Quanita Adams: “Party ervarings verander jou vir altyd”

69

Waar aktrise QUANITA ADAMS is, word daar gewoonlik geskaterlag. Sy is borrelend en snaaks, maar daar is ook ’n ernstiger kant. Die lewe se blink én seer ervarings het haar al op vele maniere gebrei en verander.

Dit het begin by ’n gedig oor ’n vark. Tien, elf jaar oud, staan ek voor die klas en die gedagte wat oor dié vark opkom, is dat dit ’n Engelse Cockney-karakter is. Een wat iewers in ’n kroeg in Londen sit en met ’n tipiese Cockney-aksent praat.

Waar ek aan hierdie beeld gekom het, weet nugter alleen, maar die juffrou en die kinders het so hard gelag dat daar ’n paar keer oor begin moes word.

Dit was ’n betowerende gevoel! Om te hoor hoe mense lag vir iets wat uit jou mond kom. Hoe hulle regop sit en luister.

My persoonlikheid het daardie dag eers werklik begin vorm aanneem.

As akteur dink mense dikwels dat ek van kleins af ’n grappige, luidrugtige drama queen was. Glad nie.

My vroegste herinneringe daar op die Kaapse Vlakte was ’n liefde vir teken en vir lees.

Ek was ’n kunssinnige, ietwat eienaardige, nerdy-tipe kind.

Boeke is hoog in ons huis geag. My ouers het ons kinders by ’n boekklub ingeskryf en elke maand is ’n pakkie in die pos afgelewer met leesboekies, oefenboekies, ensovoorts.

Daar was groot opgewondenheid om die maand se pakkie oop te maak en te begin lees en leer.

’n Ander groot liefde was teken. Ma Felicity het nou nog die tekening wat ek op twee van die animasie-karakter Snoopy gemaak het.

Sy en pa Nazeem het dadelik hierdie aanleg vir kunste raakgesien. Ten spyte van die beperkte geleenthede in die tagtigerjare, het hulle gesorg dat ek al die benodigdhede gehad het om my talente uit te leef.

Ekstra kunsklasse, dramaklasse … Dit was wonderlik om so voluit en onvoorwaardelik ondersteun te word, want daar was wel ’n paar dinge waarin ek glad nie uitgeblink het nie …

Wiskunde. Dis nou nog ’n verleentheid om te erken dat 23% in matriek (op standaardgraad!) die somtotaal van my wiskunde-aanleg is.

Kyk, syfers was al klaar ’n uitdaging, maar toe hulle boonop die alfabet ook inbring, was ek soos: “Nee, mense. Stop dit!”

Enigiets atleties is ’n ander groot nee. “The only thing I run … is a bath.”

Laat my eerder een van die cheerleaders wees wat op die kantlyn staan en vir die ander skree en aanmoedig.

So, ongeag hierdie tekortkominge was my ouers se ondersteuning in dit waarmee ek wel goed was, baie kosbaar.

Dit het die fondament gelê wat ’n mens laat voel het jou unieke talente en bydrae tot hierdie wêreld, maak saak. Dat jy waardevol en belangrik is.

Een van my heel eerste drome was om ’n professionele geskenktoedraaier te word. Regtig! Destyds, voor die deftige Stuttafords, by een van die grênd malls in Kaapstad.

Daar is min dinge so lekker soos om ’n geskenk te gee of te ontvang, maar dit moet mooi in spesiale papier toegedraai wees. Anders kan ’n mens net sowel die ding in ’n plastieksak gee.

Dis frustreer my om te sien hoe mense wat hierdie tipe diens lewer, dit nie ordentlik kan doen nie. Soos wanneer ek ’n spesiale boek koop en as geskenk wil gee, maar dan word dit holderstebolder toegefrommel en beplak asof dit ’n bal is!

Nee, man! Ek stuur sommer die verkoopspersoon till toe en sê: “Gaan help die klante, ek sal dit self doen.”

Dis seker die kunstenaarsiel hierbinne wat dinge wil versier en mooimaak.

Kleintyd het ek ’n nasionale kunskompetisie gewen met ’n collage van ’n Afrika-voël. Dit was in een van die groot kunsgalerye uitgestal, en daar is poskaarte daarvan gedruk en verkoop.

So, op laerskool het ek toe ’n kaartjie-besigheid begin. Verjaarsdagkaartjies, herdenkings – die kinders het bestelling geplaas en ek het dit gemaak.

Maar die grootste droom was om stories te vertel wat mense kon laat lag, laat huil, laat voel en laat dink.

En dis presies hierdie droom wat vandag as akteur uitgeleef word. Ek leef letterlik my droom!

