Marciel Hopkins: ‘Die dag toe my selftwyfel aan skerwe spat’

143

Sy noem haarself ’n undercover rebel. MARCIEL HOPKINS is nie steeks of moeilik nie. Sy is sterk maar sag. Uitgesproke maar ingestel op ander se gevoelens. Sy het die kuns bemeester om haarself, en ander mense, ten volle lief te hê en te aanvaar, nes hulle is.

Met my rug teen die deur staan ek dóér agter in die saal.

Nonchalant in ’n denim en tekkies.

Nie opgetof nie, want niemand hier moet dink ek koester enige verwagtings nie.

Nie weer nie.

Diep asem in. Diep asem uit.

Nee wat. Dít het ek lankal geleer. Wees eerder voorbereid op teleurstelling. En vanaand spesifiek … wees slaggereed om te vlug as dit moet.

Dis die aankondiging van volgende jaar se universiteitskoshuisprimaria. My naam is op die kortlys.

Anders as in die verlede is ek hierdie keer rebels. Iemand wat nie omgee oor goed soos leierskap of prestasie nie.

Iemand wat die aftog geblaas het en hierdie keer nét daarop fokus om my beste, gemakliker self te wees. Geen groter ambisies nie.

Die verlede is op die punt om homself te herhaal, maar vanaand is ek gereed om dit te hanteer.

Die ontsnappingsplan is in plek. My eie Great Escape. Met goeie rede, want as daar een ding is wat ek haat, is dit as mense vir my jammer voel.

Nog ’n asemteug. Skoon vies vir die senuweeagtigheid wat steeds ongevraagd aan my hart bly torring.

Tiek-tok. Die toesprake is amper verby. Dis amper tyd …

Ek voel-voel teen die deur. Knik tevrede. Dit sal net een ligte stootjie met ’n halwe boud vat om die skarniere te laat oopswaai.

Dan sal ek koers kies straat se kant toe. Waar die drama-pêlle reeds in die kar sit en wag.

Én dan? Dan sal ons die nag in ry en al die voordele van sorgelose studentwees geniet. Geen verantwoordelikhede nie. Net vet pret. Dis ook mos lekker?

In die dwaal van hierdie gedagtegang hoor ek dit. Helder en duidelik.

“Marciel Hopkins.”

Wat?

“Ons nuwe primaria.”

Die skok is groot. My hart wil gaan staan. Die afgelope paar jaar se selftwyfel en wanpersepsies spat skielik in duisende skerwe.

Iets hier diep binne breek los.

Ek blaas my asem uit, en voel hoe die tekkies my ligvoets vorentoe dra.

’n Kopskuif word gemaak. Mense hou tóg van my.

Terugflits na die verlede. Hoërskool. Skoolsaal. Die aankondiging van die hoofprefekte. En ék, vas oortuig dat die hoofmeisieskap myne is.

Hoe dan anders? Vyf jaar se klipharde werk. Uitstekend prestasies. ’n Groot vriendekring. Goeie netwerke sorgvuldig gebou. Alles is volgens die boek gedoen.

En toe die teleurstelling … die héél grootste van my lewe.

My naam word nie gelees nie.

Die gedagtes van selftwyfel het ná daardie hartverskeurende aand hulle een-een kom aanmeld.

Hou die kinders dan nie van my nie? Sien hulle nie hierdie sterk eienskappe raak nie? Is ek te perfeksionisties? Te baasspelerig? Was ek te uitgesproke? Te veel van ’n pliggie?

In die waas van hartseer en glad-nie-verstaan-nie, het die skewe persepsie posgevat dat mense nie eintlik van my hou nie. In elk geval, nie genoeg om my te kies nie.

Terugskouend, het ek populariteit met “hou-van” verwar.

Ek was nooit bo-aan die gewildheidsleer nie, maar ek was tog geliefd.

Hoërskool-Marciel was nie die soort meisie wat deur die ouens op ’n afspraak gevra is nie, maar sy was die goeie vriendin. Die slim, pligsgetroue meisie wat ander help met huiswerk. Wat sal opstaan en haar sê namens die klas sal sê.

Dit is wat hierdie teleurstelling so erg gemaak het. Die wíl, die harde werk, die droom was daar, maar dit het nie gerealiseer nie.

