Tracey Lange: “Hoe sleg gister ook was, elke dag is nuut”

796
Tracey Lange

TRACEY LANGE se lag, passie en energie is aansteeklik. Dié gewilde radio–omroeper en TV–aanbieder blom beslis waar sy geplant is.

“Trace, kom asseblief uit die kamer uit. Hoekom is die deur heeltyd toe? Waarmee is jy besig?”

Dis ma Theresa wat so roep. Benoud-bekommerd oor die jongste van twee tienerdogters wat haarself so eenkant hou.

Ek, aspris moeilik, maak of hoor en sien vergaan. Wikkel-wikkel om ’n gemaklike lêplek op die bed te kry. Kussing opgepof en agter my nek ingedruk. Boek in die hand. Vrede met die wêreld.

Daar is min dinge so lekker soos om alleen besig te wees met dinge waarvan ek hou. Die ander kinders kan maar partytjie hou en kuier. Dit pla nie. Hierdie is mý happy place. Kan Ma dit nie verstaan nie. Hoekom karring sy so?

Ma het haar lot by ’n vriendin gaan bekla, en dié gee toe goeie raad. “Ai vrou, moenie jou ore so uitleen aan wat ander mense sê nie. Moenie dat hulle stories oor moeilike kinders wat onderduimse goed aanvang, jou bekommerd maak nie. Tracey se hart is op die regte plek. Los haar. Sy is ’n goeie kind.”

Dit was die beste advies nog.

Die behoefte om soms alleen te wees en die deur agter my toe te trek, is steeds daar. Wanneer die mikrofoon afskakel en die kameras ophou rol, is ek steeds die muurblommetjie van my kindertyd. Dis waar ek gemaklik voel.

Mense is verbaas, amper geskok, wanneer hulle agterkom “Tracey van die radio en TV” is toe nie die uit-haar-vel-uit ekstrovert wat hulle gedink het nie.

Dis asof mense ongemaklik voel in ’n introvert se teenwoordigheid; asof hulle nie weet wat om tussen die stiltes te sê nie. Maar vir my is daar beslis ’n plek vir ons stilles in hierdie wêreld.

Kyk, ek hou van mense – van lag en lekker gesels, veral in eentot-een situasies of in klein groepe … maar net tot op ’n punt. Dan moet ek terugtrek en herlaai. Asemskep by die huis, waar dit stil en rustig is. Met ’n boek, of deur te gaan stap, of selfs net om te stryk. Ek is mal oor stryk.

Die liefde vir stilte en vrede kom beslis uit my kinderdae. Ons hele familie is so.

“Jy is bederf,” het iemand eendag vir ousus Deidré gesê. Sy was heeltemal oorbluf, want ons het glad nie bederf grootgeword nie. Daar was nooit baie geld of uitspattige luukshede nie.

“Waarvan praat jy?” wou Deidré weet. Dis toe dat dit insink …

Weet jy hoe gelukkig julle is om in ’n vreedsame huis te kan groot word? Met ’n ma en pa wat nooit met mekaar baklei nie, net praat, verduidelik en aanmoedig?”

Die een nadeel was dat daar nie ’n voorbeeld was van hoe om konflik te hanteer nie. In my volwasse lewe het ’n lewensafrigter daarmee gehelp.

“Daar is ’n kind binne ons elkeen,” het hy verduidelik. “’n Kind wat altyd beskerm en versorg moet word. In konfliksituasies, sorg dat daardie kind nie vreesbevange raak of seerkry nie, en veral nie bang word vir jou nie.”

Hierdie beeld het baie gehelp dat my woorde en aksies in konfliksituasies versigtig gekies word.

Tog is die rustigheid van my ouerhuis vandag steeds diep in my menswees vasgelê. As ’n krisis tref, kom lê daar outomaties ’n kalmte hierbinne. Dit het al tweede natuur geword om eerder dadelik na oplossings te gaan soek, as om by die probleem vas te steek.

“Maar, Ma … ek kan nie! Dis te moeilik …”

As die jong Tracey só geneul het, het Ma gewoonlik op haar stil, wyse manier geantwoord: “Dis net soos jy daar sê. As ’n mens sê jy kan nie, dan kan jy nie. En as jy dink iets is te moeilik, dan ís dit.”

