Michael Mol: “Ek wil vandag beter wees as gister”

254
Michael Mol
Foto: Karin Schermbrucker

MICHAEL MOL, deesdae hoof van die Christelike TV–kanaal, TruthTV, se CV is verbý indrukwekkend. Dokter, aanbieder, vervaardiger, spreker, tech–preneur, Oxford–alumni, adrenalien–junkie … Maar sy grootste rol is dié van gesinsman wat poog om elke dag ’n bietjie beter as gister te wees.

Almal het hande geklap. My luidkeels toegejuig en op die skouer geklop. Dit was Sondagoggend in die kerk en die dominee het pas afgekondig dat die ondeunde Michael wat almal ken, die vorige aand as Mnr. Suid-Afrika aangewys is.

So tussendeur die gelukwensinge het oom Ted, een van die mees gerespekteerde ouer garde, ongesiens agter my kom staan.

In vier woorde is die heel beste raad nog in my oor gefluister. “Remember who you are …” het hy op sy sagte, wyse manier gesê.

Onthou wie jy is.

Dis ongelooflik hoe hierdie een, basiese boodskap kolskoot getref het, want dis presies wat ek op daardie oomblik moes hoor.

Dit was aan die begin van ’n dekade lange loopbaan in die media-kollig, en ’n saadjie is geplant om my voete plat op die aarde te hou.

’n Groepie naaste vriende het sedertdien hiervoor gesorg, en teenoor hulle, en oom Ted, sal ek ewig dankbaar bly.

Hierdie raad het gehelp dat al die goeie en slegte publisiteit, die op en af deur die jare, hanteer kon word sonder om ’n impak op my menswees te hê.

Dit het ’n daaglikse doelwit geword: om met eerlikheid en integriteit te leef – in alle omstandighede getrou aan myself sonder voorgee.

Meer onlangs het die grootste kompliment van my vrou, Jacqui, afgekom. ’n Joernalis het gevra: “Wie is Michael as die kameras ophou rol?” Haar antwoord: “Presies dieselfde ou. By hom is daar geen pretensie nie.”

Vandag, op amper 50, sien ek ’n man en pa in die spieël met grys hare en baie plooie, maar ook iemand wat gelukkig genoeg is om gesond te wees.

Dis ’n mengsel van genade, maar ook die verantwoordelikheid om elke dag ’n getroue rentmeester te wees van die vermoëns waarmee ek geseën is.

’n Vraag wat gereeld hierbinne opduik, is: “Die Here gee lewe in oorvloed … maar leef ek regtig oorvloedig? Voluit?” Word my talente gebruik om ander te seën? Is dit wat vir Hom die belangrikste is – mense – ook my eerste prioriteit?

As man en pa het ek geleer: dit gaan nie oor my nie.

Vroeg in ons getroude lewe het ek twee beroepe gehad – trauma[1]dokter bedags, TV-aanbieder saans.

Baie gou het dit in dubbelskofte by die hospitaal ontaard, sodat daar meer tyd vir reis as aanbieder kon wees. En geen tyd vir my vrou nie!

As iemand met “FOMO” (fear of missing out), het hierdie produktiewe, adrenalien-belaaide skedule my soos ’n handskoen gepas, maar Jacqs was glad nie beïndruk nie. Dit was nooit haar idee om alleen getroud te wees nie.

Op ’n dag is ek in baie duidelike terme meegedeel: “As jy ná werk by die huis kom, is ek nie meer hier nie.”

Hierdie woorde het my oë laat oopgaan vir die selfgesentreerdheid. Dit was net die regte aanmoediging wat nodig was om te kies tussen medies en die media – want saam was dié twee dinge nie volhoubaar nie. En beslis nie goeie boublokke vir ’n gelukkige huwelik nie!

Wat destyds soos ’n opoffering gevoel het, was uiteindelik ’n lewensreddende keuse.

Vir my het liefde sinoniem met toewyding geword. En om tweede te wees, sodat die liefde van my lewe eerste kan kom.

Ek en Jacqs het op hoërskool begin uitgaan en is vir amper ’n kwarteeu gelukkig getroud.

Ons saamwees het die les geleer dat liefde nie ’n gevoel is wat kom en gaan nie. Dis veel eerder ’n doelbewuste verbintenis om toegewyd te bly aan mekaar; selfs op die dae wat die vlinders in jou maag wegvlieg en liefde ’n werkwoord moet word.

Ons het ’n belofte gemaak van liefwees en daar wees vir mekaar “tot die dood toe”. Dit skep ’n fondasie wat diep vasgemessel is … ’n verhouding met ’n veiligheidsnet waar ons albei weet: nie een sal opgee of uitstap nie – dit maak nie saak wat nie.

Nog ’n kernbesluit is om altyd die beste van mekaar te dink, en om skouer-aan-skouer elke probleem saam aan te pak.