Maar in hierdie bedryf is daar ook een van twee keuses wat gemaak moet word: Wil jy ’n celebrity of ’n werkende akteur wees? Dis twee paaie wat elkeen sy eie voordele en uitdagings het.

My keuse om eerder ’n werkende akteur te wees, bied meer van ’n private lewe. Dit beteken daar word nie baie geleenthede bygewoon nie. Ek word nie oral gesien nie en is ook nie vreeslik aktief op sosiale media nie.

En ja, partymaal lyk die ander pad na soveel pret … maar die keuse om eerder my privaatheid te koester, wen elke keer.

Dit was ’n ambisieuse projek, Truth in translation. Ons was ’n groep akteurs wat vir ’n paar jaar lank deur konflik- en oorloggeteisterde lande regoor die wêreld gereis het. Zimbabwe, Rwanda, Sarajevo, Belfast in Ierland, dele van Amerika, Swede …

Die idee was om mense te help om hulle trauma te verwerk deur storievertelwerkswinkels aan te bied. ’n Platform vir mense om oor hulle ervarings te praat en gehoor te word, want dis makliker om begrip te kry as jy die lewe vanuit iemand anders se oogpunt kan sien en hoor.

Maar soms was hierdie ervarings bitter moeilik. Die grusame tonele van menseslagting wat ons gesien het … Die verskriklike stories wat vertel is.

Van die beste oomblikke was wanneer ons die hartseer met humor kon ontlont. Daar is definitief ’n weerloosheid wat uitkom wanneer mense lag … selfs hulle oë maak toe, hulle gesigte verkreukel van lekkerkry. In daardie oomblikke is almal gelyk, al die verdriet vergete.

Hierdie toer het ’n diep indruk gelaat. Om te sien hoe burgeroorlog in ’n oogwink bure, en selfs familie, teen mekaar kan draai.

Dit het my na ons land laat kyk en besef: Ons is soms morsig, maar dis morsig omdat ons deur dinge werk. Ons stoei en beur voort en probeer ’n ander manier van dinge doen. In daardie opsig is hierdie morsigheid positief. Want die teenpool – om dinge met oorlog te probeer regruk – is regtig skrikwekkend.

Dit het my ook empatie vir mense se seer gegee. En geleer dat trauma hanteer moet word. Om te praat, jouself te hoor praat en deur ander gehoor te word, is soms die beste medisyne.

Loopbaangewys was een die grootste invloede toe ek op vyf, eintlik per ongeluk, die rol van Aspoestertjie losgeslaan het.

Elke middag het ek die ander kindertjies dopgehou terwyl hulle die tonele inoefen. Toe Prins Charming vir die sóveelste keer sy woorde vergeet, het ek hoogs ontsteld op hom afgestorm en die woorde hard in sy gesig opgesê. “Dís jou woorde. Onthou dit nou in hemelsnaam!”

Die juffrou was stomgeslaan. “Hoe ken jy die woorde?” wou sy weet.

“Ek ken álmal se woorde, juffrou.” En net daar, op die plek, word die rol van Aspoestertjie myne. Die eintlike Aspoestertjie, wat regtig ’n beeldskone dogtertjie was, word toe een van die Lelike Susters. Arme kind.

My oupa het ná een van die opvoerings op die verhoog gestap en ’n bos blomme kom oorhandig – erkenning vir goeie werk. Dit was ’n groot oomblik.

Vandag nog, ná verhoogoptredes, kry ek daardie selfde gevoel van genoegdoening as toe ek vyf jaar oud was.

Iemand wat my lewe handomkeer kom verander het, is my man Brian. Op papier maak ons glad nie sin nie. Verskil soos dag en nag. Hy is jonk, wit, ’n Amerikaner van Florida af, het ’n doktorsgraad, slim met ekonomie …

En tog het hy hierdie vrou se hart kom sag maak. Voor ons ontmoet het, was ek nogal ’n hardekwas. Die rede was ’n tien jaar lange verhouding wat baie sleg vir my menswees was. Dit het my broos en op my hoede gemaak.

Met Brian se ontmoeting was die eerste gedagte: “Hy sal ’n oulike vriend vir my jonger broer wees.”

Maar ná die eerste ontbyt saam by ’n restaurant was die koeël deur die kerk. Ek wou nog die beursie uithaal, toe dring hy daarop aan om te betaal.

“Wow! Vir jou gaan ek hou,” was die eerste gedagte.

Hierdie eenvoudige gebaar was so verrassend anders as waaraan ek gewoond geraak het. Wie sou ooit kon dink daar is iemand wat vir ’n slag vir my wou sorg? ’n Persoon wat sê: “Shame, jy dra so swaar aan jou laste. Sit ’n bietjie neer. Laat ek jou help.”

