Simon Witbooi: “Ek wil eers doen en dan praat”

137

Simon Witbooi, beter bekend as Hemelbesem, is ’n skrywer, digter, pastoor en hip–hop–kunstenaar wat hom veral op die bou van brûe in Afrikaans toespits. Met sy kletsrym wil hy die wêreld skoonvee deur ras, kultuur en taal uit te daag en persepsies te verander wat op vooropgestelde idees geskoei is.

’n Verhouding gaan daaroor om eg en eerlik te wees. Ek onthou hoe ek een Vrydagmiddag my hart vir die Here gegee het. Die Gospel Warriors was ’n groepie wat weekliks byeengekom het.

Hoe ek daar beland het, is ’n raaisel – dalk was daar ’n dame wat my oog gevang het. Dié middag het ’n geestelike mentor met ons kom praat, en toe vra hy, “Wie van julle wil hemel toe gaan?”

“As daar regtig ’n hemel is, en ek sê nóú ja, het ek darem ’n waarborg dat ek ook soontoe sal gaan,” het ek gereken. My hand het saam met die meeste van die ander kinders s’n opgeskiet.

Waar ons vandaan kom – ’n agtergrond van gangsters, armoede en alkoholmisbruik – sê mense graag:

“Die Here het my diép kom uithaal”. Daardie “diép” het my op daardie oomblik nogal bekommer. “Gaan daar nou donderweer uit die hemel kom, my raakslaan en handomkeer verander?”

Gelukkig het dit nie gebeur nie. Dit was nogal ’n verligting.

Maar ’n paar dae later, toe ek van die skool af huis toe stap, het alles om my skielik weird gelyk.

So asof alles wat lewe bevat het – mense, bome, diere – skielik helderder, duideliker was. Vól lewe.

Dit was asof my oë die lewe anders gesien het. Daardie middag het ek besluit dis tyd om met Hom te praat. Van aangesig tot aangesig.

Op my knieë het die woorde al hortend en stotterend uitgekom: “You know … man, you know …” Ek het nog nooit so reguit gepraat nie. Net altyd die gebedjies en rympies opgesê waarmee ons grootgemaak is.

“You know what …” het ek weer probeer. “Ek het nog nooit met U gepraat nie. Ek weet nie wat om te sê nie, maar ek’s net jammer … Jy weet. Daai’s al.”

Op daardie oomblik het my lewe vir goed verander. Gebroke, op my knieë, in ’n armoedige sinkhokkie (ons huis was ’n sameflansing van sinkplate op ’n leë erf).

Dis belangrik om te hoop en om hoop in ander raak te sien. Ongeag wie hulle is, wat hulle doen of hoe hulle lyk. Ek kom uit armoede, maar armoede kan in baie vorme voorkom.

Jy kan arm wees aan geloof, arm aan gesondheid of jy kan voel jou lewe is arm aan regverdigheid.

Wat die omstandighede ook al is, as jy ver weg voel van dit wat jy as die norm beskou, moet jy die lyn van jou geestelike visstok dieper ingooi.

Dit verg meer inspanning as die ou wat op gladde waters vaar. Maar inspanning kweek fokus wat weer geloof kweek. En geloof kweek hoop.

Om “arm” te voel is jou kans om jou geloofswortels dieper te laat groei.

Glanstydskrifte laat my dink aan iets waaroor ek en ’n paar vriende nou die dag gesels het.

Ons het gepraat oor die gloss, die salwing wat soms blink op ’n mens staan. Daardie selfvertroue wat opstaan uit die as van armoede.

’n Selfversekerdheid, fokus en visie wat ’n mens kry as jy deur ’n ding worstel. Daar is geweldige respek by ons bruin mense vir iemand wat ten minste probeer om die gospel oop te breek.

Daarom voel ek so sterk daaroor dat ons met begrip na mekaar moet kyk, want jy weet nie waar daardie persoon se geestelike vislyn ingegooi is nie.

Baie mense sal skrik as hulle op een van die Kaapse treine moet klim. Wanneer die trein wegtrek, begin iemand sommer kliphard skree: “Wees gegroet in die Naam van die Here!”

En dan trek hy los met ’n boodskap van bemoediging, wat soms maar krom en skeef uitkom.

In my boek, God praat Afrikaans, haal ek so ’n storie aan: “’Hulle sê die Nuwe Testament is nie van God af nie!’ het die ou begin. Ná ’n ruk se stilte skree uit volle bors: ‘Hulle sê die Ou Testament is nie van God af nie!’ En later: ‘Ek sê dis bog!’”

Die dinge wat in die naam van Christenskap gepleeg word, is nie altyd mooi nie. Ons moet ophou om onsself in boksies te plaas, want Hy word nie deur mense se idees ingeperk nie.

Ek het groot respek vir mense wat kerkreëls wil toepas en verse wil interpreteer, maar sodra dit aggressief oorgedra word, kom ons eintlik baie arrogant en meerderwaardig voor.

Ná my bekering was ek ook so. ’n Mens raak mos hier binne aan die brand en begin sommer net in ’n rigting hardloop!

Dit was vir my doodnatuurlik om mense in die straat trompop te loop en te sê: “Jy kan gered word. Daar is ’n beter lewe vir jou.”

Vandag kry ek skaam oor hoe dit uitgekom het. So asof jy daarmee wil sê: “Hei, daar’s fout met jou. Jy’s verkeerd, vuil, lelik, sonder visie. Jy moet reggehelp word.”