My pa het ’n trefferboek oor die huwelik geskryf, Let’s both win. Die beginsel is: dis “ons” teen die probleem, nie “ek” teen “jou” nie. Wanneer ’n mens nie saam wen nie, beteken dit die een verloor. En as een verloor, verloor albei.

Ek sal nooit die perfekte man wees nie, maar wil steeds elke dag probeer om ’n beter man te wees.

Jacqui moet voel dat sy getroud is met iemand wat haar ten diepste liefhet en bemin. Wat sy van my dink (nie wat ek van myself dink nie), is wat regtig saak maak.

Dis ’n realiteit: Ek is vervangbaar. As dokter, vervaardiger, aanbieder, uitvoerende hoof, spanspeler – elkeen van hierdie rolle kan deur iemand anders vervul word, behalwe een … om pa te wees.

Ek is nie vervangbaar as pa van ons kinders nie, en daarom is dit die belangrikste werk wat ek nog sal doen. As pa wil ek eienaarskap neem van hierdie titel: dit waardeer, dit verdien en regtig daar wees vir my gesin.

My pa het sy ouerskap op twee doelwitte gefokus. Sy kinders moes eendag die huis verlaat met ’n gesonde selfbeeld en met ’n intieme verhouding met die Here.

As ek dieselfde met ons drie kinders, Joshua (19), Rachael (17) en Naethan (12) kan vermag, sal dit meer as genoeg wees.

Dis so ’n voorreg om liefde, tyd en energie in hierdie drie ongelooflike siele te belê. Hulle is net ’n klein rukkie vir ons geleen.

Die Mol’s is ’n aktiewe buitelug-avontuurgedrewe gesin. Ons is daarop ingestel om herinneringe te skep en dit op kamera vas te lê. Net soos toe ek jonk was; altyd met ’n videokamera in die hand besig om almal af te neem (en ná die tyd, weer vies omdat ek nie in die skoot is nie).

Tyd is so ’n kosbare kommoditeit dat die idee van “die tyd omkry”, my skoon bangmaak. Om tyd maksimaal te benut maak baie meer sin.

In ons gesin beteken dit om tyd saam te spandeer deur dinge te doen waarvan ons die meeste hou – een daarvan is branderplankry.

Tydens die grendeltydperk, toe niemand op strande toegelaat is nie, het ons ’n rukrek om ons enkels vasgemaak en in die swembad op ons planke geroei. Daar was ook ’n vlugbalbaan in die erf om fiks te bly, en ’n tou om op te balanseer.

Maar die heel lekkerste is die tye saam aan die etenstafel.

Om die geselskap aan die gang te hou het ons spesifieke aktiwiteite vir verskillende dae.

Maandae is Memory Mondays – elke gesinslid bring ’n foto en deel ’n gunsteling-herinnering. Op True Tuesdays deel elkeen ’n Bybelvers met ’n besondere betekenis.

Wacky Wednesdays is die dae wanneer daar iets laf gedoen word, soos om in die donker te eet of ’n vreemde kombinasie uit te probeer. Het jy al ’n advokado-kondensmelkskommel gedrink?!

Op Thoughtful Thursdays sal almal ’n interessante gedagte of konsep aan tafel deel.

Só verryk ons mekaar se lewens en groei saam.

Maar ek het ook baie foute as man en pa …

Die een grootste tekortkoming, en iets waaraan daar waarskynlik vir die res van my lewe gewerk sal moet word, is om in die hier en nou te leef, sonder om aan ’n volgende projek of aktiwiteit te dink.

Persoonlikheidsgewys is ek ’n “maximiser”; iemand wat elke sekonde van elke dag maksimaal wil benut – en boonop bang is hy loop iets anders mis.

Dit kan die lewe nogal uitputtend maak. Dit steel die vreugde van die oomblik en laat ’n mens onrustig en sonder vrede voel.

As ek “hier” is, knaag die gedagte: “Moet ek nie eerder ‘daar’ wees nie.” As ek besig is met een ding, wonder ek: “Kan my tyd en aandag nie beter op iets anders spandeer word nie?”

Vanuit ’n buitestander se oogpunt lyk dit baie soos ontevredenheid … en dis heeltemal verkeerd! Ek is mal oor ons gesin, en baie bewus daarvan om aan hierdie aspek van my persoonlikheid te werk.

Ek hoor myself nogal dikwels sê: “Jammer, Here, hier gebeur dit alweer!”

’n Goeie werk-lewebalans gaan nie oor tydsbestuur nie, maar oor hoe om jou energie te bestuur.