Vir lank was ek aan die stuur van my lewe, en toe kom Brian en sê: “Skuif ’n bietjie op, niggie, laat ek bestuur.” Dis asof hy instinktief geweet het wat Quanita nodig het, is “ons”.

In die grendeltydperk, waar baie verhoudings swaar getrek het, was dit lekker om te ontdek dat ek vir lang tye saam met hierdie man ingehok kan wees.

By ons klein gesinnetjie – ek, Brian en ons eersteling Alia – is ek op my heel gelukkigste.

Uit ’n vorige verhouding het ek geleer dat ’n mens nooit die leemte in ’n ander persoon kan vul nie.

Dis soos ’n kar met ’n leë tenk wat langs die pad staan. Dit gaan nie help om jou eie tenk, wat self op reserwe is, leeg te tap net om die ander motor aan die gang te kry nie. Dan staan al twee.

Die les is: wanneer instink die eerste keer waarsku “dis tyd om te loop”, is dit presies wat gedoen moet word. ’n Groot spyt in die lewe is dat ek vir te lank in ’n aftakelende verhouding rondgehang het, met die hoop dat dit sou werk.

Brian het my in baie opsigte in die liefde kom red.

Ouerskap het my hele lewe omgedolwe – op die mooiste, maar ook mees uitdagende maniere.

Uitdagend, want ’n mens lewe naderhand van ’n dieet van jou eie woorde. Jy sluk hulle in – daagliks. Vanmôre nog sal ek spog dat ons baba so mooi deurslaap. Vanaand sluk ek daai woorde een vir een, want sy word elke uur wakker!

Moederskap het geleer dat ek absoluut niks weet nie. Partymaal skop instink vanself in. Ander kere voel ’n mens heeltemal magteloos oor hoe om hierdie klein, huilende lyfie te troos.

Om ’n ma te wees is definitief die beste, grootste, mees uitdagende ding wat nog met my gebeur het.

Die tipe ma wat ek graag wil wees, is iemand wat luister, wat regverdig is en wat waardes oordra soos vriendelikheid, eerlikheid en die vermoë om teen onreg op te staan. Nes ek self kleintyd geleer is.

Ons ouers was ’n wonderlike voorbeeld. Hulle het ons geleer om onafhanklik te wees. Om self dinge uit te pluis.

Eenkeer het ’n nefie daar aangekom sonder swemvlerkies. Nie ek of my boetie kon swem nie, maar Pa het gesê: “Gee die vlerkies vir jou neef.”

“Maar ek het dit self nodig!”

“Gee dit vir hom, en maak of jy vlerkies dra …” was Pa se raad.

Dit het gewerk, want dit was die dag wat ek op my eie leer swem het.

“Weet jy, Quanita, wanneer ’n mens soms na jou luister, word daar net ’n harde, krapperige geraas gehoor. Soos ’n radiostasie wat nie op die regte frekwensie is nie. Dan wil ek jou net afsit.”

Hierdie harde, maar eerlike woorde van die befaamde regisseur/akteur Andrew Buckland, het só baie beteken.

Toe die “jonger” ek kwaad geword het, was dit omtrent ’n ontploffing van emosie. Enige onregverdige situasie sou my laat uitbars van woede.

Andrew het goeie raad gegee: “Dink rustig oor wat jy wil sê en dra dan die boodskap duidelik en kalm oor. Anders hoor niemand ’n woord nie.”

Sy advies het my gehelp om my “stem” te ontdek. Om só te kommunikeer dat ek werklik gehoor en ernstig opgeneem word.

Deesdae in sulke situasies, het ek ’n ander tipe kwaad. Daar is ’n kalmte, maar my woorde word al hoe groter en gewigtiger. Waar dit voorheen soos ’n hamer geslaan het, sny dit nou soos ’n ninja-swaard.

’n Ander persoonlike area wat nog werk verg, is die geneigdheid tot luiheid. Ek is eintlik baie soos ’n donkie – ’n klipharde werker, maar wanneer daar nie krag oor is nie, is hierdie donkie steeks. Dan kry jy niks uit my uit nie!

My ma sê ook ek is slordig, maar Brian se woorde is darem ’n troos: “You are perfectly imperfect.”

My man is reg. Die lewe se goeie en slegte kante is al vir my gewys. Daar was opdraandes en afdraandes. Foute en oorwinnings.

Maar deur dit alles is daar geleer om te hou van wie ek is. Al is ek nou nie die mooiste weergawe van myself nie, is ek beslis die effektiefste weergawe!

Vorige artikelHoe om … vrede te maak met jou lyf
Volgende artikelHoe om uit jou gemaksone te kom