Zoë Brown: “Leer uit die lewe se draaie”

109

Radio– en tv–aanbieder zoë brown gloei van selfvertroue en lewenslus. Maar die lewe moes eers ʼn paar draaie met haar loop voordat sy haar skugterheid kon afskud en haar ware, onafhanklike self kon ontdek.

Dit was een van die Kaap se koue wintersaande.

Pa moes eintlik van beter geweet het. Klaar gestort en in sy warm pajamas, is hy gou besig om ’n paar laaste takies by die swembad af te handel.

“Pappa, is die water koud?” vra ek in my kleuteronskuld, skaars vier jaar oud.

“Wat sal gebeur as Pappa inval?”

“En sal Pappa kan swem as jy inval?

Pa antwoord geduldig. “Nee, ek sal nie inval nie, en ja, ek kan swem.”

Maar wat hy miskyk, is hoe hierdie breintjie oortyd werk. Die verskillende opsies oorweeg. Wonder wat sal gebeur. Die grense toets …

Net toe Pa oorleun om nog ’n blaar aan die diep kant uit te skep, is daar ’n stootjie van agter af. Met ’n groot plas (en ’n nog groter skok), val hy kop eerste in die ysige water.

Iewers agter hom is daar ’n dogtertjie wat verbouereerd giggel en die huis in hardloop. Skuldig. “Maar Pappa hét darem gesê hy kan swem.”

My pa vertel vandag nog hierdie storie met groot smaak. Hoe sy klein goody two shoes hom daardie aand ore aangesit het. Die een in die familie wat amper nooit ’n voet verkeerd gesit het nie.

Op skool, juffrou se witbroodjie, wie se werk altyd gedoen was.

Die meisie wat gewoonlik harder gewerk en meer ingesit het as wat daar van haar verwag is.

Ná al hierdie jare is ek steeds daardie persoon – goedgemanierd, op my plek, hardwerkend. Maar dieselfde ondeunde kant is ook daar.

Meer onlangs, vroegoggend op die Expresso-stel, is daar ’n watergeweer in die omtrek. Almal ken my as iemand wat pligsgetrou is en professioneel optree. Maar my oog vang die geweer, my verbeelding hardloop wye draaie, en kort voor lank staan ek met die waterspuit in my hand, gerig op die produksiespan.

’n Groot glimlag op die gesig. “Hoe sal hulle lyk, sewe uur in die oggend, as ek hulle nóú moet natspuit?”

Onder groot gelag en protes word die ding toe maar neergesit … maar dit sou darem lekker gewees het om uit te vind!

Dit is hierdie deel van my persoonlikheid wat soms steeds kop uitsteek en my help om kanse te waag, buite die gemaksone te beweeg, en om veral die lewe se op en af met oop arms te verwelkom.

Wonderlike kinderjare het vir ’n goeie grondslag gesorg. Met ’n sterk fondament en ondersteuning van jou hartsmense, veral ouers, is dit makliker om die lewe se uitdagings te bowe te kom.

As kind was my dae gevul met onskuld, baie speel en prettige herinneringe van ’n gesin wat lekker dinge saam gedoen het.

Ek het nog met Barbie-poppe gespeel lank nadat ander meisies van my ouderdom na meer gesofistikeerde tienerdinge aan beweeg het. En as gesin was daar altyd die een of ander avontuur wat aangepak is.

Elke Sondag ná middagete was dit Pa se voorreg om ons kinders op ’n uitstappie te vat, sodat Ma – wat heelweek tuisbly en die huishouding aan die gang hou – kon rus.

Dit was elke keer iets anders – ’n rit op die Seepunt-promenade se blou treintjie, ’n potjie Putt Putt, ’n draai by een van die omliggende plase om aarbeie te gaan pluk, of ’n middag van swem en speel op die strand.

Kuiers saam met niggies en nefies was ’n ander groot lekkerte. In ouderdom is ons almal skaars ’n paar maande uitmekaar, so daar is vreeslik lekker saamgespeel wanneer ons gesin oor naweke by die familie op Ceres gaan kuier het.

Die hoogtepunt was die fietsryery oraloor op die dorp. Ons het onsself die Brown Bikers genoem, en selfs ’n temaliedjie opgemaak wat uit volle bors gesing is, terwyl daar in gelid in die strate afgery word.

Gelukkige, sorgvrye tye. Maar aan my persoonlikheid sou daar nog ’n bietjie getimmer moes word om ’n eie identiteit te ontwikkel.

