Reynardt Hugo: “Ek het by ’n plek van vergifnis gekom” [DEEL 1]

98

REYNARDT HUGO van Binnelanders–faam weet van droogmaak én regmaak. Al is party mense steeds kwaad vir hom, het hy die lang, moeilike pad gestap om uit die pyn van sy verlede na genesing, vrede en vergifnis te groei.

“Is ek besig om dood te gaan?” Dadelik dié gedagte toe die heel eerste angsaanval op die snelweg op pad huis toe tref. Ná nóg ’n wilde aand van hard kuier. Dit was ’n begin, maar nie genoeg nie.

Een … twee … drie keerpunte later en ontelbare wegwysers tussen-in. Dís wat dit geverg het om finaal te breek met ’n verwoestende lewe wat nou reeds ’n paar hoofstukke in die verlede lê.

Die vergrype aan drank en dagga, die rondslaap en naam weggooi. Die opgeblase ego, verkeerde keuses en los bek wat mense links en regs kon slegsê.

Om openlik oor die verlede te praat, is my manier om sin te maak van ’n lewe vol skade wat verby is.

Die Reynardt wat vandag hier sit en die ou van ’n paar jaar gelede, is twee heeltemal verskillende mense. Die een was hard besig om sy lewe weg te gooi.

Die ander een het ’n wilsbesluit geneem om te verander en ’n nuwe koers in te slaan.

My ou lewe was woes en deurmekaar. Baie dinge het ’n rol gespeel. Bekendheid, om deel van ’n band (Adam) te wees, om te reis na plekke waar meisies hulle lywe vir jou gooi.

Dinge was so maklik, maar dit het my op ’n pad van selfvernietiging gesit. ’n Reputasie gegee as ’n flirt en ’n ou wat hard kuier.

Die mense na aan my kon sien wat aangaan, maar hulle het nie regtig besef hoe erg dit was nie. Op elke vlak het die lewe buite beheer geraak.

Uiteindelik was daar net een van twee keuses oor: Kies ’n pad waarin elke probleem aangespreek word óf bly op hierdie koers en verloor alles waarvoor daar so hard gewerk is.

Dit was eintlik ’n no-brainer. Ek kon nie langer toelaat dat innerlike seer en konstante swak besluite my lewe vernietig nie.

Dit was ’n stryd om daardie boek toe te maak en ’n hele leefstylverandering te ondergaan. Veral as ’n mens gewoond is aan ’n sekere gevoel en emosies.

Ek het vir jare lank elke dag gedrink, en wanneer ’n mens onder die invloed is, kom die res van die moeilikheid sommer vanself.

Om weg te stap het nie oornag gebeur nie. Elke tree was moeilik. Dit het pynlike introspeksie, emosionele worsteling en harde werk geverg.

Aanvanklik wou ek nie by die huis wees nie. Ek wou steeds naweke weggaan. Ná afloop van ’n funksie, nog rondhang en kuier.

Maar dit werk nie.

Jy val terug, foeter voort, probeer weer … tot op die punt waar die besef kom: ’n Ommekeer is nie moontlik as dit half-half aangepak word nie.

Daar was ook baie emosies om te oorkom.

Ek het gesukkel met seer uit die verlede en het aangehou om daarop te dwell. Daardie ver koppaaie wat ’n mens loop van oor en oor tob oor dieselfde dinge, sonder om ooit daaroor te kom of aan te beweeg.

Die maklike uitweg was om verskonings te soek en almal te blameer. Almal, behalwe myself. Om vrae te vra soos: “Hoekom het my ouers geskei? Hoekom het alles daarna skeefgeloop? Hoekom ek?”

Dis nie dat my ouers se besluite of optrede verkeerd was nie, maar ek wou hê hulle moes weet dat ek sekere emosies beleef het; dat ek diep daardeur geraak is. Vandag verstaan hulle dit.

Tog was aanvaarding en vergifnis vir lank ’n groot gesukkel. Eers die trauma van die egskeiding en om by nuwe stieffamilies aan te pas. En daarna, selfvergifnis vir die gemors wat ek van my eie lewe gemaak het.

’n Groot rede daaragter was die behoefte om aanvaar te word. Naderhand doen ’n mens enigiets om daardie aanvaarding te kry.

In die oorgang na ’n nuwe begin het ek baie meer volwasse geraak. Geleer uit al die foute.

Daar is ’n klomp goed wat ek nooit weer sal wil deurmaak nie. Soos om nooit weer die gevoel te hê van hoe dit is om deur ’n egskeiding te gaan nie.

Dis séér – en jy sien hoe die mense om jou seerkry, maar weet nie hoe om te help nie.

Ook om nie weer drankmisbruik te ervaar nie. Om nooit weer op te staan met ’n babalaas of hoog te wees op dagga nie.

Om nooit weer rond te slaap en te wonder of ek versigtig genoeg was nie.

Ek wil nie weer terug kom huis toe ná ’n naweek se rock ’n roll met die wete dat daar groot nonsens aangejaag is nie. En ook nie die skuldgevoel deurmaak van cheat op jou meisie nie. Al hierdie goed kom reguit van die bose af.

Om by ’n plek van vergifnis te kom was deurslaggewend in hierdie reis. Die vrou in my lewe, An-Maré … as dit nie vir haar vergifnis was nie, het die lewe dalk nou anders gelyk.

Mense sê maklik: “Once a cheater, always a cheater”. Ek stem glad nie saam nie.

As jy vergifnis gevra het en ’n nuwe pad saam met die Here stap, dan weet jy wat om te doen. Hoe jy wil, en behoort te leef. ’n Mens kán verander as jy wil.

Ek is ’n lewende bewys daarvan.

Dit wat Anna moes deurmaak om die ontrouheid te vergewe breek my hart. Sy moes ook ’n keuse maak en kies om die pad vorentoe saam te stap.

Anna kon maklik besluit het dis verby, maar sy is vandag langs my met ’n rede – om saam te bou aan ’n nuwe toekoms, om eendag saam kinders te hê. Ek sê elke dag dankie vir dié onvoorwaardelike liefde.

Baie ander mense moes ook in die oë gekyk word. Vir elke persoon wat ek skade aangedoen het, moes daar om vergifnis gevra word.

Sommige het dit aanvaar, ander nie – en dis iets waarmee ek sal moet saamleef.