“Só is dit om Covid-19 te hê”

121

Rina Schutte was vies omdat die duur parfuum wat sy in die Filippyne gekoop het na niks ruik nie. Niemand het toe al geweet dat Covid–19 soms jou reuk– en smaaksingtuig aantas nie. As voorsorg, het sy haarself laat toets, en die uitslag was negatief. Dalk het sy net verkoue?

Musiek is ’n opwindende deel van my lewe. Sowat twee jaar gelede het ek begin om in ’n internasionale produksie van Roald Dahl se Matilda the Musical te speel. Ná ’n paar plaaslike optredes, het ons begin toer. Singapoer was ons eerste stop, dan sou ons in China en later die Filippyne aandoen.

Toe ons einde verlede jaar vir ’n week in Wuhan was, was dit net nog ’n stad in China. Ek het van Wuhan gehou. Die straatkos was ongelooflik lekker. En spotgoedkoop. My gunsteling was Re Gan Mian. Dit is ’n tradisionele dis van warm, droë noedels. Dis heerlik. Ek het nie die virus daar opgedoen het nie. Maar wel ’n paar kilogram opgetel!

Ons het die ervaring in Wuhan geniet. Vreesloos. Maar die wêreld sal nooit weer so sorgvry wees nie. As ek kyk na waar ons vandag is, het ek dalk twee keer gedink voordat ek die straatkos geëet het. Vroeg vanjaar, het die Filippyne-been van ons toer aangebreek. Al het die virus reeds vanaf China versprei, is internasionale reise nog nie gestop nie.

Die vreeslike armoede in Manila het my baie meer as die virus bekommer. Kinders onder tien loop saans tot middernag in uitgaanplekke tussen dronk mense rond om blomme te verkoop. Skokkend! Ander kere was weer komies. Soos toe ek my gehuurde tjello moes toets. Die man het ’n stoel op die vuil, besige sypaadjie nader getrek en die tjello uitgepak. Daar speel ek toe tjello tussen hoenders, katte en nuuskierige mense wat naderstaan.

Covid-19 het eers vir ons ’n werklikheid geword toe ons skielik moes huis toe gaan. Gou, voordat die Filippyne sy grense sluit.

My keel het op pad huis toe seer geraak. Op die vliegtuig. En die eerste nag terug in Suid-Afrika was my koors hoog. Daarom het ek my die volgende dag dadelik laat toets en was verlig toe die uitslag negatief was. Omdat inperkingsmaatreëls wêreldwyd begin geld het, wou ek so gou moontlik by my familie in Bloemfontein uitkom.

In daardie stadium was my pa en sy vrou by hulle strandhuis en hulle sou eers later die week terugkeer. Ek is toe solank alleen na hulle huis toe. My smaaksintuig het intussen ook verdwyn. Ek kon niks proe nie. My lyf het al hoe seerder geraak, en die koors was terug.

Ek het slegter en slegter begin voel. Hierdie was nie sommer net ’n verkoue nie. Ek het onrustig begin raak. My dokter het ’n tweede toets aanbeveel. Die simptome wat ek gehad het, was baie soos wat hulle van ’n Covid-19-pasiënt sou verwag.

Die laaste ding wat ek wou doen, was paniekerig raak. Maar intussen het heelwat mense in ons geselskap siek geword. Die kans was goed dat ek ook aangesteek het. Dit was gelukkig maklik om myself te isoleer terwyl ek vir die toetsuitslae moes wag.

En sowaar. Die tweede keer was die toets positief. Skielik moes almal se doen en late aangepas word. My pa-hulle kon nie terugkom nie, en my ma kon my nie kom help nie.

Die eerste paar dae was die ergste. Een oggend het ek vrek dors en gedehidreer wakker geword. Net ’n bietjie water … Op die bedkassie … Arm lig. Sluk. Kan nie … My lyf was net te seer. Ek kon nie beweeg nie. En daar was niemand naby om my te help nie.