Dit was ’n groot wakkerskrik-oomblik. Die waterskeiding wat my laat besluit het om te let go.

Om die lewe sy gang te laat gaan. Om steeds die werk te doen en te hoop, maar om nooit, ooit weer my hart so 100% op ’n ding te sit nie. Want as die mat dán onder jou uitgeruk word, is die val soveel seerder.

Tog was dit die beste voorbereidingsles vir die toekoms. In die model- en vermaaklikheidsbedryf waarin ek vandag staan, is daar super-baie geleenthede vir teleurstelling.

Maar nou is ek sterk. Ek kan dit hanteer, want ek het geleer om my verwagtings beter te bestuur.

Dit het ’n vasberadenheid gekweek om nugter te dink. Om my hart en gedagtes met mekaar in lyn te bring, en te bewaar.

Soms lê ’n mens se grootste deurbraak juis in jou grootste teleurstelling.

Ek was nou beter gepantser teen die lewe. Ook maar goed so, want die sterk, onafhanklike wil wat reeds van kleintyd af deur hierdie are bruis, sou nie sommer geblus word nie.

Hulle het my ingeroep en daar is hard geraas. “Geen finalis behoort sonder grimering rond te loop nie!”

Dit was ’n goedbedoelde roskam. Daar was selfs meriete in.

Die produksiespan het mooi verduidelik: “’n Mej. Suid-Afrika is iemand waarna ander vroue opkyk; hulle moet streef om soos sy te wil wees en te lyk.”

Dis nié iemand wat gou in haar jeans en plakkies, sonder ʼn titsel grimering of hoëhakskoene, by ’n winkel inglip nie.

My minimalistiese streep was egter te sterk, en ek, net té plat-op-die-aarde om gemaklik in hierdie glam-boksie te pas. As skoongesig-plaaskind van die Boland was ’n kaal, goedversorgde vel mos net so mooi.

By ’n ander geleentheid het ek in ’n pragtige, swierige romp met ’n gewone wit T-hemp daarby opgedaag. Vir my, ’n prentjie van stylvolle eenvoud. Vir die stileerders, “heeltemal te onopgesmuk”.

Hierdie kompetisie was ’n wonderlike ervaring, maar die produksiehuis het dikwels hulle hande vol gehad. Dis nie dat ek wóú rebels wees nie; ek wou net myself wees

Die dierbare koördineerder het met tye behoorlik bontgestaan, maar gelukkig was hy altyd bereid om ’n kompromie aan te gaan.

Hy het dikwels met sy juweelboksie opgedaag, en dan my minimalistiese styl probeer opdollie met oorbelle, armbande, knippe en strikke. Ons het naderhand die reël gemaak: Ek sal die helfte aan hou, as hy my toelaat om die helfte af te haal.

Tot vandag toe voel ek dat glitz en glamour jou nie noodwendig help om ’n groter indruk te maak nie.

Wat ’n mens werklik onvergeetlik maak, is hoe jy ander in jou teenwoordigheid laat vóél.

Ek wil nooit hê dat mense my moet ervaar as iemand wat té verhewe, té mooi of té grênd is nie en dat hulle nie met my kan assosieer nie.

Eerder eenvoudig, outentiek en tydloos, as opgesmuk.

Vir iemand soos ek, was hierdie skoonheidskompetisie eintlik ’n moewiese waagstuk; ’n lewensveranderende keuse wat my loopbaan in ’n totaal nuwe rigting gestuur het.

Ek het op ’n doodgewone weeksdag op die bed in my koshuiskamer gesit. ’n Klomp aansoekvorms in die hand. Die plan was om vir ’n meestersgraad in sielkunde aansoek te doen. Maar een opmerking vanuit ’n gewaardeerde bron, het alles verander.

By ’n ma-en-dogtergeleentheid van die koshuis, was een van die vorige Mej. SA-finaliste die spreker.

Ek het voor en ná die tyd die verwelkoming en bedankings gedoen, en later ’n geselsie met Mishka (Patel) aangeknoop.

Dis toe dat sy opmerk: “Ek het jou heeltyd dopgehou. Jou interaksie met mense. Die manier van praat en loop. Jy het ʼn teenwoordigheid wat nie maklik misgekyk kan word nie.”

