Vashti Prins: “Ek is so dankbaar vir elke oomblik”

33

Vashti Prins is vir lank beheer deur ’n strewe om in alles perfek te wees. Tot sy besef het “perfek” is ’n droom wat nie bestaan nie. Nou is haar doelwit om dankbaar vir, en in, elke oomblik te wees.

Dit was die grootste pakslae van my lewe. En tog, vir ’n paar oomblikke was dit alles die moeite werd.

Die R100 in Ma se beursie … het na die perfekte oplossing gelyk.

Op daardie ouderdom was skool ’n ernstige saak. Veral vir iemand soos ekke: soet, gedissiplineerd en hardwerkend.

Deur en deur ’n overachiever, gedryf deur ’n goeie skoot perfeksionisme. En altyd besig met ’n klomp buitemuurse aktiwiteite – koor, orkes, debat, netbal, landloop en kunswedstryde.

Amper niks was belangriker as om alles uitstekend en foutloos te probeer doen nie … Behalwe om deel van die in-groep te wees.

In hierdie opsig het ek ongelukkig ver tekortgeskiet. Pouses, wanneer almal gelag en gesels het, het die uwe eerder haar toonlere in die musiekklas gaan probeer vervolmaak. Sosiale interaksie was nie ’n sterk vaardigheid nie.

En van boelies kan jy my niks vertel nie. Daar was altyd die een of ander “probleem” in die kinders se visier – my kroes-hare, uitstaan-tande, plat borsmaat, groot voorkop of beheptheid met skoolwerk.

Dit het dikwels beteken dat Sondae-aande spandeer is om die kroese, ná ’n naweek van son en seewater, uit te kam en reguit te probeer blaas. Baie trane het geloop en ’n paar borsels is in die proses gebreek.

Daar is ook met elke moontlike haarstyl geëksperimenteer om die voorkop toe te maak. En bra’s is gekoop om my borsmaat groter te laat lyk …

Ek was in baie opsigte selfversekerd en kon my man staan. Maar terselfdertyd was dit ook ’n fase van selfbewustheid en onseker voel. “As ek maar net één keer populêr kon wees …”

Dis waar die R100 uitkoms kon bied.

Ek het dit skelmpies uit Ma se beursie gegaps en die volgende dag vir al my vriende tjips, lekkers en oliebolle by die snoepie gaan koop. Om vir ’n klein rukkie cool te wees was ’n wonderlike gevoel!

Tot ek uitgevang is en hierdie boude goed gebrand het. Ná daardie pakslae het twee dinge gebeur. Die les is geleer dat elke keuse ’n gevolg het. En ek was selfs meer vasberade om goedgemanierd en hardwerkend te wees. Om in alle opsigte perfeksie na te streef.

Nie omdat ek doelbewus wou nie, maar as ’n mens baie druk ervaar en hard is op jouself, is dit moeilik om anders oor die lewe te dink.

Destyds het ek nie besef mislukkings, foute maak en om nie in alles goed te wees nie, is eintlik doodnormaal en selfs nodig nie.

Ek sou dit eers later in die lewe leer.

Al het ek as tiener bitter ongemaklik in my lyf gevoel, het gelukkige, sorgelose kinderjare my menswees help vorm.

Daar is soveel goeie herinneringe aan ’n hegte familie wat elke Sondag saam gebraai en geswem het. Of op die maat van my ouers se golden oldies na die lekkerste vakansiebestemmings toe gery het.

Vandag nog het ek groot waardering vir betekenisvolle musiek – liedjies wat ’n storie rou en eerlik kan vertel.

Daar is baie gespeel en ons het ons verbeelding gebruik. Dokter-dokter saam met niggies en nefies – met blare as pleisters en ’n mengsel sand en water as room.

Of, om hierdie soettand te bevredig, het ek en my sussie graag klein stukkies brood in suikerwater gedoop en gelos om in die son uit te droog, voordat ons dit verorber het.

Kleintyd was die gevoel van ’n ding goed doen en eerste kom, lekker – maar nie soseer oor die wen nie. Eerder oor die gevoel, die energie wat dit losgemaak het.

Soos die keer toe Pa sy motor by ’n vulstasie se motorwassery laat was het. Terwyl ons wag, het ek aan ’n inkleurkompetisie deelgeneem. Daar is sommer net sorgeloos en vir die lekker ingekleur. Die vel papier is ingehandig en ek is vort na die springkasteel toe.