Nou besef ek hoe neerhalend dit was. Dis hierdie einste houding – om ander te wil “regruk” – wat ons kerke kniehalter. Dit stoot mense weg.

Die Here is nie so nie. Hy reik in liefde uit na mense. Ons moet meermale dieselfde doen.

Daar is baie ander gelowe, soos die Boeddhiste byvoorbeeld, wat dit goed regkry.

Hulle verstaan jy moet vanuit ’n plek van liefde operate om by mense se harte uit te kom. Ook dat liefde nie beperk is tot ’n sekere plek of tydgleuf nie.

­Een van my geloofsmentors het altyd gesê die vrug van die Gees is nie iets wat ’n mens uitdruk nie; dis iets wat natuurlik moet kom.

Jy moet van nature liefdevol wees, in vrede leef, vreugdevol, geduldig en vriendelik wees. Jy moet liefde lééf, elke dag in alles wat jy doen.

Dis tyd dat ons prakties raak met hierdie tipe liefde. ’n Versie gaan nie werkloosheid wegvat of iemand van verslawing genees nie, maar om daardie vers uit te leef, gaan wel ’n verskil maak.

My doel op aarde is om ’n brugbouer tussen mense te wees. Om die houvas van geestelike tradisie en godsdienstigheid af te breek.

Om minder te praat oor waarin ek glo, en dit harder te leef.

Daar is baie mense wat sterk standpunt inneem oor dinge, en dis goed so. Daar’s ’n plek daarvoor. Maar dis nie my plek nie, al word ek dikwels daaroor gekritiseer.

My plek is om in die gapings te staan en versoening aan te moedig. Om mense oor grense heen bymekaar te bring.

Ek kom elke dag baie uiteenlopende mense teë. Elkeen met sy eie opinie.

Dis vir my so mooi as daar ’n openbaring van Sy karakter te voorskyn kom wanneer ek met iemand te doen het wat heeltemal anders as ek dink of glo.

Ons verskille belig ’n ander aspek van wie Hy is.

Dis hoekom ek regtig daaraan glo om ruimte te los vir die andersheid in mekaar.

Om buigsamer te wees. Voorheen kon ek woes uit die Bybel aanhaal; sleutelverse op die punte van my vingers opsê.

Vandag is daar nog steeds baie woorde hier binne my, maar mense word op ’n ander manier bereik.

Jy doen eers, dan praat jy. Nie andersom nie. My mond moet slegs bevestig wat my dade reeds gewys het.

En hierdie gefokus op “sondaars”. Ons is almal sondaars, dis hoekom ons kerk toe gaan.

Die klem moet eerder wees om die “son daar” te sien. Om die mooi in mekaar te herken en uit te lig.

Party mense ervaar byvoorbeeld my hip-hop-rapper-status as negatief of onvanpas.

Kyk, ek gaan nooit miljoene fans hê nie en dis reg so, maar die mense wat my ken, weet dis vir my belangrik om met integriteit te probeer leef.

’n Mens hoef nie altyd reg te wees nie, maar dis belangrik om opreg te wees. Dit gaan nie vir my oor wat ek doen nie, maar oor die hoekom.

Aanvaar verskille. Mense het taboes en issues oor baie dinge en dis in die haak. Nie almal kan alles hanteer nie. Smaak verskil en mense verskil.

Soos al my tatoes (en ek is nog lank nie klaar nie). Elkeen het sy eie storie en betekenis.

Ek skryf dit vir niemand voor nie en moedig dit ook nie aan nie. Dis maar net deel van my persoonlike reis.

Vir my is die taboe wat mense oor ’n ding het, nie die kwessie nie.

Die probleem is wanneer ons ’n kombers oor iets wil gooi. Nie daaroor wil praat, dink, redeneer en ons eie, ingeligte opinie vorm nie.

Mense kan hulle voorkeure hê, maar moenie ’n probleem ontwikkel met die persoon agter die ding wat jy as onaanvaarbaar beskou nie.

Dis daardie ou se manier van doen. Dis deel van die paadjie wat hy stap. Respekteer dit.

Vir sommiges is dit ’n taboe as mense vloek. Weer voel ek die taboe moet nooit die hooffokus wees en belangriker word as die mense daaragter nie.

My familielede in Namakwaland is ’n goeie voorbeeld. Dis deel van hulle kultuur om te vloek, maar dit sê niks van hulle siele nie. Vloek het ’n ander betekenis daar.

Dis hoe hulle hulleself uitdruk. Vir hulle is dit weer ’n taboe as jy jou mond hou, daardie selfde ding dink, maar dit nie hardop sê nie.

Net so is iemand wat steel, nie noodwendig ’n dief nie en iemand wat drink nie noodwendig ’n alkoholis nie.

Wanneer jy eers ’n kopskuif maak en iets in konteks plaas, lyk dit skielik anders.

My persoonlike taboe is seker dat mense nie so eng moet wees oor dinge nie. Die Here is nie eng nie. Hy gee mense die ruimte om te wees wie hulle is.

Om te dink en self te besluit is om foute te maak en daaruit te leer.

As ons meer soos Hy wil wees, moet ons dieselfde vir mekaar begin doen.

Vorige artikelHelp jou kind om alleen te speel
Volgende artikelWéét wat depressie regtig is