Marciel Hopkins: “Om jouself te vertrou, ongeag…”

77

Marciel Hopkins droom al van kleins af groot, en elke droom word passievol nagejaag. Maar dit het waagmoed geverg om deur die grense van selftwyfel te breek, tot op die plek waar sy vandag kan sê sy het dit reggekry.

Pens en pootjies, hoog in die mik van ’n boom. Daar sit ek. ’n Klein wildewragtig in ’n tomboy-kortbroek en T-hemp op die plaas waar my pa wynmaker is.

Tussen die takke, blare en nonnetjies-uile wat eenkant broei, met die wye werf soos ’n reusespeelgrond oop onder my, word daar groot gedroom.

Ligte, kamera, aksie!

’n Magiese verbeeldingswêreld ontvou, waar kinderdrome van ’n eendag-loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf skielik lewe begin kry.

Daar word hard gespeel terwyl ’n denkbeeldige filmspan besig is om ’n kamma-fliek te maak, met moi in die boom, as die hoofkarakter natuurlik.

En wanneer die dialoog opraak, begin die kameras flits vir die “model” wat haar lippies tuit en hare swaai.

Ander kere word my beste maats op die plaas – die dwergbokkies, ganse en kalkoene – ingespan as medekarakters wat saamspeel.

Ma Annaline moet omtrent elke aand neul, “Kom nou in, Cielie!” Tyd vir bad, eet en slaap.

Dit was wonderlike, sorgvrye kinderdae. En ek: toe reeds doelgerig en gefokus. Iemand wat presies geweet het wat sy in die lewe wou hê. Dit was net die trappies tussen-in wat nog geklim moes word.

Ma vertel dat ek van jongs af ’n sterk persoonlikheid gehad het. Dinamies. Baas van die plaas.

Soos wanneer die Engelse nefies uit die stad kom kuier het. Dit was die grootste lekkerte om hulle aan my dieremaats voor te stel, saam boom te klim of vlotte onder by die rivier te gaan bou.

Omstandighede waarin enige kind se selfvertroue sal floreer.

Maar die lewe is vol slaggate, en met tye het dit ook gedreig om my drome te ontspoor.

’n Traumatiese onthou was toe ons in my vroeë tienerjare dorp toe getrek het. Ek was vreeslik ongelukkig oor die vooruitsig. Hoe kon ’n mens hierdie ongelooflike plaaslewe groet?

Baie trane is gestort, maar die skuif is gemaak en dit het my vroeg-vroeg al ’n belangrike les geleer: om aanpasbaar te wees. Die kuns om geluk te vind, ongeag die omstandighede en net daar waar jy is.

Tóé al het die besef posgevat: ’n Mens hoef nie op een plek wortel te skiet en daar vas te haak nie. Daar is ’n hele wêreld om te verken.
Op ’n manier was die trekkery ’n goeie voorsmakie van wat in die toekoms op my sou wag – die baie reise oorsee toe my kleintyddroom om ’n model te wees, ’n werklikheid geword het.

Op skool is daar ook op die harde manier geleer hoe om katterigheid en boelie-gedrag te hanteer – nog ’n waardevolle les om selftwyfel af te skud en drome na te jaag.

Akademie was baie belangrik en ek was gewoonlik onder die top-tien. Iemand wat lief was vir leer, wat wóú vrae vra, en ’n behoefte gehad het om die natuurlike leierseienskappe hier binne, uit te leef.

Maar daar was altyd ’n paar kinders wat negatiewe aanmerkings gemaak het. “Bly net stil. Hou op vrae vra.” Of: “Wil jy alweer ’n opinie lug?”

Ek wens hierdie eienskappe is eerder gevier as afgeskiet, want dit het my tog laat twyfel in myself. “Is ek goed genoeg? Populêr genoeg? Tel my opinie? Word ek raakgesien?”

Later op universiteit, met die verkiesing as primaria van my dameskoshuis, Huis ten Bosch, het hierdie onsekerhede so ’n bietjie gewyk.

Skielik het ek besef: “Marciel, jy kán groot dinge doen; dit waag om groot te droom en in jouself te glo, ongeag wat mense sê.”

Om getrou te wees aan jou ware self is soveel makliker met die regte rigtingaanwysers langs die pad.