My energie word bestuur deur kort tye van herstel in die daaglikse chaos in te werk. Om na my hart te luister (letterlik), en dieselfde ritme te volg: klop, rus, klop, rus. Op dieselfde trant: stres, herstel, stres, herstel …

Met man- en pa-wees, gaan balans daaroor om tyd en energie reg te bestuur. ’n Mens kan nie kwaliteit sonder kwantiteit hê nie, en die omgekeerde is ook waar.

Dit maak nie saak hoeveel tyd daar saam met die gesin spandeer word nie, as ek nie met passie en energie betrokke (engaged) is in die oomblik nie, help dit maar min.

Elke nuwe jaar word begin met die gedagte: “Wie wil ek wees?” En dan word ’n praktiese plan uitgewerk om dit uit te voer.

’n Tipiese jaarplan sal soos volg lyk: Om ’n beter eggenoot te wees beteken alleentyd saam met Jacqs, om elke dag een liefdevolle ding te doen, om diensbaar te wees, fisieke kontak (daardie soene in die nek …), om elke dag iets diep en betekenisvol met mekaar te deel, en om altyd die beste van haar te dink.

Om ’n beter pa te wees: maak een-tot-een tyd vir elke kind. Saam met Josh: branderplankry, bergfietsry en musiek luister. Ek en Rachi: branderplankry, fotografie, oefen. En saam met Naethan: Lego’s bou, videospeletjies speel en van die omgewing ’n hindernisbaan maak en dit blitsvinnig kafdraf (parkour).

As gesin probeer ons om een keer per maand weg te breek vir ’n naweek, of selfs om net vir die aand te gaan uiteet, ’n vertoning te kyk, of om saam iets te doen om die gemeenskap te dien.

Daar is ook ’n paar waardes wat ons probeer uitleef. Liefde, respek, geloof en hoop.

Maar ook om pret te hê, te lag en saam simpel te wees. Avontuur – om verrassings in ons saamwees in te bou, spontaan te wees en mekaar uit te daag.

Om gesond te leef (oefen, goeie kos, genoeg slaap), om dankbaar te wees, self-dissipline aan die dag te lê, met ons talente te woeker, konflik op te los, altyd ons alles te gee, en om met deernis te leef deur ander in ag te neem en te vra: “Hoe kan ek help?”

Daar’s ’n gebed wat ons bid. Iets in die lyn van: “Help ons om die wêreld te sien soos U dit sien.”

As ’n mens lank genoeg só bid, besef jy niks maak meer saak as om mekaar en ander lief te hê nie.

Vir ons oudste, Josh, se 18de verjaardag is ’n paar vriende gevra om die wyshede neer te skryf wat hulle met hulle jonger self sou deel. Ek het ook so lysie gemaak, en dit oor ’n konjak en sigaar met my seun gedeel.

Bo-aan die lys was, wees dapper. Moenie dat die vrees vir mislukking jou terughou nie. Dis ’n eienskap wat ek hoop die kinders in my raaksien en eendag sal navolg.

Ek was nog altyd mal oor uitdagings, die idee om iets te doen wat niemand ander sal doen nie. Op skool byvoorbeeld, het ek en ’n vriend besluit om met fietse van Pretoria af Durban toe te ry.

Ná die eerste dag, doodmoeg en heeltemal gedehidreer, moes ons al die geld bymekaarsit en vir my maat ’n busrit huis toe reël. Maar ek het besluit om klaar te maak, kom wat wou.

Met ’n T-hemp aan my lyf en een in die rugsak, het ek vir nog twee dae fietsgetrap, en saans aan vreemdes se deure geklop vir kos en verblyf.

Daardie euforie … om uiteindelik op Durban-strand te staan, met die branderplankryers wat hierdie “Vaalie” toejuig! Dit was ’n fantastiese ondervinding wat my geleer het wat dit verg om deur te druk.

Ek is steeds ’n adrenalien-junkie wat dinge doen soos valskermspring uit ’n warmlugballon, skubaduik in ’n gevriesde meer, op die vlerk van ’n dubbelvlerkvliegtuig loop in die vlieg, lyf-surf in die Zambezi, rekspring van die hoogste brug in die wêreld af – agterstevoor. Dit laat my tick.

Josh moet ook weet, as jy belowe om iets te doen, doen dit na die beste van jou vermoë. En as jy die belofte breek, neem volle verantwoordelikheid daarvoor.

Doen die regte ding, veral as niemand kyk nie.

As jy twyfel of iets reg is, moet dit nie doen nie, want: “What happens in Vegas, doesn’t stay in Vegas. It stays with you.”

Werk hard. Jy kán. Maar ook … onthou, jy weet nie alles nie. Moenie ’n geleentheid laat verbygaan om iemand spesiaal te laat voel nie.

En kies vandág wie jy wil dien: God of geld – want dit kan nie albei wees nie.

Vorige artikelAanvaar jóú man se unieke persoonlikheid
Volgende artikel’n Vriendin om jou te help motiveer