Dit was haar voorstel dat ek my inskryf.

Familie en vriende het dit ook al gesê, maar soms vat dit net daardie één persoon wat uit ’n plek van ervaring praat, wat jou kop in ’n nuwe rigting swaai.

Hierdie waagstuk was ’n voet in die deur om my eintlike droom te bewaarheid.

As my lewe die titel van ’n boek moes wees, sou dit lees: Feel the fear, and do it anyway.

Vrees kan jou terughou of aanspoor. Hang net af vanuit watter hoek jy daarna kyk.

Ek het op ’n besige treinstasie in New York gestaan. ’n Reuse-, chaotiese wêreldstad waar ’n mens deur die massas verswelg word.

’n Piepklein spikkeltjie, opgeslurp in die haas en grootsheid wat jou sintuie van alle kante af bombardeer.

Om te verdwyn, was presies wat ek op daardie tydstip nodig gehad het.

Ek het pas die werk as aanbieder van ’n immergewilde TVrealiteitsprogram gekry – my tweede probeerslag. Opgewonde, maar ook vreesbevange, want wat gaan die mense sê?

Ek het myself al begin voorberei op die kritiek. Ek sou immers die skoene moes volstaan van die vyf aanbieders vóór my – en boonop iets nuuts en vars na die tafel moes bring.

Die ou vrees – “sê nou mense hou nie van my nie?” – het weer kop uitgesteek.

Sê nou hulle vra: Hoekom sý? Sê nou hulle tref vergelykings en bevind my te lig? Sê nou ek is nie mooi of goed genoeg nie?

Daar was baie “sê-nou’s” wat in my kop rondgemaal het.

Die tydjie in New York was net die regte doepa. Duisende kilometers van die huis af, kon ek skielik my lewe vanuit ʼn objektiewe hoek bekyk.

In die massa was ek ’n nobody. Totaal en al anoniem. My probleme en bekommernisse so belaglik klein in vergelyking met die grote wêreld daarbuite.

Die treinstasie het hierdie realiteit laat insink.

Die een oomblik was die perron bykans verlate, maar toe die trein stilhou, was daar binne sekondes honderde mense wat in ʼn maalkolk om en verby my stamp en skuur. Elkeen doelgerig op ʼn missie, op pad iewers heen.

Hulle sien my nie eens raak nie. Gee nie ’n duit om wie ek is nie. Én hulle gaan my definitief – letterlik en figuurlik – nie in hulle pad laat staan nie.

In daardie oomblik was die besef klokhelder: Ek gee heeltemal te veel krediet aan wat mense van my dink en sê. Vir wat?

En toe die rebelse gedagte: Miskien is dit juis ’n goeie ding as nie almal van my hou nie – want dit beteken ek neem dapper besluite.

Buitendien: iemand, iewers, gaan altyd negatiewe goed kwytraak.

Dit het my laat dink aan die sê-ding: Jy kan die rypste perske aan die boom wees, maar nie almal hou van perskes nie. Dis oukei.

Almal het hulle eie lewe. Wie sê hulle dink so baie aan myne? Net daar, op die stasie, is die besluit geneem dat ek van hier af vorentoe my ding gaan doen sonder vrees oor ander se opinies.

Die keuse om vreesloos te leef, is niks minder as reg en ʼn voorreg nie.

Dit was ’n foonoproep wat geen 15-jarige behoort te ontvang nie. Die woorde het hol in my ore geklink. “Jammer, maar Sanika het dit nie gemaak nie.”

My beste vriendin. Dood in ’n motorongeluk. Al drie die kinders.

Net die ma en pa het ongedeerd uit hierdie gesinstreurspel gestap.

Rou smart. Diep hartseer wat jou wese uitmekaar ruk. ’n Skok wat die wêreld laat stilstaan.

Op ’n jong ouderdom moes ek hierdie wye spektrum van emosies prosesseer. Dit het my emosionele kapasiteit tot ver buite my alledaagse leefwêreld gestrek.

Tot in daardie stadium was die lewe vol lag, vreugde en onskuld.

My vriendin se dood het een groot gedagte laat posvat. Wie is ek om nie 120% voluit te leef nie? Ek het die keuse om dit te doen.

Sy het nie die kans gekry nie.

