Simoné: ‘Die lewe is vol wonderwerke’

181

Aktrise, entrepreneur, sosiale beïnvloeder, en nou ook ’n nuwe ma. Simoné Pretorius staan verstom oor al die seëninge in haar lewe – elke aspek van haar lewe is ’n wonderwerk (en ’n storie) wat getuig van geloof, hoop en vertroue. Van hart oopmaak, waagmoed, oorgee en gehoorsaam wees, want dít is wat seën voortbring.

Dis vroegoggend en die huis is stil. Trane loop in strome teen my wange af. Dit voel of die ou Simoné laag vir laag ’n nuwe mens word. Of die harde omhulsel wat oor die jare saamgepak het, soos stukke klei afbreek en wegval.

Die besef was al lankal daar. “Voordat ek ma word, veral van ’n dogtertjie, sal hierdie ding hanteer moet word.”

Dit was ’n deeltjie van my hart wat iewers diep en donker weggesteek was, omdat ek bang gevoel het. Vreesbevange. Wat gaan dit kos? Wat gaan dit verg om vry te kom? Heel te word?

Ek kan nie ’n tyd onthou wat dit nié daar was nie. Hierdie issue met my lyf – dat dit nie goed of mooi genoeg is nie.

En toe gaan skiet hierdie leuen dieper wortel op 16, as uitruilstudent in Duitsland. ’n Brose ouderdom, veral vir ’n intens-emosionele mens.

Die paar maande in die vreemde was ’n goeie leerskool. Nuwe ervarings, uitdagende omstandighede. Maar ook ’n bitter eensame tyd.

Die verlange na jou land en mense het hierdie tiener laat troos soek in kos – en dit het absoluut niks gehelp dat my kamer reg langs die spens was nie!

Drie maande en 12 kilogram later, was ek terug op O.R. Tambo-lughawe, maar die vriendinne wat kom welkom sê het, het my nie eens herken nie.

Ma Tinkie se nuwe troetelnaam vir haar kind met die bolwange was ook in die kol. Sy het my haar chipmunk genoem.

Die hele ervaring het my selfbeeld ten opsigte van my lyf ’n knou gegee, en van daar af was dit ’n wipwarit. Dan was ek té maer, dan weer té rond. Nooit konstant of tevrede nie.

En toe word ek een oggend wakker, as volwasse vrou in ’n swanger lyf – angstig oor wat voorlê – en die besef is skielik daar.

Dis nóú die tyd om dit uit te sorteer.

Oorgee. Dieper vertrou. Elke dag, elke oomblik. Dit het die titel van die huidige hoofstuk van my lewe geword.

’n Mens kan aan die buitekant heel lyk, maar aan die binnekant steeds stukkend wees – en dis waar die Here genesing wou bring.

“Werk asseblief saggies met my,” is daar vooraf gebid, wetende dat daar nou nie meer kans vir omdraai was nie.

Daar is seker niks wat ’n vrou se gevoelens teenoor haar lyf so sterk na vore bring soos swangerskap nie. ’n Fase waarin jou liggaam oorneem en verander.

Elke keer wanneer nóg ’n broek nie pas nie, moet ’n mens dit aanvaar, jou liggaam vertrou en oorgee.

Maar hoe kon ek? Vir so lank was daar geen vertroue nie. Net kritiek en afkeur.

In my gesels met die Here daardie oggend, het die diep besef gekom dat my lyf al vir dekades lank hanteer word asof sy niks kan reg doen nie.

Elke gedagte was afbrekend. ’n Gesindheid van: “Jy voldoen net nie aan my hoë standaarde nie.”

Ná baie huil en hart uitpraat, was die sagte fluistering van die Heilige Gees onmiskenbaar: “Simoné, nou moet jy jou lyf seën”.

“Ek was vreesbevange, want wat gaan dit verg om vry te kom? Heel te word? ’n Mens lyk van buite af gesond, maar hier binne is dit stukkend.”

Ek het begin deur jammer te sê vir hoe ek haar oor die jare hanteer het. Jammer vir al die druk.