In my geval, goeie mentors – mense wat soos cheerleaders langs die kantlyn staan en my aanmoedig. Wat goeie raad gee en tyd in jou groei as ’n mens belê.

Een van hierdie mense is Tanya van Graan. Sy was nog altyd een van my grootste ikone. Uiters suksesvol, ’n supermodel. En daar loop ek haar toevallig raak op ’n lughawe, sonder om dadelik te besef wie sy is.

Ons groepie Mej. Suid-Afrika-finaliste was op pad iewers heen, en ek het hierdie pragtige vrou daar naby sien staan en haar gevra om ’n foto van die groep te neem.

Toe kyk ek weer, en weer … en besef, dis sý!

Ek het teruggestap om ’n vinnige geselsie aan te knoop, maar dit het in soveel meer ontwikkel.

Tydens ons gesprek het sy soveel goedheid en guns in my lewe gespreek.

Sy het gesê dat die Here groot drome vir my het en dat sy my mentor wil wees – iemand op wie se knoppie ek enige tyd vir raad en ondersteuning kan druk.

Hierdie mentorskap het in ’n hegte vriendskap ontwikkel, en dis nou nog ongelooflik om iemand soos sy op speed dial te hê.
By Tanya is die les geleer dat ’n mens nie net moet fokus om in die voetspore van die geslag voor jou te loop nie, maar dat dit ook belangrik is om jou hart agtertoe te draai.

Om terug te ploeg in die jonger generasie. Om met wysheid en ervaring in húlle drome te belê, want mentorskap gaan nie net oor ontvang nie, maar ook oor uitdeel.

’n Ander groot inspirasie is Anna-Mart van der Merwe. Sy is nie net ’n fantastiese aktrise met ’n ongelooflike loopbaan nie, maar ook nederig en plat op die aarde. ’n Omgee-mens.
Iemand wat jou regtig raaksien, fyn luister en vrygewig is met haar wysheid.

Tydens een van ons koffiedrinksessies het sy van die beste loopbaanraad gegee: “Wees proaktief. Hou aan om jouself voor te berei, selfs al werk jy nie op die oomblik nie, want dan is ’n mens gereed vir wanneer die regte geleentheid opduik.”

Goeie raad in die tyd van Covid-19, wanneer dinge vir baie mense stiller raak.

Ons gesprek het my aangespoor om Amerikaanse aksent-klasse te neem en waaghals-opleiding te doen. Net vir ingeval – dan is ek voorbereid.

Ma Annaline is my ander groot rolmodel; die een wat nog altyd vlerkies vir my drome gebou het. Wat glo haar dogter kan enigiets doen.

Sy was met elke tree daar: van dramaklasse tot dramagraad, modelwerk en deelname aan die Mej. SA-kompetisie.

Terwyl party mense getwyfel het in my vermoëns, was sy die aanmoediger van elke droom.

Met sulke mense in jou lewe word die onmoontlike, moontlik.

Om vertroue in jouself te kweek beteken ook om nie een enkele karaktereienskap gering te ag nie. Dit wat op die oog af onbenullig lyk, vorm soms die basis vir ’n loopbaan wat soos ’n handskoen pas.

Op hoërskool was die besef al daar dat ek ’n slag met mense het. Die kinders het sommer spontaan oor persoonlike dinge kom gesels. Dit was asof hulle veilig gevoel het om ’n stukkie van hulle hart te ontbloot.

As ek terugkyk na die plaasdogtertjie in die boom wat toe reeds gedroom het oor ’n lewe in die kollig, is dit duidelik dat die Here my loopbaan spesifiek ontwerp het om die eienskappe wat van nature daar was, uit te leef.

Dit het ’n passie geword. Of ek nou as aanbieder, model, aktrise of motiveringspreker werk, ek word gereeld omring deur mense – en die kans om elke dag ’n persoonlike konneksie met iemand te maak. Of dit nou is om te luister, belang te stel of raad te gee, selfs al sien ek hulle dalk nooit weer nie.
Partymaal duik hierdie kans op in ’n geselsie met die skoonmaker, of ’n kameraman op stel, of die produksiebestuurder. Dis my manier om ’n verskil te maak en ek gryp elke kans aan.