Ná ’n rukkie is my naam uitgeroep: wenner van die inkleurkompetisie. Die opgewondenheid van die oomblik was ongelooflik lekker, en die groot sak sweets as prys het dit absoluut die moeite werd gemaak.

Tog het dit mettertyd belangrik geword om nie net bloot pret te hê nie, maar om in alles uit te blink. Ek het soveel druk op my skouers gelaai. Wanneer daar met iets gesukkel is – soos geskiedenis, ekonomie, wiskunde – het ek myself omtrent gekasty. “Sien? Jy is nie goed of slim genoeg nie.”

Gelukkig kom ’n mens iewers as volwassene tot jou sinne. Ek moes besef: “Vashti, jy as mens, foute en al, maak saak.”

Tot dusver is dit my grootste uitdaging. Om aan ’n gesonde verhouding met myself te bou. Om bewus te raak van wie ek is, die impak wat ek maak en hoe ek “opdaag” in hierdie wêreld. Die vermoë om in die hier en nou te leef.

Iets waaraan daar tans gewerk word, is hoe om nié op auto[1]pilot deur die lewe te gaan nie. Om niks te dink, doen of te sê bloot uit gewoonte nie, maar om eerder intens bewus te wees van die mens hierbinne.

Iemand wat nie net volgens die rolle wat aan haar toegeken is – dogter, suster, geliefde, kollega, aktrise, sanger – leef nie, maar wat ook buite en sonder hierdie etikette kan funksioneer.

Ek is ook mý eie tyd en inspanning werd.

’n Ander groot gewaarwording was dat ’n mens nie jou sondes of foute is nie. Ek is nie die somtotaal van my gedagtes, traumas of gewoontes nie. Tekortkominge, mislukkings en selfs suksesse, definieer jou nie.

Die gedrewe kind en tiener van my jonger dae maak al hoe meer plek vir ’n ander manier van dink en wees. ’n Nuwe identiteit word gevorm. Vandag sien ek myself as ’n kind van God, wat glo in die krag van gebed. ’n Gees, in ’n liggaam hier op aarde, wat met deernis, liefde, vriendelikheid, waarheid, eerlikheid, krag, vreugde, warmte, vergifnis, sagtheid en vrede leef.

Kleintyd was dit ’n droom om mense te vermaak. Om hulle te laat lag, en in die wegstap vryer, gelukkiger en meer lewenskragtig te laat voel. Dis steeds ’n droom waaraan ek elke dag werk.

Maar die veel groter droom daaragter – ’n lewensdoel glo ek – is om ander te dien met liefde en ondersteuning. Om geleenthede aan te gryp waar ek ’n lig, ’n huis of ’n sagte rusplek vir iemand kan wees.

Dit is wat my dryf … nie werk, roem of sukses nie, maar om in die hier en nou met betekenis te leef. Om in die woorde van Mahatma Gandhi, die verandering te wees wat ek graag in die wêreld om my wil sien.

Vir iemand met ’n gedrewe persoonlikheid is hierdie soort uitkyk baie bevrydend. Ek het besef dat ’n mens in hierdie oomblik in jou lewensreis, presies is waar jy moet wees. In die tyd, plek en met al die vaardighede wat nodig is vir vandag.

Daar is steeds dinge waaraan ek moet werk. Soos om nie alles te probeer beheer nie – omstandighede, situasies, uitkomste, mense. Dit kom vanuit ’n plek van vrees hier diep binne; ’n bang-wees om nie seergemaak of verwerp te word nie.

In sulke oomblikke sal ek doelbewus gaan stilsit, diep asemhaal en rustig en gefokus raak. Dis dan wanneer ek bid, my bes doen om op God te vertrou en myself op ’n logiese manier gerus te stel.

’n Tipiese selfgesprek klink só: “Vashti, jy probeer om dinge te beheer, want jy voel bang en onseker. Onthou, dis normaal en oukei. Moenie jouself oordeel omdat jy so voel nie. Al wat beheer kan word, is hoe ’n mens kies om ‘op te daag’ in die wêreld. Wat ander mense doen, is hulle eie saak en keuse – iets waarvoor hulle eendag verantwoordbaar sal wees.”

Wat baie in sulke oomblikke van angstigheid help, is om bloot te vertrou dat alles ten goede sal meewerk. Goed en sleg – elke situasie is besig om my iets te leer. Hierdie manier van dink maak ’n mens rustig en gee sommer baie moed en hoop.

