‘Onthou, jý maak regtig saak’

122

As KIM SYSTER in een woord opgesom moes word, sou die woord “vasberade” waarskynlik dadelik opduik. Sy gaan lê nie, en gooi ook nie sommer tou op nie. Kim is ’n kombinasie van sag én sterk, toegevou in ’n mooi pakkie.

Die waarheid is ’n naarheid, maar dit hou jou uit die gevaar uit.” Dit was nog altyd Antie Brenda – Ma se ouer suster – se sê-ding.

Waar woorde. Maar die waarheid maak ook soms seer.

Dit kwes die hart diep, daar waar niemand kyk nie.

Dit was skoolvakansie en ek was vreeslik opgewonde om twee vriendinne vir ’n kuier oor te nooi.

Net die een het opgedaag. Die ander een se ma het gevoel die area was nie veilig genoeg vir haar dogter nie.

As kind kon ek dit nie verstaan nie. Hoekom mag sy nie kom nie?

Dis dan lekker hier.

Die area was Mamre. My grootwordplek. ’n Piepklein dorpie in die Kaap. Rural.

Party mense het niks goed oor sulke “areas” te sê nie. Maar vir my is dit ’n trotse plek.

Ek is deur en deur ’n produk van Mamre en sal altyd my plek verdedig, al kyk mense dalk daarop neer. Dit het my die mens gemaak wat ek vandag is. Sterk en beginselvas.

Dit was nie altyd ’n maklike plek om in groot te word nie. Soos met enige klein, plattelandse dorpie was daar armoede en swaarkry. Maar dis hier waar ek my waardes en maniere geleer het.

Wanneer ek en Ouma in die straat afgestap het, het ek presies geweet wat van my verwag word.

“Wees vriendelik en ordentlik,” het Ouma my herinner. “En as iemand jou sleg behandel, moet dit nie aan hulle terug doen nie.”

Dit was ’n ongeskrewe reël op die dorp: Groet elke mens wat by jou verbystap, want hoe jy jou ook al buite die huis gedra, gaan by jou ma uitkom.

En dít het saak gemaak, want ek was Yvonne se kind. ʼn Enkelma, maar ook die sterkste, mees onafhanklike vrou wat ek ken. ’n Superheldin in lewende lywe. Daar moes nooit oor Yvonne se kinders gesê word hulle het nie maniere nie.

Ek sou enigiets doen om haar trots te maak. Sy het altyd vir my en my jonger boetie geleer: “Kyk mooi na jou reputasie, want dit is hoe mense jou en jou familie gaan onthou.”

Hier waar ek vandag bly, nader aan die stad, is dit steeds tweede natuur om die mense op straat te groet. Máár hierdie is nie Mamre nie. Party mense groet terug, ander kyk jou net vreemd aan.
Dan onthou ’n mens weer hoe jy geleer is: Mense tree op vanuit die innerlike plek waarin hulle hulle bevind. “Moenie jy soos hulle maak nie. Maak soos jy geleer is.”

Ek sal nooit my wortels en hoe dit my as mens gevorm het, vergeet nie.

Dit was die beste aand van my lewe. Die adrenalien het deur hierdie are gebruis. Die skerp verhoogligte, die musiek, die mooi kostuums … alles het die gevoel geskep dat ek met iets vreeslik belangrik besig was.

So belangrik dat die hele familie kom kyk het. Al die ooms, anties, niggies en nefies het ’n hele ry in die saal vol gesit. Spesiaal om vir Kimmie te kom kyk.

Tien jaar oud en in my element. Hoofrol in die balletopvoering, Coppelia. My kop was iewers hoog in die wolke. My voete het oor die verhoog gesweef. Dit was die mooiste aand.

Betowerend. En toe die gehoor losbars in applous, was die eerste gedagte: “Ek kan hieraan gewoond raak!” Skielik het ek presies geweet waarvoor ek uitgeknip is. Om te perform.

Die sagte reën buite was net ’n bevestiging. Hierdie aand was ’n groot seën, ’n rigtingwyser wat die koers van my loopbaan sou aandui.

Dit was juis in die balletklas waar een van die belangrikste lesse geleer is.

“You can be a talent of note, but it means nothing if you are not professional,” het meneer Muller, die balletonderwyser, ons geleer.

Daag op, wees betyds, respekteer ander se tyd, wees teenwoordig in die oomblik, en doen altyd jou bes.

Dis wat hy verwag het, al was ons nog so jonk.

Ek dink hy wou die gedagte tuisbring: Moenie skaam wees oor waar jy vandaan kom nie, want met die regte ingesteldheid kan ʼn mens enigiets vermag.