Al het my ma heeltyd gevra dat ek by haar moet gaan bly sodat sy my kon help, was die risiko te hoog. Inteendeel, ek het my simptome so effens versag wanneer sy wou weet hoe dit gaan wanneer sy vir my kos by die hek afgelaai het. Sy sou haar te veel bekommer het.

Party dae was beter. Om net die volgende dag weer ’n terugval te beleef. Dis moeilik om te onthou presies wanneer die simptome begin opklaar het. Maar ek het wel vir twee weke lank elke oggend my neus in ’n koffieblik gedruk om agter te kom of ek al kan ruik!

Tydens kwarantyn, het ek doelbewus die nuus en media vermy. Om dag en nag na virus-stories te kyk en te luister sou net onnodige angs veroorsaak het. En vrees. Teen daardie tyd was ek al moeg daarvoor om Covid-19 te hoor, sien en voel.

Vir iemand wat oor die algemeen met angs sukkel, was ek snaaks genoeg nooit bang dat ek moontlik kan doodgaan nie. Hoewel hospitalisasie nie nodig was nie, was my simptome intens. Die beste manier om dit te verduidelik is soos ’n baie erge griep. Erger as wat jy al ooit gehad het.

Jy sou dink dat ’n introvert mal is oor die “verpligte” eenkanttyd … Maar selfs die gehardste alleenloper mis ander mense se geselskap! Ons is nou maar eens sosiale wesens. Hoewel ek van stilte hou, was die kwarantyntyd te erg. Ek het na mense gesmag.

Nadat die ergste simptome verdwyn het, het ek begin lees. Lees, lees, en baie stories gekyk. My pa se Netflix- en Amazon Prime-rekeninge is goed gebruik! En ek het elke dag ten minste ’n halfuur gemediteer. Dit het beslis gehelp om my kalm te hou.

Op goeie dae het ek allerhande interessante musiek-verwerkings op my pa se vleuelklavier uitgedink en opgeneem. Eintlik het dit met ’n uitdaging begin. En toe sommer ’n lekker tydverdryf geraak. Op van die video’s wat ek in sosiale media gedeel het, speel ek klavier met my tone! En later onderstebo. Vreemd wat jy kan regkry as jy alleen en koorsig is!

Sulke vreemde tye, bied dikwels ook geleenthede. Omdat ons beslis nie die res van hierdie jaar met die produksie gaan toer nie, kan ek nou weer voltyds lesgee. Dit is nou wel aanlyn lesse, maar dit is heerlik om weer daardie passie ook te kan uitleef.

Wat jy met die tyd gaan doen terwyl jy siek is, of besig is om te herstel, hang van jouself af. Jy kan dit omwens, of besluit om dit so goed as moontlik te gebruik en dalk ’n nuwe vaardigheid aan te leer. Ek het byvoorbeeld ook begin om Italiaans aan te leer.

Nadat my simptome opgeklaar het, was die wêreld reeds ’n vreemde, nuwe plek. Al was ek gesond, was ek steeds in die grendeltyd vasgevang. Soos almal anders in Suid-Afrika. Dit was nie moontlik om vriende en familie te gaan groet nie.

Maar, terselfdertyd het ek hierdie diep dankbaarheid in my hart gehad. Baie ander mense se simptome is veel erger. Sommiges gaan dood. Dit kon vir my ook anders gewees het. As kind het ek erge asma gehad, maar ek het gelukkig glad nie met my longe met Covid-19 gesukkel nie.

Ek besef ook dat my omstandighede baie gunstig was. Die toetse is gou gedoen. Ek is jonk en gesond. Daar was ’n gerieflike huis. Kwarantyn was maklik. My ma het vir my kos gebring. Al wat ek moes doen, was gesond word. En rus.

Tog weet ek ook dat jy so versigtig kan wees as wat jy wil, enige iemand kan dit kry. Dit is beslis nie die moeite werd om jou lewe op ys te sit en die tyd om te wens nie. Probeer om die beste daarvan te maak. Jy ontdek dalk net ’n nuwe interessante avontuur. En waardeer die mense om jou. ’n Drukkie beteken meer as wat jy besef.