’n Ope brief oor plaasmoorde

696

“Ons boere moet in ’n abnormale omgewing leef… ons bly sterk, maar die waarheid is dat ons nie meer leef nie, maar probeer oorleef, veral die mense wat deur plaasaanvalle geraak word. Daar is geen regverdiging hiervoor nie. Ons moet saamstaan en op die hulpkrete reageer. En ons moet aanhou bid vir vrede en geregtigheid.” − Hannes Noeth, Uitvoerende hoof van Helpende Hand

Uit my hart – as ’n plaasseun en ter nagedagtenis aan elkeen wat hulle lewe op plase verloor het …

Ek wil nie meer kwaad gaan slaap nie, ook nie meer baklei nie. Maar elke keer as ek van ’n brutale plaasaanval hoor of van nog ’n boer en sy gesin wat vermoor is, word hulle roepstem al hoe harder. Al hoe dringender.

Die gruwels en hartseer van plaasmoorde laat baie wonder of hulle volgende is. ’n Plaas is nie meer ’n veilige plek nie, maar steeds gaan lê die boerderygemeenskap nie.

Om elke dag in vrees te boer

Moedeloos. Desperaat en hartseer. Dit is gevoelens wat al deur elke boer se are gevloei het. Ja, hulle het nog altyd baie uitdagings gehad, maar vandag is daar soveel meer om oor wakker te lê.

Ek het self op ’n plaas in die Vrystaat grootgeword.

Daar was ysige Vrystaatse winters, bloedige Vrystaatse somers. Daar was te min reën, maar daar was ook oorstromings.

Ekonomiese en politieke struikelblokke het nog altyd in die pad gelê, maar ons was nooit vreesbevange nie. My ouers was nie elke aand oor ons veiligheid bekommerd nie.

Met die lys van plaasmoorde wat elke dag langer word, kan ons dit nie help om in vrees te boer nie.

Ons het van die beste boere suid van die ewenaar. Hulle werk nog harder weens die groter behoefte na voedselsekerheid.

Dit moet uiters moeilik wees … Om saam met al die gewone uitdagings en onsekerhede van ’n boerdery nog in vrees ook jou dagtaak te verrig. Hulle wil nie vrees nie.

Hulle wil werk en voorsien. Om te boer is ’n roeping. Danksy laasgenoemde is daar kos op ons tafels, word werk aan plaaswerkers verskaf en daar tot die ontwikkeling van die ekonomie bygedra.

Raak stil en dink aan ons

Hulle word gedryf deur hulle passie. Hulle ken die grond, verstaan die klimaat en aanvaar die verantwoordelikheid om al die beskikbare hulpbronne te bewaar en te bestuur.

Boere verseker ’n volhoubare toekoms vir ’n groeiende bevolking. Ondanks elke dag se uitdagings wat hulle in die gesig staar, gee hulle nie op nie.

Danksy geloof en deursettingsvermoë word gedoen wat hulle die beste kan doen.

Ek dink nie almal besef waarlik waaraan plaasgemeenskappe blootgestel word nie. Hulle moet elke dag paraat wees en hulle veiligheid opskerp.

Ons moet meer stil raak en aan hulle dink, hulle waardeer en vir hulle bid.

Ek moes stil raak en weer na die hulpkrete luister toe ek hoor van vriende na aan ons wat aangeval is. Die tannie is gemartel. Ek kon nie na die foto’s van haar op Facebook kyk nie – ek wou haar nie so sien nie.

Elke plaasmoord is nie net nog ’n nommer nie. Dis ’n naam, ’n familielid, iemand se buurman, ’n geliefde, iemand se kind, iemand se pa of ma.

Elkeen het ’n storie.

Ons vergeet dikwels dat dié mense hulle lewens in gevaar stel om die nasie te voed.

Ek is dankbaar vir ons land se boere

Ek besef al hoe meer dat ons te min dankie sê. Ons toon nie altyd ons dankbaarheid wanneer ons ’n bord kos geniet nie.

Ons is dikwels kwaad oor aanvalle en moorde, maar neem bitter min kere net ’n oomblik om ons waardering te toon.

Ons kan deel word van elke moontlike paraatheidsplan of ’n bewustheidsveldtog. Ons toon simpatie teenoor dié wat aangeval en vermoor word. Tog wil ek die klem verskuif.

Ek wil aan elke boer dankie sê. Dankie vir julle positiewe gesindheid en vir die verskil wat julle maak.

Dankie vir elke bord kos, elke glas melk, elke stukkie vleis en die brood wat ons kan eet.

Ek wil ook dankie sê vir die werksgeleenthede wat julle vir ander skep. Ons moet julle meer waardeer.

Julle bestudeer die grond en pas dit op vir die nageslagte, hou die wolke dop en bid vir reën. Ploeg en plant en gaan slaap laat en staan weer vroeg op.

God het mense nodig gehad om na sy aarde om te sien. Hy het julle gekies, want Hy ken julle waarde.

Dis tyd dat ons mense ook julle waarde raaksien, nie net in ’n tyd waar geweldsmisdaad julle beproef nie, maar elke dag.

Om saam hande te vat teen die pyn

Ek wil jou vra om saam met my te bid … Vir hulle daaglikse uitdagings, hulle roeping, maar veral vir hulle veiligheid.

Ons boere moet in ’n abnormale omgewing leef … Eintlik leef die hele Suid-Afrika in abnormaliteit.

Ons bly sterk, maar die waarheid is dat ons nie meer leef nie, maar probeer oorleef, veral die mense wat deur plaasaanvalle geraak word. Diegene wat gelukkig is om ’n aanval te oorleef, dra sielswonde vir die res van hulle lewe rond.

Tog hou hulle aan glo, al wil hulle hart breek. Die diepgewortelde woede in die hart van aanvallers neem nie sy wyk nie.

Armoede en werkloosheid word as verskonings vir die misdaad gebruik. Maar hoekom dan so wreed?

Daar is geen regverdiging hiervoor nie. Ons moet saamstaan en op die hulpkrete reageer.

As ons saam aan ’n toekoms wil bou, moet ons mekaar se pyn verstaan en mekaar ondersteun. Boere kan nie alleen in hierdie oorlog veg nie. Ons moet aanhou bid vir vrede en geregtigheid. Slegs deur gebed kan ons as oorwinnaars teen die donkerte opstaan.