Die selfveragting, die genadelose kritiek – en dit terwyl God soveel anders praat: “You are fearfully and wonderfully made …”

Ek het hierdie woorde begin uitspreek. Dankie gesê vir perfekte heupe … bene wat sterk is … arms wat ’n baba kan optel.

“Lyf, ek seën jou.”

Dit was ongelooflik om uit hierdie ding te kon losbreek. Om skielik nie meer soos ’n buitestaander te voel nie, maar teenwoordig in, lief vir en dankbaar teenoor hierdie lyf.

Vry, uiteindelik!

Onderstebo en agterstevoor. Dis hoe die Here soms werk. Veral in my loopbaan. ’n Wonderwerk van die begin af.

Dis steeds hoe dit vandag nog gebeur, al is dit ’n mededingende bedryf. Elke oudisie, elke rol, selfs in elke seisoen waar daar nie werk is nie, word daar voorsien.

Net voor die Covid-19-pandemie uitgebreek het, en ná baie gebed, was die gevoel dat dit tyd is vir nuwe dinge; dat ek maar kon klaarmaak by Binnelanders. Dit was ’n wonderlike tydperk in my loopbaan; ’n fase van herstel.

Dit was nodig, want om so jonk jou eerste rol aan te pak (by 7de Laan), was baie erg.

Hierdie keer is dinge heelgemaak – my vertroue in mense, vertroue in myself, en om “familie” in hierdie soort konteks te ervaar.

En toe gebeur Covid, en ek is sonder ’n vaste inkomste.

Mense het gevra: “Is jy nie bang nie?” Hoe los ’n mens jou werk wanneer geen ander werk in die industrie opduik nie?

Daar was tye wat ek wou benoud raak, twyfel, maar dan kom Sy sagte herinnering: “Simoné, ons was al hierdeur. Moenie weer teruggaan na ’n plek van vrees oor voorsiening nie. Jy het mos vrede oor die besluit.”

Elke keer wanneer die benoudheid kom aanklop het, het ek myself ook herinner: ’n Mens kan kies om terug te gaan na jou “Egipte” toe, of vertrou dat daar manna sal wees vir elke seisoen.

Dit was ook so – ’n dubbelvoorsiening, danksy nuwe geleenthede soos entrepreneurskap op sosiale media en die ontwikkeling van ’n juwele-reeks, The Harvest Collection, saam met ’n vriendin.

Ek het geleer: ’n Verhouding met die Here is soos om die Himalaja uit te klim. Met elke kruin wat bereik word, is daar nog een, en nóg een. Elke keer, hoër, verder en dieper in geloof en vertroue.

Ons was dit te wagte. Die kontroversie. Afrikaanse aktrise met ’n Afrikaanse van soos Pretorius, nogal. “En dan noem sy haar dogter Harper Harvest!” is daar op sosiale media gegons.

’n Vriendin het dit lankal gesê: “Julle dogtertjie gaan tradisionele bokse kom skud, mense uitdaag. Moenie verbaas wees as dit gebeur nie.”

En toe ervaar ons dit, maande voor haar geboorte al.

Soos baie ouers het ons gaan rondsoek op die internet, of mooi name gehoor en dit neergeskryf – Ava, Zara, Ester, Lea.

Elkeen se betekenis is nagevors, want ’n naam is soos ’n seën of belofte wat herhaaldelik oor die draer uitgespreek word.

Harper het interessant geklink, maar die betekenis was effens teleurstellend. ’n Harpspeler?

Toe begin die woord op verskeie plekke opduik. Tydens ’n preek of met stiltetyd.

Daar was reeds ’n sterk gevoel dat ons dogter ’n “Dawidsalwing” gaan hê – iemand wat ’n kleed van leierskap, nederigheid en aanbidding dra.

Met die lees van die verhaal van Dawid wat vir koning Saul op die harp speel om hom tot bedaring te bring, het die dieper betekenis my kolskoot getref.

Dawid … harpspeler. Draer van vrede. ’n Instrument in God se hand. Dit was die perfekte naam!

Harvest het ’n bietjie later bygekom. Die publiek het omtrent oor dié middelnaam gal gebraak.

Maar dit is as’t ware vír ons gekies.