Dáár is die saadjie geplant dat ’n mens nie gemiddelde besluite moet maak nie. Wees waagmoedig. Vat ’n kans – want die lewe kan enige oomblik van jou af weggeneem word.

Dit het ook die ingebore empatie wat ek reeds van jongs af gehad het, verder laat verdiep. ’n Inherente soeke om iemand se ware aard en karakter – hulle lief en leed – te verstaan.

Dalk het ek dit by my ma geërf.

As daar nuwe intrekkers in die buurt was, het sy die moeite gedoen om ’n geselsie aan te knoop. Om hulle oor te nooi vir ete.

Ma is iemand wat moeite sal doen om ’n persoon in te trek. Om ʼn vreemdeling ’n vriend te maak.

Ek doen graag dieselfde. Staan altyd op vir die underdog. As niemand van jou hou nie, sal ék jou maat wees.

Soos een jaar toe ’n nuwe meisie in die skool gekom het. Sy was anders. Nie deel van die groep nie.

Dit was tweede natuur om na haar toe uit te reik.

“Hoe kan jy vriende met haar wees?” het die kinders gevra.

“Hoe kan julle nié vriende met haar wees nie?” was die teenvraag. “Julle ken haar nie eens nie!”

Dit loop soos ’n goue lyn deur my lewe. Om mense beter te verstaan, dieper te leer ken.

En om myself oop te stel vir ander maniere van dink en wees.

Ons het op ’n vliegtuig ontmoet. Een van vele oorsese reise as model.

Dit was ’n aandvlug Londen toe. Met die wakker word, het ek en die vrou langs my aan die gesels geraak. Dadelik gekliek. Sy was van Australië af. Vriendelik en innemend.

Dit was die begin van ’n lieflike vriendskap.

Daar is afgespreek om twee weke later koffie in Notting Hill te gaan drink.

In die middaggloed, oor die rand van ’n stomende koffiebeker, het die huiwering in haar oë deurgeskemer. Die onsekerheid. Die opweeg oor óf sy haar nuwe vriendin moes vertel, óf nie.

Ons het mekaar immers nog nie goed geken nie. Net selfoonboodskappe oor oppervlakkighede uitgeruil.

Sy het ’n sluk koffie gevat en die beker neergesit. Oogkontak probeer vermy.

“I must tell you what I do for a living.”

Natuurlik! Vertel my, het ek aangemoedig.

“I’m an exotic dancer.”

Verras? Beslis. Ek sou dit nooit kon raai nie.

Het dit my gepla of afgeskrik? Glad nie.

Dit het eerder my kop in rat gesit om uit te vind: hoe, hoekom, wat en waar.

Sy was verlig oor die reaksie. Het gelag, en gesê sy was bang sy corrupt my – hierdie plaasmeisie van Afrika af.

Oor die jare het ek ’n uiteenlopende vriendekring opgebou. Mense verteenwoordigend van ’n wye verskeidenheid vlakke, uitkyke en kulture. Van Londen en New York, tot Duitsland, Australië en Italië.

By elkeen is geleer om my eie persoonlike grense te verbreed. Om teen vooropgestelde idees te rebelleer.

Die besef dat daar nie net een manier van dink en doen is nie. Inteendeel, hoe oper die hart, hoe groter die begrip – en hoe méér het jy om die lewe te bied.

As ’n gekwalifiseerde lewensafrigter, wanneer ek nié model, aanbieder of aktrise is nie, het ek agtergekom dat ons almal eintlik met dieselfde probleem sit.

Ons leef te veel in ons kop. Raak te verstrengel in negatiewe gedagtes oor alles wat ons nié is nie, en nié kan doen nie.

In plaas daarvan om eerder ons gedagtes positief te kanaliseer na wat die werklikheid is. “Is dit wat ek dink, waar?”

My lewenservarings het my op die punt van selfaanvaarding gebring.

Die besef dat ek tog – met of sonder die balkie – ʼn hoofmeisie is. Die een wat daarvan hou om leiding te neem. Wat graag my stempel afdruk.

Soms is ek ’n handvol. Dikwels te perfeksionisties. Máár dis wie ek is.

Vorige artikel[PODSENDING] As jy en hy oor geld vassit
Volgende artikelWees versigtig met vreesaanjaende woorde