Rouchelle Liedemann: “Vergewe en dankbaar is beste maats”

113

Haar stem van hoop leer ander die kuns van dankbaarheid. Ná ’n moeilike tyd het sy geleer om te vergewe. ROUCHELLE LIEDEMANN, ma van drie en sangeres, gee raad wat sy eers self moes volg.

Die harde werklikheid van verlies het my laat besin. Verlede jaar het ek een van my grootste kontrakte verloor. My tienerdogter het haarself ook in ’n donker tyd bevind weens klasmaats wat hulle eie lewe geneem het.

Diegene wat my goed ken, weet dat ek myself nie onder omstandighede begrawe nie, maar ’n moeilike tyd het my gedwing om my pause-knoppie te druk en introspeksie te doen.

My selfbejammering en wensdenkery is vierkantig in die oë gekyk. Selfondersoek kan ’n openbaring wees, glo my.

Eerlike introspeksie is vir baie mense ’n ongemaklike proses. ’n Mens raak bang vir wat na vore gaan kom … Jy voel oorweldig en sien dele van jouself wat jy eerder wil wegsteek.

Ek moes deur hierdie tyd gaan – gedwing word om selfondersoek te doen. Dit het my vir die volgende hoofstuk in my lewe voorberei. Negatiwiteit laat ’n mens alle hoop verloor. “Waar kry ’n mens weer hoop? Here, hoekom gebeur dit met die mense om my? Hoekom gebeur dit met my?” het ek gevra.

My vrae is sommer gou beantwoord en ek het weer hoop gehad. Soms is sosiale media ’n goeie ding, want daar het ek op CeCe Winans, ’n Amerikaanse gospelsangeres, se video afgekom.

CeCe het vertel van hoe haar pa gereageer het nadat haar broer sy laaste asem uitgeblaas het.

Haar pa het God begin dank vir die 40 jaar wat hy saam met sy seun kon deurbring. Hy was dankbaar vir elke mooi herinnering.

Die familie het aanstoot geneem en nie verstaan hoe hierdie pa sy hartseer vir dankbaarheid kon verruil nie. My onvergewensgesindheid en bitterheid wou my hoop en dankbaarheid steel. CeCe se video het my anders na my eie hartseer laat kyk. Die wete dat vergifnis en dankbaarheid nuwe hoop in mense ontsluit, was genoeg vir my.

Om waarlik te vergewe, moet ’n mens alles van die verlede vergeet. Dinge waarvoor ek dankbaar is, is in ’n notaboek neergepen. Soos my dankbaarheid op die papier verskyn het, het my binneste ligter en beter begin voel. Skielik besef ’n mens dat jy waarlik geseënd is.

Om waarlik jou seëninge te waardeer, beteken dat jy teenwoordig moet wees. Waardeer die sonsondergang, opregte vriendskappe en die voorreg om te kan lewe.

Om te sit en dink hoe my lewe sonder sekere mense en dinge sou wees en niks in my lewe meer as vanselfsprekend te aanvaar nie … Dít het my na ’n insiggewende plek geneem.

Ek het opgehou om myself met ander te vergelyk. Opgehou stres oor môre. Dankbaarheid vir vandag is genoeg – genoeg om my te help vergewe.

Só het ek geleer dat daar ’n noue verband tussen dankbaarheid en vergifnis is. Om dankbaar te wees is ’n vaardigheid wat deur oefening verfyn kan word. Ek skryf alles wat ’n mens net aanvaar as seëninge neer.

As ons verbitterd voel, gaan ons ook met bitterheid na ander kyk. Dankbaarheid het my die goud in ander, maar ook in myself, laat soek. ’n Nuwe seisoen van dankbaarheid wag vir my. Om emosioneel en geestelik sterk te bly, moes die pad van vergifnis gestap word.

My fokus het geskuif van dit wat in my lewe ontbreek na al die seëninge wat reeds teenwoordig is.

Vorige artikelKennis vir ’n pragtige vel
Volgende artikelDie redes hoekom jy altyd moeg voel