Kort voor lank het die lewe se draaie self daarvoor gesorg.

’n Regte na-aper. Geen individualiteit nie. Dit is hoe ek tussen my vriende grootgeword het. As almal se hare in poniesterte vasgemaak was, moes myne ook só lyk. As hulle blou gedra het, moes ek ook.

En toe kom die keerpunt.

Iewers in die laaste jare van laerskool moet Pa vir werk Durban toe gaan, en so gebeur dit dat ons hele gesin regmaak om te verhuis.

Dit het ’n groot aanpassing geverg, want die nuwe skool was uitsluitlik Engels.

Krisis! Want hier waar ek grootgeword het – al was dit ’n dubbelmediumskool – was my onderrig in Afrikaans. En my maats was ook Afrikaans.

Pa en Ma besluit toe dit sal goeie voorbereiding wees om solank na die Engelse klasse oor te skuif sodat die hele proses van ’n nuwe omgewing, nuwe skool en nuwe onderrigtaal, makliker kon verloop.

’n Paar doodsbenoude weke het gevolg. Vir my, ’n gebore introvert, was die aanpassing oorweldigend. Skielik was ek nog skamer as gewoonlik, in so ’n mate dat ek heeltemal stom in die klas geraak het. Te bang om ’n Engelse woord te uiter, want sê nou die klas lag vir die aksent of ’n verkeerde woord.

Selfs die onderwysers het bekommerd geraak “oor Zoë wat heeltemal terugtrek en stil raak”.

Net pouses was ek weer my ou self. Daar tussen die ou maats wat ek so graag nageaap het. Daar waar alles veilig en bekend gevoel het.

Hoe sou ek ooit hierdie groot skuif kon hanteer?

En toe gebeur iets wonderlik, net soos die lewe is: verrassende kronkels en draaie wanneer ’n mens dit die minste verwag.

In die nuwe omgewing heers daar, heel onverwags, ’n fantastiese kultuur. ’n Gemaklike, oopkop inklusiwiteit wat buitestaanders verwelkom en met groot gasvryheid en vriendelikheid omhels.

Dit het beteken dat almal by die nuwe Engelse skool in rep en roer was oor die “nuwe meisie” van ’n ander provinsie af.

Die skugterheid het soos skubbe afgeval. Daar is links en regs vriende gemaak, en niemand het gelag oor ’n snaakse aksent of ’n verkeerde Engelse woord nie.

Waar ek in die verlede slegs die C-netbalspan kon haal, was ek nou skielik in die A-span, en selfs kaptein! Ook swemkaptein, koorkaptein, interhuiskaptein en akademiese uitblinker. Binne maande het my baadjie gekreun onder prestasiebalkies – die meeste van almal in die skool.

In terme van persoonlikheidsontwikkeling, was hierdie ’n reuse[1]keerpuntoomblik. Skielik die besef dat ek dinge vir myself kon laat gebeur. Dat daar nie meer nageaap hoef te word nie. Dat ek my unieke self kon wees, en daarin uitblink.

Ek en Pa praat nou die dag daaroor. Wie, wat en waar sou ek vandag gewees het as dit nie vir hierdie groot skuif was nie? Sou ek steeds ander mense nagevolg het? Gaan studeer het en ’n werk gekies het, volgens my vriende se keuses? Waarskynlik, ja.

Daar was ook ’n fase toe ons gesin uit ’n finansiële gat moes stoei. Die druk was groot en om almal te sien swaarkry, was moeilik.

Dit was ’n aanpassing om gewoond te wees aan geld, en toe skielik twee keer te moes dink voordat ons iets kon koop. Dit was veral aaklig om skielik die kind te wees wat altyd ’n rygeleentheid saam met iemand moes reël.

Maar selfs hierdie kronkel in die pad het ’n positiewe uitkoms gehad. Dit het my geleer om dankbaar en tevrede te wees – in alle omstandighede. En dat niks vanself kom nie. Alles wat die moeite werd is, verg harde werk.

As ek terugdink aan hierdie tye, is dit ’n konstante herinnering dat daar vir ons almal keerpuntoomblikke gebeur; goeie en slegte dinge wat ’n mens aanmoedig om te groei en jou ware identiteit te ontdek.

Om hierdie oomblikke oopkop aan te gryp en te kyk waarheen dit lei, is dikwels die grootste guns wat jy jouself kan doen.

