IRENE FISCHER: ‘’n Woord druk my nie in ’n boksie nie’

143

“Gestremd. Dit het ’n rukkie gevat voor ek aan die woord gewoond geraak het.”

Aanvanklik het ek na myself verwys as differently abled, maar toe sluk ek eendag my trots en noem myself ’n gestremde.

Ek onthou dit nog goed. Jacqui January het ’n onderhoud met my gevoer op RSG se Leefwêreld van die gestremde. Ek het besef dis ’n woord wat die meeste mense verstaan, al is hulle opinies daaroor verwronge.

Maar ek het myself belowe dat die woord my nié in ’n boks sal prop nie. Nooit nie.

Eens op ’n tyd was my woorde so duidelik en hoorbaar dat ek ’n radio-omroeper op OFM was. Vandag gesels ek steeds aanmekaar; net nie meer so maklik nie. In drie sekondes het my lewe verander. My storie gaan egter nie oor daardie drie sekondes nie.

Ná die ongeluk moes ek van voor af leer praat, eet, kruip en uiteindelik loop. My stem was letterlik weg. Kan jy glo dat die brein jou stem insluk as dit so groot skrik? Op 26 moes ek vir drie maande lank ’n doek dra. Dit is baie vernederend, maar ook pretensieloos.

Baie dinge word irrelevant – plooie, gewig, mode, status, geld. Niks waarvoor jy moet betaal, maak saak nie. Al wat saak maak, is die dinge in die lewe wat verniet is, maar wat geen geld in die wêreld kan koop nie. Dinge soos liefde, vrede, omgee, geluk, geduld, dankbaarheid …

Mense met breinskade droom nie eintlik nie, maar ek het ’n droom. Ek droom oor gelyke regte vir almal. Waardigheid vir elke mens op aarde.

Daar is vir my gesê ek sal nooit weer loop nie. Nooit weer werk nie. Nooit weer bestuur nie … Dit het drie jaar en nege maande gevat, maar ek loop weer. Stadiger as ’n skilpad, maar vorentoe. Ek het weer leer swem en perdry. Bestuurslesse geneem …

Ek sal alles probeer, meer as een keer. As ek nie slaag nie, sal ek beslis iets daaruit leer. Alles het waarde, dit hang net af van hoe jy daarna kyk. Selfs al moet ek soms met ’n oogklap kyk. Ek het permanent dubbelvisie. ’n Oogklap (solank dit net ’n bont een is) maak dit minder.

Niks van my gestremdhede kan gesond of genees word nie. Ek is nie siek nie, ek is net gestremd. Ek is permanent verander, maar is nou in ’n baie goeie toestand! Dit het 21 operasies geneem om my in die beste moontlike werkende toestand te kry.

Al wat ek nou moet doen, is om my gesondheid in stand te hou. Ek is soos ’n atleet wat fiks is, maar steeds aanhou oefen. Harder en harder. Met elke oorwinning groei my vasberadenheid. Dit is ek.

– IRENE FISCHER

Vorige artikel‘Ek het my doel in die lewe gevind’
Volgende artikel[PODSENDING] Jy kan nie sonde vir God wegsteek nie