’n Ander area wat nog skaafwerk nodig het, is om nie meer ’n people pleaser te wees nie – veral nie ten koste van persoonlike welstand nie. Elke dag word aangepak met dié ingesteldheid: “Dit is nie my werk om ander se buie en emosies te reguleer nie. Dis my werk om myself te wees.”

Ook om gesonde grense te stel, want as ’n mens die grense ken, is dit makliker om jouself te beskerm.

Ek leer ook om my gedagtes in toom te hou; nie toe te laat dat hulle onbeheers rondmaal nie. Ons almal ken situasies wat jou skielik onkant vang. Die beste manier om dit te hanteer is om objektief te wees. Sien dit vir wat dit is, en nie vir die aannames wat daaroor gemaak word nie.

Daarom vra ek myself gedurig af: “Is die gevoel of reaksie gegrond op die waarheid, of op wat jy of ander aanneem die waarheid is?”

Op hierdie manier begin ’n mens nogal vinnig helder en nugter na ’n situasie kyk.

Dis vandag lekker om te besef hoe veerkragtig ek is. Iemand wat steeds kan liefhê en die lewe kan geniet, ten spyte van dinge wat ek deurgemaak het.

Daar is nie ’n hunkering om enigiets oor te doen of anders te doen, sou ’n mens weer die kans kry nie. Die seerkry, teleurstellings en foute maak my juis vandag beter as gister.

Daar is wel dinge wat ek nie in die toekoms sal wil herhaal nie. Soos om besluite en reaksies te dryf vanuit ’n plek van weerwraak, woede en onvergewensgesindheid. Ek wil nooit weer iemand anders laat “boet” weens die onvermoë om my eie traumas, gewoontes en onsekerhede te hanteer nie.

Mag ek ook nooit weer die fout maak om in giftige verhoudings met mense te wees, bloot omdat ek alleen of eensaam voel nie.

Om goeie vriende te kies – die mense wat in my binnekring toegelaat word – is vandag ’n baie bewuste keuse. Die “ek” hierbinne is nie vir almal beskore nie.

Voorheen was ek hierdie meisie wat gedink het dat enigeen wat gaaf en vriendelik is, enigiemand wat my laat glimlag of saam met my lag, ’n vriend is.

Toe nie. Dit het beteken dat mense in my binnewêreld toegelaat is wat nie daar gehoort het nie – en dit het tot ondenkbare pyn, teleurstelling en verraad gelei.

Die waarheid was ook: Ek moes my eie rol hierin erken, en bewustelik begin kies wie ek inlaat en wie nie.

Nou is die goue reël: Leer eers ’n persoon ken. Kom ons waardes ooreen? Hoe voel ek in hierdie mens se geselskap? Hou ek van hoe daar met my gepraat word? Gaan ons verskille my opbou of in stukke breek?

Die les is geleer dat ’n mens nooit die proses om doelbewus die regte vriende te kies, moet onderskat nie.

Dit is ook nie my werk om enigiemand “reg te maak”, te verander, gesond te maak, of op te voed nie. ’n Mens kan nie ’n ander se beker volmaak as jou eie leeg is nie.

Daar was ’n familievriend waarmee ek gedurig vasgesit het as gevolge van die persoon se slegte gewoontes en ongesonde manier van dink en leef. Mettertyd moes ek besef ’n mens tap jouself leeg as jy die enigste een is wat daarteen baklei. Dis nie die moeite werd nie.

Niemand kan gee wat hulle nie hierbinne het om te gee nie. Mense hanteer jou soos hulle hulleself hanteer.

Die oplossing was om die fix it-hoedjie af te haal, want al hierdie kosbare tyd en energie kon op beter maniere benut word.

Die oomblik wanneer ’n mens besef jy is nie verantwoordelik vir enigeen se keuses en welstand nie, is dit asof daar ’n stuk ruimte in jou kop oopgaan – spasie om nuwe planne, doelwitte en drome na te jaag.

Ek is vandag op ’n goeie plek. Dankbaar vir die bewuswording en groei wat al plaasgevind het. Tevrede met waar ek myself op hierdie oomblik in die reis van die lewe bevind.

Dis ’n voorreg om deur ander gesien, gehoor en waardeer te word. En om ook myself raak te sien en met sagtheid en deernis lief te hê.

Ek is dankbaar om te weet: Vashti, jy is goed genoeg – onvolmaakthede en al.

Vorige artikel[VIDEO] Hoe om jou stempel af te druk
Volgende artikelOns kan saam soveel meer vermag