Pa Colin het ook so gevoel. Hy het hierdie wonderlike, bevrydende ingesteldheid gehad. Ons gedurig daaraan herinner: “’n Vrou moet alles kan doen.”

Dit was kragtige woorde vir ’n introvert meisietjie wat nog haar voete in die wêreld moes vind. Om in ’n go-getter te ontpop, het met tyd gebeur.

Skool was nie ’n lekker plek nie. Eintlik vreemd, want ek is mal oor reëls. Trek die lyne, en ek sal nou nog baie mooi binne die strukture inkleur.

Niks sleg het gebeur nie. Inteendeel, ek was eintlik ’n witbroodjie, maar daar was altyd ’n onderliggende vrees dat ’n mens in die moeilikheid kan kom, sou jy iets verkeerd doen of sê.

Die gesukkel met ekseem, veral op my bene, was ook ’n groot struikelblok. Ek was skaam oor hoe dit gelyk het. Die rooi, skurwe vel … en die letsels wat dit later agtergelaat het. Snaaks, in my kop was dit so ’n groot issue. Vandag is dit asof niemand dit eens raaksien nie.

Wys jou net. Alles gaan oor perspektief en ingesteldheid. Die lewe is wat ’n mens daarvan maak.

Om streng en konserwatief groot te word – eintlik maar soos in ’n tipiese Afrikaanse huis – was baie goed vir my vorming as mens.

Dit het my geleer om verder te dink. Niks halsoorkop te doen nie. Om in elke situasie my goeie waardes te onthou.

Maar daar was ook ander mentors wie se inspraak die koers vorentoe bepaal het.

Soos Mnr. Pienaar, my eerste baas, toe ek pas klaar met skool as ontvangsdame by ’n prokureursfirma begin werk het.

Hy was toe al oor die 80 en het steeds sy eie sake behartig. ’n Groot inspirasie. Professioneel en wys, maar ook menslik. Hy het hom ontferm oor hierdie jong skoolverlater wat bereid was om vir die ondervinding sonder ’n sent te werk.

“Se voet,” het hy gesê, “’n mens werk nie verniet nie”. By hom het ek geleer dat dit oukei is om vrae te vra tot jy iets verstaan, om hard te werk en om te baklei vir wat reg is.

Daar was ook my standerd 5-onderwyseres, juffrou de Klerk wat vir ons Afrikaans gegee het. Sy het nie net ’n liefde vir die taal gekweek nie, maar ook die besef dat dit soms goed is om van ’n ongewenste situasie weg te stap.

“Dis nie jou soort vriende nie,” het sy eenkeer ná pouse opgemerk. Sy was reg. Toe los ek die vriendekring.

Haar grootste bydrae was dat sy die eerste persoon was wat ’n loopbaan in die media voorgestel het. “Jy sal goed wees daarmee,” het sy vir hierdie skaam kind met die boksterte gesê. Dis nogal snaaks hoe mense iets in jou sien waarvan jyself onbewus is.

My lewe in die vermaakbedryf gee my hierdie platform, maar dit het sy op en af. Die lang ure en harde werk om jou handelsmerk te laat groei, beteken dat familiedae en kuiers saam met vriende soms misgeloop word. Gelukkig is ons werkspan soos een groot familie. Daar is altyd humor en hope ondersteuning.

Iets wat verbasend en eintlik hartseer is, is hoe my diversiteit in my loopbaan soms teen my kan tel. Dit maak nie saak hoeveel werk ingesit word nie, dit voel altyd of ’n mens tien keer harder moet werk as ander in die bedryf – veral as vrou.

Die onregverdigheid maak my moeg.

Ek is grootgemaak in ’n huis waar kleur glad nie ’n faktor was nie. My ouers het dit nie toegelaat nie. Daar was nooit ’n ding gemaak van hoe velkleur deure kan laat oop- of toeswaai nie. Die fokus was op harde werk, goeie waardes en integriteit.

Dis hoekom dit vandag verstommend is om te hoor dat ek partymaal nie Afrikaans genoeg is, Engels genoeg is, wit of swart genoeg is, of selfs bruin genoeg is nie!

Die feit dat ek verskeidenheid na die tafel bring, word skoon misgekyk.

