hy het dan nie eens ’n Bybel saamgevat nie.

Later kom hy terug en sê: “Ek het nou so lekker tyd saam met die Here gehad. Kyk net na die see, die natuurskoon … hoe groot is God!”

Dis lekker hoe ’n mens mettertyd op mekaar afsmeer. Deesdae is van my beste bidtye buite in die natuur of op die pad wanneer ek gaan draf.

Maar ons het ook net ’n gewone huwelik. In die daaglikse gewoel is daar tye wat dit voel of ons net ’n huis deel, maar daar is altyd baie om voor dankbaar te wees.

Ek is nie ’n positiewe mens nie; eerder ’n dankbare mens.

Daar is definitief iets in ons liggame, in elkeen se menswees, wat bedoel is om ’n “dankie” te leef. Dis soos medisyne wat jou gesond hou.

Ons leer ook die kinders om hulle “dankie” teenoor die Here vir elke goeie gawe, seëning en talent met ander te deel.

Toe hy pas hoërskool toe is, het ons oudste, Paul (15), soos al sy maats ’n Instagram-rekening oopgemaak. Nou, twee jaar later, sien ek hy was maande laas aktief op sosiale media.

“Hoekom?” vra ek.

“Die lewe lyk net nie soos die prentjies wat geskep word nie. Hoekom moet ons mekaar probeer beïndruk met die plekke waar ons was of die dinge wat ons doen? En wie was agter die kamera wat die ‘toevallige’ foto moes neem waarvoor jy eintlik gepose het?”

Die voorgee, maar ook gemeenheid van mense wat dan mag sê net wat hulle wil, maak nie vir Paul sin nie.

Onthou eerder die oomblik, die kuier, die daar wees vir wat dit was, en saam met die mense wat dit soos jy dit beleef het.

Ek is trots op Paul se soeke na egtheid en waarheid. Ons hoef dit nooit eens vir hom te geleer het nie, hy het dit self raakgesien en sy keuse gemaak.

Ek dra nogal my hart op my mou en deel maklik, maar mense moet nooit dink my lewe is perfek nie – want dit is nie. Ek maak ook foute en is ook spyt oor dinge; soos hoe hard ek gewerk het toe ons kinders nog klein was.

Die besef het gekom: daar is ’n ambisie vir my werk en my kop is heeltyd vol werksdinge.

My gebed was: “Here, gee my ’n ambisie vir my gesin.”

Ek het doelbewus ’n paar aanpassings gemaak om steeds mense te kan help, maar nie ten koste van my eie “hawe” en mense nie.

Nou is ek eerstens my man se helper en ma vir ons kinders. Elke ander besluit word vanuit hierdie kern geneem.

Dit was ’n verrassing om te besef dat met die prioriteite in die regte volgorde, daar tyd en energie oor is om steeds ’n bydrae na buite te lewer.

Oor spyt het ek geleer dat dit nooit te laat is om te verander nie. Leer uit gister se foute en gebruik vandag om dit reg te maak.

Ek leef bewustelik vorentoe, nie terug nie. Dit het veral voordele wanneer ’n mens die dag “af” voel. Gelukkig prosesseer ek dinge vinnig. Daar word nie lank daaroor getob nie.

Dis nooit lekker om ’n dag deur te gaan met ’n wolkie wat oor jou hang nie.

Daarom wil ek altyd by die kern uitkom. Hoekom is die wolkie hier, wat is sy naam? En dan word die emosie hanteer, sodat ’n mens vir die wolkie kan sê: “Skoert, laat jy gaan.”

In sulke tye help dit om prakties te raak. E-posse word toegemaak en die foon afgesit, sodat ek bewus kan raak van wat hierbinne aangaan.

Dit werk om te gaan draf om die blok; dan is my ore sommer oper om beter te kan hoor.

Met die onlangse trek van Gauteng af Somerset-Wes toe, was daar dae van onbewuste spanning. Die huis wat verkoop moes word, die trekkery, die kinders in nuwe skole.

Mense het gewaarsku dat dit ’n emosionele ontworteling is, maar ek het gou besef hierdie is net die volgende treë – agter die Here aan. ’n Mens stap bloot in die volgende hoofstuk in, met nuwe dinge en gesigte wat mettertyd nuwe geleenthede en vriende word. Waar ek ook al is, die uitgangspunt bly dieselfde: Hoe kan ek waarde toevoeg?

’n Mens wil tog nie net vat en gebruik nie, maar ook ’n verskil maak en teruggee.

Leemtes en tekortkominge is opwindend. Wanneer iemand sê ’n skool is nie so goed op dié of daai gebied nie, is my reaksie: “Wonderlik! Want dit skep darem ruimte om ’n bydrae te kan lewer.”

En dan doen ’n mens dit voluit, tot dit tyd raak om die stokkie aan iemand anders oor te gee wat weer ’n nuwe aanslag bring.