Tydens ’n fotosessie vir die juwelereeks, is daar foto’s in ’n koringveld geneem. In die laaste skoot, met die wolke dramaties pienk en blou inmekaargevleg net voor die reën neersak, het ek spontaan in die oesland gaan staan, rug op die kamera gedraai, met my arms na boontoe oopgesprei.

Daardie aand kon ek nie uitgepraat raak oor hoe mooi die lug was nie.

Die foto is vir Andries gewys en hy het baie emosioneel gereageer. Vertel hoe hy vroeër die dag oor die naamkwessie gebid het, en toe ’n visioen gesien het van ’n dogtertjie wat in die veld staan, arms omhoog.

My foto, en die prentjie in Andries se visioen, was presies dieselfde. Die boodskap: “When she raises her arms, she will bring the heavenlies into alignment.”

Daar is ’n koninkryk-oes wat ingebring gaan word.

Albei name is so ’n mooi beskrywing van ons dogtertjie se identiteit.

Die liefde het die les kom leer dat twee beter is as een.

Daar is lank vir hom gebid. ’n Maatjie wat presies by my sou pas. Andries ís daardie maat.

Meer as net my sielsgenoot. Beste vriend. ’n Spanspeler. Bemoediger. Die een wat hierdie alleenloper gedurig daaraan herinner dat ek nie meer dinge op my eie hoef te doen nie.

“Onthou, ons is ’n span. Aan mekaar se kant,” sal hy sê. Partymaal glo hy meer in my as wat ek dit self doen.

Die huwelik het beslis ook my selfsug na die oppervlak gebring. Gelukkig, saam met Andries, word ek elke dag ’n beter mens.

As enigste kind kan ’n mens nogal onredelik en veeleisend raak. Jy wil dinge op ’n sekere manier gedoen hê, en as dit nie gebeur nie raak jy moeilik.

Sommer oor simpel goed. Soos toe my arme man nou die dag die verkeerde melk by die huis aanbring. Ek was onmiddellik geïrriteerd. Het gekerm en geraas. Maar Andries het baie geduld.

“Liefie … kyk net hoe jy met my praat,” het hy stilweg gesê.

Ai. Alweer. “Jammer!” Ek kry skoon skaam vir my kleinlikheid.

Maagdelikheid tot op ons troudag was ’n ander aspek wat ’n diep geestelike dimensie in ons huwelik gebring het.

Omdat ek buite die eg gebore is, was daar altyd hierdie begeerte om te sien hoe dinge kan lyk as mense dit op God se manier doen.

Ek het 29 jaar gewag. As ek selfs langer sou moes wag vir dit wat ons nou saam ervaar, sal ek dit ook doen. Dit was die moeite werd!

’n Mens se “nee” is met die oog op dit waarvoor jy “ja” sê. Ja, vir ’n duur en kosbare skat.

Wellus skree dit uit: “Ek vat by jou!” Daarteenoor sê liefde: “Ek bedien jou”

Daar is soms ’n wonderwerk opgesluit in hoe ’n mens se perspektief verander.

Ek en Andries het ’n vyfjaarplan gehad. Deel daarvan was om Amerika toe te emigreer. Nie soseer omdat ons negatief gevoel het oor die land nie, maar omdat ons albei baie lief is vir die Yanks.

Ons het baie vriende daar, en hou van die mense, die kultuur.

Die Amerikaners is groot dromers en pioniers. Ons voel ook ’n bietjie só.

’n Mantra in die Pretorius-huishouding is juis: “Kom ons verander die wêreld saam.”

Maar met die swangerskap het hierdie planne vanself na die agtergrond geskuif.

Dit het ons fokus weer teruggebring na die hier en nou. Na die plek waar ’n mens se voete en jou teenwoordigheid, die swaarste geplant is.

Wanneer jou perspektief verskuif, is dit asof die potensiaal vir die geleenthede rondom jou, ook meer sigbaar raak.

Buitendien, waar maak ’n mens die grootste verskil? Daar waar die nood en probleme die grootste is.

As ons ’n skuif maak, glo ek dat die Here die regte seisoen sal aankondig.

Die gevoel was nog altyd dat ons van niks af wil weghardloop nie, maar eerder ná iets toe hardloop.