Dit was met die einste repetisies vir Coppelia wat ek vir meneer Muller verskriklik teleurgestel het. ’n Les wat my altyd sal bybly.

Daar sou die Saterdag gerepeteer word, maar daar was ook ʼn Sondagskool-uitstappie vir dié dag gereël. Natuurlik wou ek eerder saam met my maats gaan baljaar het.

Die geluk by die ongeluk was die seerkry kort voor die naweek.

Ek moes steke kry. Dit was net die regte verskoning om nie die repetisie by te woon nie.

My arm was egter nie te seer vir die Sondagskool-uitstappie nie.

Toe ek nie vir die repetisie opdaag nie, het meneer Muller al die pad na ons huis toe uitgery om uit te vind hoe dit gaan. Ek kon nie glo dat hy soveel moeite sou doen nie.

Die verwagting was dat ek steeds teenwoordig moes wees; moes kyk en luister terwyl die ander repeteer. Natuurlik was hy teleurgesteld dat ek eerder ander planne gemaak het.

Die skaamte en skuldgevoel het my laat besluit: nooit weer nie. Dit het die fondasie gelê waarop daar vandag steeds voortgebou word.

Wees gedissiplineerd en hardwerkend – ongeag die omstandighede.

Ons kon vir ure sit en flieks kyk. Ek en my pa. Vasgenael voor die TV. Die bank moes presies die regte afstand van die TV af wees, sodat die klank en beeld perfek kon wees.

Én dit was nie romantiese girlie-girl stories nie, maar aksiebelaaide flieks met manne soos Arnold Schwarzenegger, Jean-Claude van Damme en Jackie Chan in die hoofrolle.

Vir my was die aksietonele soos ’n dans. Perfek gechoreografeer om elke beweging tot sy reg te laat kom.

Ek en my pa het ons aan die tegniese detail vergaap. Vandag nog kyk ons na ’n fliek in terme van die detail wat met groot moeite agter die skerms beplan word.

Dis ook hoe ek elke rol aanpak. Dit is ’n dans waarvan die tyd en ritme in elke skoot perfek moet saamval.

Toe ek op tien besluit dat my hart in die vermaaklikheidsbedryf lê, het ek dadelik vir Ma gaan sê: “Ek wil ’n aktrise word.”

Haar antwoord was prakties en doelgerig, nes sy: “Nou wat gaan jy daaromtrent dóén?” Niks was ooit vir haar onmoontlik nie.

Die vraag het my ’n bietjie laat kopkrap, en die antwoord het toe later vanself gekom. “Vir dramaklasse inskryf, natuurlik!”

Al is my ouers geskei, en al het ons soms rondgetrek om nader aan haar werk as onderwyseres te wees, het ek en my broer niks kortgekom nie. Só het dit gevoel.

Sy het seker gemaak dat ons ons kinderlewe geniet, maar het ook hard gewerk om ons drome te help najaag.

’n Gunsteling-ritueel in die huis was verjaarsdae. Douvoordag is die verjaarsdagkind in die bed wakker gesing deur ma en boetie/sussie, wat nog self deur die slaap was.

Tot vandag toe hou ek by hierdie spesiale ritueel. My man moet maar maak of hy slaap, tot ek hom kom wakker sing met koek en persente.

Haar sterk invloed het van my ’n baie voorbeeldige, gehoorsame kind gemaak.

Die gevoel was altyd: “Ma weet waarvan sy praat, so ek gaan luister.”

Ek het nie daarvan gehou om buite die lewe se lyne te leef nie.

Ek wou haar nooit omkrap nie.

Tog moes ek met tyd leer dat die grootste groei juis gebeur wanneer ’n mens jou kop stamp.

Dit was soos ’n oomblik in die flieks. Ma het my gestuur om vleis by die dorp se enigste slaghuis te gaan koop. En toe staan hierdie Adonis agter die toonbank.

Snaaks dat ons albei op die dorp grootgeword het, maar nog nooit ontmoet het nie.

Ons oë het vir ’n oomblik kontak gemaak, en toe was die koeël deur die kerk. Die fladdering in my maag was onmiskenbaar. Ek het immers geweet hoe dit voel om verlief te wees.

My hart is op 19 in stukke gebreek, maar ek wou nie die verhouding beëindig nie. Het gebid en geglo dat hiérdie my trouman is. Dat ons saam is vir ’n rede, al het hy my met iemand anders verneuk.

Hy het gesê dis net ’n fase. Dat ons hierdeur sal kom. Dat hy eintlik regtig by my wil wees.