Een van die vervullendste projekte was juis om vir ’n ruk lank afrondingsklasse in ’n agtergeblewe gemeenskap aan te bied. Dit was wonderlik om te sien hoe hierdie meisies blom en hulle eiewaarde vind.

Maar dit het deurentyd waagmoed geverg om selftwyfel opsy te skuif en die werk in te sit, sodat my loopbaan in hierdie verskillende rigtings kon vertak.

Gepraat van dapper wees … Om jonk en alleen oorsee te reis maak ’n mens baie vinnig selfstandig. Reise deur Europa en Amerika as model, het my die goedheid van mense laat ervaar.

Daar is al vliegtuie verpas, verdwaal, of die taal was ’n probleem – maar daar was altyd iemand wat uitgereik het om te help.

Soos die vriendin van ’n vriendin wat bereid was om haar huis oop te maak sodat ’n vreemdeling vir ’n week daar kon bly, bloot omdat ek ’n Suid-Afrikaner is en ons ’n goeie naam daar het.

Dit was juis die blootstelling oorsee wat my trots gemaak het op my herkoms – om Afrikaans en Suid-Afrikaans te wees.

Ons taal, kultuur en tradisies maak ’n mens uniek en spesiaal in die vreemde. En as Suid-Afrikaners staan ons uit, want ons is warm, gasvrye mense, en in aanvraag omdat ons ook hardwerkend is.

Die een plek wat die grootste indruk gemaak het, was New York. Dit het my baie geleer.

Daar is ’n ongelooflike polsende energie in die stad en soveel inspirasie wat ’n mens daaruit kan put. Dis ’n stad wat nooit slaap nie en elke persoon werk kliphard, en droom groot.

Almal wat daar bly, is mense wat dinge máák gebeur. Hulle stap selfs vinniger as die res, sodat hulle gouer kan uitkom waar hulle wil wees.

Ek is bevoorreg om baie te kon reis en soveel wêreldstede kon beleef. Al hierdie plekke het my uitgedaag om anders na die lewe te kyk.

’n Mens raak so vinnig vasgevang in jou klein manier van dink en wees, maar ek het besef dat jy ook jou gedagtes en drome ver buite die landsgrense mag strek.

Die liefde het my rustig en gegrond gemaak. Voorheen is daar van uitdaging na uitdaging gejaag, maar nou het ek ’n tuiste vir my hart en voete gevind. ’n Veilige spasie waar ek kan asemhaal en kaalvoet loop. ’n Plek van net “wees”.

Daar is ’n groot kalmte hierbinne vandat ek en my verloofde Handré saam huis gekoop het.

Ons het mekaar by ’n vakansieplek ontmoet waar ons ouers al vir jare lank uitspan.

Dis vreemd dat ons mekaar nooit raakgeloop het nie, maar toe dit wel gebeur, het ek gou besef ons is ’n goeie span.

Dit was nie net sy aantreklikheid en potblou oë wat my hart gesteel het nie, maar ook die manier hoe hy die lewe aanpak – elke ding, voluit.

Ons is albei ambisieuse, groot dromers. Twee mense wat graag vorentoe wil beweeg en soveel moontlik avontuur uit die lewe wil hê.

Om letterlik berge te gaan klim, in ’n kajak ander dele van die wêreld te sien, of op toer te gaan met net ons rugsakke as bagasie.

We dream and do life the same way.

Maar Handré se teenwoordigheid het ook ’n ander dimensie gebring.

’n Mens voel soms oorweldig deur die lewe – my kop op honderd plekke – en dis dan wanneer sy standvastigheid vir my standvastigheid gee.

Vir Handré is die lewe baie swart en wit. Hy is georganiseerd, weet presies wie hy is en wat hy uit die lewe wil hê.

Dit laat ’n mens veilig voel, en skep ’n ruimte waar daar bitter min plek oor is vir selftwyfel.

Op 28 is ek ongelooflik dankbaar en trots op wat tot dusver bereik is. Daar is al baie gedoen en beleef – en nog meer om voor te werk en na uit te sien.

Maar wat my regtig trots maak, is die feit dat ek ondanks soveel onsekerheid en selftwyfel, nooit terugstaan het vir die uitdagings of my eie beperkings nie.

Vorige artikelWanneer emosies jou geloof raak
Volgende artikelJa, jy kan … ’n betekenis– volle lewe hê