Riana Nel: “Ek kies om te bly glo, my foute en al …” [Deel 1]

97

Sangeres RIANA NEL is nie een vir voorgee nie. Op haar geloofspad was daar al baie op- en afdraandes, maar sy stap dit dapper en eerlik – en kies om te bly glo, foute en al.

Dit was laatmiddag. Doodse stilte in die natuur. Bome, bos, klippe … alles het in die rooi gloed van die laaste sonstrale gebaai. Ek was tien jaar oud en saam met Pa op ’n kerkjeugkamp.

Tree vir tree is die koppie uitgeklouter, terwyl die res van die mense in die kamp doenig was.

Bo, uitasem, het ek vir ’n rukkie gaan stilsit en kyk hoe die son op die horison wegsak. Niks kon die trane keer nie.

Dit was asof die hele skepping dit skielik kliphard uitgeskree het: “God lewe! En Hy is lief vir my!”

Lag, huil, alles deurmekaar … ek het net gewéét dis waar.

In my dogtertjie-gemoed is dit in daardie oomblikke in sement vasgemessel. Die besef aan wie ek behoort en wie ek as my Pa in die hemel wil leer ken.

Die stem van my aardse pa, aan die voet van die koppie, het my na die werklikheid laat terugkeer, maar ná daardie dag was die lewe nooit weer dieselfde nie.

Van lofliedjies op die klavier speel terwyl die res van die gesin Egoli kyk, tot voor skool op die trappies sit en uit ’n klein Bybeltjie lees, terwyl die kinders verbystap.

Daar was geen keer nie … met my hele wese wou ek Hom beter leer ken.

Ek glo ons is almal met hierdie begeerte geskape.

My man, Cornel, sê altyd ’n mens weet as iemand Jesus in hulle harte het. Dit borrel oor. Dis vreemd as mense sê geloof is ’n persoonlike saak. Nie vir my nie … dis onmoontlik om stil te bly!

Tog beteken dit nie dat my lewe net moeiteloos in plek geval het nie. Inteendeel. Daar is so baie dinge toegelaat … Soveel kere wat ek gevoel het niemand kan help nie … Net om opnuut te besef: gaan soek hulp op die regte plek.

Deur alles weet ek wie my ware redder en vriend is.

Iemand het eenkeer opgemerk dat hy nie altyd langer as ’n halfuur bid nie, maar dat hy nooit ’n halfuur laat verbygaan sonder om te bid nie. Net so.

As alleenloper was dit maklik om tyd te maak om die Here se stem te hoor. In die sneeu, in ’n park in Londen, Engeland, is daar vir lang tye om en om een van die bankies geloop en gebid.

Of daar is gedans in die sitkamer, of klavier gespeel tot die bure kom kla het.

Daar is gebid in die gimnasium of wanneer ek gestryk het. Partymaal is die strykwerk sommer so in die kas gedoen, sodat niks my aandag kon aftrek nie.

Dit was, en is steeds, vir my makliker om te fokus op gebed wanneer my hande en voete besig is.

Deesdae, met drie seuntjies in die huis, almal onder vyf, is dit ’n gesukkel om selfs net hare te was, wat nog te sê stil te raak en te bid!

Ná ’n groot worsteling hieroor het die besef gekom dat die Here eintlik altyd gereed is om te gesels, selfs al is ons so besig. Raak gefokus en ingestel om te luister.

Op hierdie manier het ek al diep tye in kort oomblikke beleef.

Tydens die grendeltydperk was my kosbaarste geestelike oomblikke wanneer ek ’n lofprysingsessie aanlyn gelei het (soms met my man en kinders wat in die kar sit, sodat die huis ’n bietjie stiller is).

Tussendeur die praat en sing kon ek voel hoe ek weer “volgemaak” word.

Om dagboek te hou, na preke te luister en veral om te getuig, het dieselfde effek.

Wanneer ek oor my geloofspad praat, raak hierdie hart skoon aan die brand en my ore wawyd oop om te luister.

Enige plek is ’n goeie plek om met Hom te praat. In die kar, wanneer ek stort, skottelgoed was, of in die aande borsvoed. Soms gebeur dit op my knieë op die badkamermatjie, in die vroeë oggendure voordat almal wakker word. Dit maak nie saak waar nie, Hy is altyd beskikbaar.

Op 19 het ek alleen van Namibië na Pretoria verhuis. Dit was erg en ek het baie gehuil, maar hierbinne was die wete dat die skuif nodig is om drome te verwesenlik.

Dit was nog altyd ’n probleem. Die onbekende laat my bang en onseker voel. Dis makliker om vas te klou aan wat bekend is, selfs al was dit ook in ’n stadium vreemd en onbekend.

Dit laat my dink aan Petrus, wat uit die boot geklim en op die water geloop het. Dit was altyd vir my snaaks hoekom die ander dissipels dit nie ook gedoen het nie.

Toe die besef: Dit was Petrus se tyd en Jesus het gesê hy kan maar uitklim en loop.

Gelukkig is God onveranderd.

Ons almal wil dit graag hoor: “Klim uit die boot en kom.” Soms word daar mense gestuur om ons uit die boot te help. Hy roep ons dikwels tot groter dinge, omdat ons tot meer in staat is as wat ons onsself gun om te glo.

Mense wonder ook dikwels: “Het ek reg gehoor?” ’n Goeie maatstaf: Die vyand se stem saai twyfel en vrees. Dit laat jou sleg en skuldig voel. Daarteenoor is Sy se stem positief en opbouend.

Daar is ’n groot verskil tussen conviction (oortuiging) en condemnation (veroordeling). Die een gee krag en hoop. Die ander een vernietig dit.

Maar ’n verhouding bestaan uit twee partye. Van my kant af probeer ek net eerlik en opreg wees. Hy ken my beter as enigiemand, so dit help nie om voor te gee nie.

Daar word steeds baie vir hulp gevra, en baiemaal jammer gesê. ’n Mens voel partymaal soos ’n hond om alwéér ekskuus te moet vra. Nogtans word ’n mens altyd met ope arms terugverwelkom.

Hy wíl met ons praat, Sy hart deel.

My beste geselstye gebeur wanneer daar gebid en dankie gesê word. Dit vat my dadelik in Sy teenwoordigheid in … en op daardie plek begin dinge verander.

Dis dan wanneer Sy stem diep in my binneste teruggesels.