Die tyd sal leer. Vir nou is ons gelukkig en opgewonde oor waar ons is.

Om geseën te wees met vriende wat ’n mens se hart en geloofsuitkyk deel, tel beslis as een van die lewe se wonderwerke.

Ons het ’n ongelooflike vriendekring. Mense wat net so lief is vir Here, en wie se lewens die vrug daarvan dra.

Dit laat my dink aan ons vriende in Potchefstroom. ’n Paartjie wat nog jonk getroud is, met ’n baba met spesiale behoeftes, en tog was hulle gehoorsaam aan dit wat hulle as ’n geestelike mandaat ervaar het. Om ’n huis te koop en dit vir studenteverblyf oop te maak.

Dit is ’n plek waar die ware betekenis van community daagliks uitgeleef word.

Hierdie vriende daag ons gereeld uit om gehoorsaam te wees. Wanneer ons kuier, word daar vir ure oor alles gesels. Hulle skroom nie om die dieper, moeiliker te vrae te vra nie.

“Hoe gaan dit regtig met julle? Wat is die ware stand van julle verhouding?”

Tydens my swangerskap het ons opnuut besef wat die waarde van goeie vriende is.

Ek is geneig om tradisies te bevraagteken. Altyd die vraag te vra: “Is dit regtig nodig?”

Een so tradisie is die ooievaarsteepartytjie, maar dit was vir my ma belangrik. Sy het nooit een gehad nie omdat ek opgegee is vir aanneming en niemand van my geweet het nie. Dié dat Harper se babatee ’n dubbelporsie-feesviering vir Ma was.

Tog het my hart ’n ander hunkering gehad. ’n Diep behoefte aan ’n spesiale lofprysings-viering voor die koms van die baba. ’n Geleentheid, saam met vriende, waar ons almal kon saambid en worship – dankie sê vir hierdie nuwe lewetjie wat amper haar opwagting gaan maak.

Die uitnodigings is uitgestuur en ons was verras dat al ons vriende ingestem het tot hierdie ongewone versoek. Selfs al sou party van hulle ver moes reis.

Dit was ’n ongelooflike dag, wat ons net weer daaraan herinner het: Wanneer ’n mens eerstens die koninkryk soek, sal alles wat nodig is bygevoeg word. Vriendskappe met ewigheidswaarde ook!

Wat ’n absolute roller coaster … die geboorte van ons baba en om ’n nuwe ma te wees. Dis ongelooflik hoe iets terselfdertyd ’n nagmerrie en die vervullendste ding in jou lewe kan wees. Hoe dit kan voel of jy nog nooit so swaargekry het nie, en óók nog nooit so gelukkig was nie.

Die geboorte was opsigself ’n wonderwerk – 18 uur in kraam en ’n paar komplikasies langs die pad. My grootste gebed was om natuurlik geboorte te skenk. Daarom is ek diep dankbaar dat dit wel moontlik was, selfs al het Harper ’n gesonde 3,5 kg geweeg.

Tydens die watergeboorte was daar hierdie ongelooflike oomblik van net asemskep. Ek het my hand ondertoe uitgestrek, en kon ons dogtertjie se koppie met haar bos hare voel. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie.

God se vreugde oor ons én oor hierdie nuwe lewetjie was tasbaar in daardie oomblik.

Die eerste maand ná die geboorte het soos bomskok gevoel. Geen boek of geboorteklas kan jou voorberei op die werklikheid van ouerskap nie.

Met al die vooraf kennis, het ek en Andries eintlik steeds niks geweet nie.

Maar instink neem oor. ’n Mens kom in ’n ritme. Leer haar taal. Vorm ’n band. En wanneer daardie vaak ogies vir jou kyk en Harper gee haar mooiste glimlaggie, vermurwe jou hart.

As iemand wat baie ambisieus is, is dit nogal ’n uitdaging om net by die huis en ’n mamma te wees. Maar ek het ook intussen besef, hierdie is die grootste en belangrikste werk wat ek nog sal doen – om ’n nuwe lewe, die volgende generasie, groot te maak.

Vorige artikelStephanie Baartman: “God laat niks sonder rede gebeur nie”
Volgende artikelJy kan nie sonde vir God wegsteek nie