Tyd het ook geleer dat dit nie nodig moet wees om ’n afskeidstoespraak te lewer wanneer jou seisoen verander nie. Daar moet niks oor wees om te sê nie.

’n Mens wil tevrede kan wegstap, omdat alles klaar gedoen en gepraat is.

Al is dit nie lekker om droog te maak nie, is dit nie waar ons storie eindig nie. Foute skep ruimte vir groei en verbetering.

Wanneer een van die kinders ’n swak toets huis toe bring of ’n inskrywing kry oor ’n boek wat by die huis vergeet is, voel ’n mens saam met hulle teleurgesteld. Maar ons haak nie vas by ’n punt of negatiewe inskrywing nie.

Die vraag is altyd wat hulle daaruit kan leer. Dalk beter oplet … meer notas maak as juffrou praat … huiswerk neerskryf in plaas van alles in jou kop onthou.

Ek probeer ook my kinders prys ongeag die fout, want ek is trots op hoe onafhanklik hulle funksioneer.

“Die boek is wel by die huis vergeet of ’n hoofstuk is uitgelaat toe jy geleer het vir die toets, maar sjoe, jy aanvaar self verantwoordelikheid vir jou skoolwerk.”

Dis steeds nie lekker om ’n fout te maak nie en ek is maar hard op myself.

Die grootste persoonlike teleurstelling is wanneer my eie mense die slegste van my sien.

By die werk en tussen ander, is daar soveel geduld en emosionele intelligensie.

Elke situasie word verdra en met grasie en begrip hanteer … maar by die huis, wanneer hierdie tenkie leeg is, ervaar die mense naaste aan my die moeë mamma of die ma wat ook maar haar onderliggende spanning of bekommernis oor iets op haar mense uithaal.

Op sulke dae wens ek die skoolklok wil nou vinniger lui, sodat ek vir die kinders kan jammer sê.

’n Opregte jammer bly die beste manier om ons verhoudings wat in die proses seerkry, te herstel.

Maar ek wil nie net jammer sê en niks verander nie. ’n Mens wil ’n vinger op die presiese probleem sit: Hoekom gebeur dit en hoe verhoed ek dat dit weer gebeur?

Ek is maar ’n praktiese planmaker en ons het ’n sê-ding in die huis: “Ons huil eers as ons planne op is.”

Ek was vroeër in my lewe baie meer swart of wit, reg of verkeerd.

Met ouer word besef ’n mens dat daar tog omstandighede en konteks is. Jy oordeel nie so vinnig nie.

In my werk in die gemeenskap het ek geleer om gemaklik te wees in ongemaklike situasies. Om begrip te hê vir ander se swaarkry en nie die lelik te probeer vermy omdat jy nie weet hoe om dit te hanteer nie.

Baiemaal het ons mos ’n lysie van voorwaardes voordat iemand gehelp kan word.

“Hulle moet darem eers self wys hulle wil regkom, beter besluite neem …”

Maar dan gaan sit jy by die vrou op haar vloer in ’n Wendy-huis … en jy hoor haar storie …

Ja, sy was ’n dwelmverslaafde. Het baie verkeerde keuses gemaak. Uit eie toedoen het dit haar hier laat opeindig, maar ons oordeel gaan niks aan haar omstandighede verander nie. Hoe kan ons eerder deel wees van ’n draaipunt in haar lewe, waar sy weer kans sien vir die lewe?

Ek het geleer ’n mens gaan nie om antwoorde te gee nie, maar om te luister en te leer, om waar te neem en weer te gee.

Hierdie vrou se ma het ons storie gelees en haar dogter huis toe genooi.

Ons dink soms dat net die groot dinge in God se koninkryk tel. Maar Jesus self leer ons die waarde van klein gebare van omgee; dit wat soms so onbenullig en onbelangrik lyk.

Dit maak my opgewonde, want dis iets wat elkeen van ons kan doen.

Nie almal is uitgeknip vir gemeenskapswerk nie, maar ons almal het iets om te bied.

Dit gaan nie oor hoeveel geld jy weggee of hoeveel ure in die sopkombuis spandeer word nie. Dit gaan oor ’n gesindheid van diensbaarheid. Die koppie tee wat vir iemand gemaak word, die bemoedigende woord, die bietjie tyd en moeite wanneer jy vra: “Hoe kan ek help? Wat het jy vandag nodig?”

Almal kan ’n bydrae maak – net daar waar jy is, soos jy is.

My lewe is ver van volmaak af. Ek is steeds ’n work in progress, maar dankie tog daarvoor, want dis hoe ’n mens bly groei en leer.

Vorige artikelHet jy deernis met jouself?
Volgende artikelDemi–Leigh Tebow: “Ek werk hard, maar God maak drome waar”