Ek het aan hierdie woorde vasgeklou, maar ook myself bietjie vir bietjie in die proses verloor.

Saam met hierdie ou het die toekoms anders as die droom begin lyk. Ek sou moes opgee om aktrise te word.

Die ergste van alles was dat ek bereid was om dit te doen.

Enigiets om hierdie liefde te máák werk. ’n Mens kan jouself baie dinge wysmaak as jou kop eers daarvan oortuig is.

Naderhand het ek hom elke dag gebel. Wou heeltyd weet waar hy is en waarmee hy besig is.

’n Toksiese verhouding. Selfs my ma het, in haar wysheid, my laat begaan. Gesê ek moet self uitwerk hoe om hierdeur te kom.

En toe op ’n dag … dankie tog … is die besluit geneem.

Hierdie nonsens is nou klaar. As ’n verbintenis ’n mens nie dien nie, is dit nie jou tyd en aandag werd nie.

Dit was die beste besluit van my lewe.

Teen die tyd dat ek Meneer Aantreklik in die slaghuis raakgesien het, was hierdie verhouding reeds iets van die verlede.

’n Mens wil-wil nog terughunker, maar my vasberade streep het gelukkig die oorhand gekry.

En só het ek ’n groot waarheid ontdek. Wanneer iets “reg” is vir jou – pasgemaak uit die Here se hand, soos dit bedoel is om te wees – kom dit maklik en moeiteloos.

Min dinge in my lewe het al ooit so reg gevoel soos my verhouding met my man, Chris.

Dit is die maklikste ding in die wêreld om vir hom lief te wees.

Ons verhouding is gebou op diensbaarheid. Daar is niks so lekker as om mekaar op die hande te dra nie.

Dit was die oomblik wat ons hele uitkyk verander het. My en Chris s’n.

Die swangerskap was van die begin af moeilik. Ons eerste. Met elke opdraande het almal die versekering bly gee: “Die baba gaan oukei wees.”

Maar die grootste bult, op 18 weke, was toe te steil.

Tot op die heel laaste oomblik het ek dit nie geglo nie. Steeds bly dink alles gaan reg uitwerk.

Ek moes ’n paar weke vantevore ’n operasie ondergaan omdat die dokters bang was vir infeksie.

Daarna is ek op streng bedrus geplaas. Ma en Chris het mekaar afgelos om by die huis na my om te sien. Steeds was die baba oukei.

Maar toe, onverwags, breek my water. Ek was salig onbewus van die gevaar wat gedreig het. Die grootste skok was Ma se reaksie. Sy is altyd kalm en in beheer, maar dié keer was sy histeries. Sy het die heelpad hospitaal toe gebid.

En steeds, met die vloeistof wat uit my liggaam vloei, het dit nie een keer by my opgekom dat iets met die baba kon fout gaan nie.

Dit was eers toe die dokter sê dit is onkeerbaar … net ʼn kwessie van tyd voor die hartjie gaan staan … dat ek besef het iets groot is fout.

“Is daar dan niks wat julle kan doen nie?” was die verdwaasde vraag. Te bang om te huil of om die ergste te oorweeg.

“Nee, jammer, Kim, niks.” Die dokter was vol empatie. Eers tóé het die besef ingesink. Die trane het skielik vrylik teen my wange afgeloop.

Dit was baie traumaties. Ek dink nie ek het al ooit so verskriklik alleen gevoel nie.

Dankie tog my twee steunpilare was daar. En daarna, ook my vriendinne, wat ’n mens in ’n kokon van liefde en omgee toegevou het.

Dis waar ek besef het dat vriende ook familie kan word.

Snaaks hoe die lewe werk. Met die verlies van ’n kind het ek eers besef hóé graag ek ’n ma wou wees. Én steeds wil wees.

Maar ek moet eers fisiek en geestelik heeltemal gesond voel voordat ek weer hierdie pad sal aandurf.

Daar is hoop, en dis al wat saak maak.

Die verlies het ons oë oopgemaak vir hoe kosbaar die lewe is.

Dit het ’n diep verstaan gegee vir my ma en vriendinne se vreugde om ma’s te kan wees.

Die lewe is so kort. Ek, wat nie altyd hou van buite die lyne inkleur nie, waag nou meer.

Saam met my man, lag ek ook meer – veral vir myself. Alles hoef nie meer perfek te wees nie. En wat ander mense dink en sê, maak ook nie meer so baie saak nie.

Vorige artikelHoe staan jy sterk deur moeilike tye?
Volgende artikelJa, jy kan … die sukses wat jy begeer, skep!