Hykie Berg: Jy kán weer liefhê, al het jy seergekry [DEEL 1]

95

HYKIE BERG en sy Gerridene het geleer dat seer jou laat groei. Agter hulle storie van geluk lê gebroke harte, moeilike lesse en die genade om weer liefde te kon vind.

Dis iets wat nie gaan verander nie. Ek is die soort mens wat nie ’n beskuit halfpad indruk nie. Ek doop dit heeltemal,” sê Hykie en streel vir die soveelste keer oor sy mooi vrou se arm.

Babba, sy noemnaam vir haar. Of Gerridene, wat “magtige spies” beteken. “En dis presies wat sy is.

Ja, hy het al baie seergekry; in die lewe en die liefde. Maar hy gaan nie nou begin suutjies trap nie. Nie skielik net bietjies-bietjies liefhê om sy hart te beskerm nie.

Dis in sy geaardheid om “groot” te gaan. Om ná ’n egskeiding waar vertroue verbreek is, weer volkome en met oorgawe lief te hê, “al is daar geen waarborge nie en al beteken die huwelik harde, konstante werk om die aanslae en invloed van buite af te weer”.

“Ek leef van dag tot dag, en dis ook hoe ons huwelik benader word. ’n Strewe om daagliks mekaar se belange eerste te stel. Ook om te leer uit die suksesse en foute van die verlede.”

“As daar nou een ding in ons storie is wat hoop gee, is dit dat dit nie saak maak hoe seer ’n mens al gekry het nie, jy kán weer liefhê.

“Die vorige hoofstuk kán afgesluit word. Die wonde kan genees. Bitterheid kan verdwyn. En dan, op ’n dag, is dit of ’n mens wakker skrik en iets sien wat jy nog nooit voorheen opgemerk het nie.”

Hykie onthou die dag toe hy die pragtige blondine in die gimnasium raakgesien het.

“Die boudjies, die boobs, die moves. Dit was alles daar …”

Gerridene, ’n slimkop-prokureur en fiksheidsmodel, lag te lekker vir haar man se sê-goed, maar dan raak ook sý ernstig oor die kronkelpaaie wat tot hier toe gestap moes word.

“Ek was in ’n paar langtermynverbintenisse en aan die einde van elkeen het ek stukkend weggeloop. Soos ’n niks en ’n niemand. Telkens van vooraf ontwortel, omdat ek myself in die ander persoon verloor het; toegelaat het dat sy identiteit en lewensdoel, myne word.

“Ek sou vir ’n week lank nie eet nie; verslae deur elke dag worstel. Totaal onvolwasse en nie opgewasse om die seer en verlies te hanteer nie.

“In die laaste verhouding het die besef gekom dat dit wat ek deurgaan, nie so behoort te wees nie. “Dit was tyd om afstand te kry; om eers heel en volwasse te word, voor ek weer sou kon waag om lief te hê.” Gerridene se heelwordingsproses het vier jaar geduur.

“Dit was ’n tyd waarin die Here my grond heeltemal omgespit het. Alles oorgeplant, en nuut water kom gee het. Dit moes eers ’n hartsoortuiging word: ek is die mens wat ek is – en genoeg daarby – voordat ek iemand se meisie, verloofde of vrou is.”

Aan die einde van hierdie proses het Hykie op die toneel verskyn.

“Daar was vuurwerke, maar ernstige belangstelling? Ek het aanvanklik gedink ons is net twee mense wat gereeld koffie drink en besig is om goeie vriende te word. My hart was dan so rustig. Of hierdie vriendskap nou inniger raak of nie, ek sou met die uitkoms tevrede wees.

“Dis toe dat ek besef het die ‘spitwerk’ hierbinne is gedoen. Daar is gegroei in insig en volwassenheid.

Hoe erg dit ook al mag klink, ek kan vandag met eerlikheid sê: Ek het nie hierdie man langs my nodig nie.

“Uit liefde wil ek hom hê en saam met hom wees, but I don’t need him. Dit is die groot verskil.”

“Die grootste verskil met Gerridene in my lewe, is dat ek nog nooit saam met iemand was waar albei partye se fokus totaal op die Here is nie,” sê Hykie.

“Ná die egskeiding was die gebed: ‘Daar is net een versoek, Here. As liefde my weer beskore is, soek ek iemand wat heeltemal oortuig is.’ Ek het nie die tyd of krag gehad om ’n lewensmaat te mentor of te red nie.

“Die ideaal sou wees om ’n vrou te ontmoet wat klaar volwasse in haar geloofslewe is.

“En jinne, toe kom hierdie ou sexy katjie verby … My eerste indrukke klink nou nie baie spiritueel nie, maar vandag weet ek sy is deur God vir my bestem. Hy het my geheel en al verras.”

“Ek bewonder Gerridene vir haar gewilligheid om te leer en te groei. Haar dapperheid en moed. Haar vasbyt en veggees. Hoe sy opstaan en haarself kan laat geld wanneer dit saak maak.”

Tog moes hulle albei ook aan hulleself en aan die verhouding skaaf om saam beter te wees.

“Daardie fyn spel om te weet wat moet verander, wat moet aanvaar word en wat dieselfde moet bly. My grootste uitdaging was om vinniger en meer gereeld jammer te sê,” erken Gerridene.

Hykie: “Maar jy sê dan altyd so mooi jammer? Dis vreeslik oulik as sy ’n punt probeer bewys, maar dan weet ek sy gaan later terugkom en neul: ‘Ag lovey, só jammer …’ Aan die ander kant, sy is ’n prokureur. Om reg te wees en te wen is deel van haar werk.”

Gerridene: “Ek het eers onlangs besef dat ek ongelooflik prestasiegedrewe is. Dit kom seker van kindsbeen af … Om eers op die atletiekbaan te wen voordat ek spykerskoene mag kry. Om eers goed in skoolwerk te doen, voordat ek dit of dat kon kry.

“Dis iets om voortdurend aan te werk; die besef dat prestasie nie my waarde bepaal nie.

“’n Ander groot aanpassing was ons verskillende lewensritmes. Ek, die oggendmens. Hykie, die aandmens.

Hy sukkel om in die oggend wakker te word en ek is al van vieruur af op, reg vir die dag.”

“Sy is soos ’n sonneblom. Teen negeuur die aand maak die blommetjie toe. Dis asof haar hele persoonlikheid verander. Alles sluit af. Die ogies is oop, maar daar kan nie drome gedroom of lugkastele gebou word nie.”

“In die begin was dit moeilik – ek het gewonder hoe om haar aan die gang te kry. Tot ons besef het hierdie is ’n ding wat ondersoek en verstaan moet word.

“Noudat ons die verskil in ritmes begryp, doen Gerridene moeite om deur die loop van die dag oor alles te gesels wat dalk nog teen vanaand ’n onopgeloste gesprekspunt kan wees.”