Maar dit pla nie meer nie, want ek weet: Doen wat goed en reg is, met ’n positiewe gesindheid, en jy sal die vrugte pluk.

Dis ook hoe ek negatiewe kritiek wat daar soms van die publiek af is, deflekteer. Dit het net eendag gekliek. Die feit dat daar partymaal negatiwiteit is, is ’n gegewe. Hoe ek daarop reageer, is wat saak maak.

As iemand nie van my hou nie, is dit reg so. Hulle voor- en afkeure hoef nie my menswees binne te dring of af te takel nie. Hierdie besef was ’n groot deurbraak.

Ingesteldheid is alles. ’n Tipiese werkdag begin so vroeg moontlik, sodat die res van die dag so rustig moontlik kan verloop.

Daar word volgens ’n lysie gewerk en as die lysie afgehandel is, is my werksdag ook klaar. Op hierdie manier is daar ’n bietjie meer balans.

Die skedule is ook met tye so veeleisend dat daar nie tyd is om “af” te voel nie. Dan is dit ken oplig en deurdruk. Die wêreld verwag vriendelikheid, energie en ’n vrolike glimlag, en dis wat ek gaan gee.

As ’n dag regtig nie lekker is nie, herinner ek myself: Fake it till you FEEL it. Sit daai glimlag op tot jy hom hier binne in jou hart kan voel. Dit werk!

Die krag van dankbaarheid moet ook nie onderskat word nie. Dit verander regtig ’n mens se perspektief. Ek begin by die kleinste goed … my bed, bord kos, klere, die dak oor my kop, ’n werk, mense wat my liefhet.

Die een mens waarvoor ek baie dankbaar is, is my verloofde Avukile Mabombo, ’n sakeman en bemarkingsghoeroe. Hy is een van die groot inspirasies in my lewe. ’n Goeie, wyse man, met altwee sy voete op die aarde.

Ek was voorheen verloof, en in my boekie is dit so goed soos trou. Maar al die tekens was daar; ’n huwelik tussen ons sou nie werk nie. Om dus die verlowing te verbreek en weg te stap, was die dapperste ding wat ek nog gedoen het.

In die twyfel of ek moes loop of nie, het die gedagte opgekom: “Sê nou daar is nie weer iemand wat jou gaan liefhê nie …”

Dit het net ’n rukkie gepla, want my alleenloper-dae was ook vervullend. Die groepie goeie vriende in my lewe is almal sterk, onafhanklike mense wat hulle eie ding doen, maar wat ook langs my staan wanneer dit nodig is.

Ek het nog nooit uit my pad gegaan om liefde te soek nie, maar voel gelukkig dat dit weer gebeur het.

In ons verhouding is romantiese gebare soos blomme, kaartjies of geskenke nie so belangrik nie. Wat saak maak, is dat die liefde heeltyd soos ’n betroubare enjin hier onder ons dreun. Rustig en konstant. Die seker wete dat ’n mens ’n lewe bou saam met iemand wat die pad saam met jou stap.

Ons sal nou en dan saam sit en besin oor waarheen ons op pad is; koppe bymekaar sit oor waar ons wil wees – en dit dan saam laat gebeur.

By Avukile het ek geleer dat dit heeltemal in die haak is om jou voet neer te sit wanneer jy nie waardeer word nie. Ons is albei is uiters hardwerkend, maar as mense misbruik maak daarvan, het jy die reg om “nee” te sê.

Ek geniet ons volwasse gesprekke en die feit dat dieselfde dinge vir ons belangrik is. Albei selfstandig en gelykmatig. Ons is nie impulsief nie en kyk ’n ding eers goed uit voor ons inspring en net doen. Maar as ons doen, gee ons álles.

Wat familie, vriende en selfs die publiek betref, het liefde my geleer dat dit gaan oor moeite doen met mekaar. As ’n belofte gemaak is, kom dit na. As ’n afspraak gereël is, hou daarby – ongeag wat agter die skerms gebeur. Leef met integriteit.

My beste raad? Maak nie saak hoe moeilik gister was nie, elke dag is splinternuut, nog ’n kans. Gryp dit aan. Moenie terughou nie. Doen jou bes, en die res sal vanself in plek val.