As volwassene was ’n belangrike draaipunt die besluit om weg te breek van ’n werk waarvoor ek baie lief was. Daar moes eers geleer word hoe om gesonde grense te stel.

Die werk self was fantasties, maar dit het beteken dat ek ses dae per week, en tot 18 uur per dag besig was (omdat daar ook tyd gemaak moes word vir ander projekte op radio en TV).

Soveel familie-tyd het in die proses verlore gegaan. Ek was dikwels vasgevang in situasies waar ek glad nie wou wees nie, en besig met dinge waarvoor daar geen passie was nie – net omdat nee-sê so onmoontlik was.

Die wegbreek was een van die moeilikste, maar beste besluite.

Dit was eers vanuit hierdie objektiewe posisie wat ek dinge in perspektief kon sien en besef: ’n Vervulde lewe is een waarin ’n mens jouself toelaat om te doen waarvoor jy lief is, maar altyd binne gesonde perke.

Só is daar geleer dat enige versoek aan twee persoonlike vereistes moes voldoen: Is dit iets wat my interesseer? En is dit iets wat ek regtig wil doen?

In die proses is daar ook geleer om nuwe dinge te probeer, meer risiko’s te vat en my eiewaarde te herdefinieer.

Die Zoë van vandag is baie meer gebalanseerd as die Zoë van die verlede. Nou word dinge aangepak omdat ek wil; nie omdat ek moet of omdat ander so sê nie.

Deesdae is ek terug in dieselfde pos, maar minder dae per week en elke oomblik is ’n plesier.

Ek wil nooit weer in omstandighede vasgevang wees nie waarin daar gewonder word: “Hoekom het ek ja hiervoor gesê?”

Die lewe is te kort en te kosbaar. Dit het ek al agtergekom in my gap-jaar ná matriek as au pair in Amerika. Oppasser van drie jong kinders, met ’n ma en pa wat kliphard werk en baie van die mylpale en spesiale oomblikke in hulle kinders se lewens misgeloop het.

Hierdie jaar van vry wees en eers voete vind voordat ek gaan studeer het (beste besluit nog!), was ’n ander belangrike keerpunt-ervaring.

Dit het daartoe gelei dat ’n paar kernbesluite geneem is: soos dat ek lief is vir kinders, maar nie my eie wil hê terwyl ek nog jonk is en aan ’n loopbaan werk nie. En ook, dat ek nie ’n gewone 9-tot-5-beroep wou volg nie, maar eerder op iets meer kreatief wou fokus.

Die eintlike groot droom was om eendag Mej. Suid-Afrika te wees.

Ek onthou nog hoe ’n vriend my by ’n winkelsentrum gaan aflaai het, en ek vir Pa bel om te vra of ek iets mooi vir die oudisie op sy klere-rekening kon koop.

Die hemp wat gekoop is, noem ek vandag nog my Mej. Suid[1]Afrika-hemp. Dit het mooi gepas, maar die oudisie was ’n ramp. Ek was totaal onvoorbereid. Skaam en senuweeagtig.

Toe dit duidelik word dat die Mej. SA-titel nie ’n realiteit gaan wees nie, is daar ernstige introspeksie gedoen. “Hoekom wil ek nou juis dié kroon dra?”

Die antwoord was eenvoudig. Ek wou ’n platform hê om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Dis toe dat die besef tref: Daar is ook ander maniere om dit reg te kry, soos om radio- en TV-werk te doen.

Wat ’n groot voorreg om vandag hierdie droom te leef. Om ’n publieke platform tot my beskikking te hê, al voel ek steeds soos die skaam student van my universiteitsdae.

Ek is werklik gelukkig dat die rolmodelle in my lewe mense van karakter en integriteit is. Mense soos my pa, wat selfs in die moeilikste tye – toe dit makliker sou gewees het om op te gee – nogtans vasgebyt en deurgedruk het.

Hy is vandag nog my grootste inspirasie. Iemand wat hard werk en altyd kalm, koelkop en positief bly. Wat leef om die mense om hom, gelukkig te maak.

Dis ook hoe ek my lewe wil lei.

Die belangrike ding om te onthou, is dat elke kronkel in die pad bloot ’n hoofstuk van leer en groei is. Dis nog nie die hele boek nie.

Vorige artikelDít inspireer my! (Leah)
Volgende artikelMites wat jou huwelik kan verwoes